Share

Nkandla: ‘Zuma sal nie bedank’

Die ANC-strukture hou vol pres. Jacob Zuma sal nie gedwing word om weens die Nkandla-skandaal te bedank nie, maar daar is toenemend kommer dat die agteruitgang van sy gesondheid daartoe kan lei dat hy die tuig sal neerlê vóór sy ampstermyn verstryk.

City Press, susterkoerant van ­Rapport, verneem die ANC is bekommerd oor die skade wat die Nkandla-kwessie aanrig en sal ­Zuma aanraai om ’n deel van die geld wat by Nkandla bestee is, terug te betaal sodra Nathi Nhleko, minister van polisie, en die tesourie bepaal wat dié bedrag moet wees.

Die party hoop dít sal die openbare druk op Zuma verlig.

“Daar is ’n ernstige gesprek aan die gang oor hoe om Nkandla te bestuur. Daar is druk op hom ­(Zuma) om iets te betaal. Die president moet betaal.

“Ons moet duidelike en besliste stappe doen omdat die skade aan die ANC voortdurend na vore kom,” het ’n ANC-leier gister gesê.

Adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), het Zuma in haar Nkandla-verslag beveel om “ ’n redelike persentasie van die koste van die veiligheidsmaatreëls te betaal, in samewerking met die tesourie en in ag genome die departement van openbare werke se toedelingsdokument”.

Die oorspronklike toedelingsdokument is in Maart 2011 deur Bheki Khanyile, bestuurder van openbare werke in Durban, saamgestel.

’n Memorandum wat Khanyile aan Gwen Mahlangu-Nkabinde, voormalige minister van openbare werke, gestuur het, raam Zuma se aandeel in die Nkandla-besteding is meer as R10,6 miljoen.

Zuma se gesondheid is in die nuus sedert hy in Junie ’n kabinetsvergadering weens nekpyne verlaat het en ’n week geneem het om te herstel.

Die afgelope week is gegis hy het Rusland eintlik om gesondheids­redes besoek. Sy enigste amptelike afspraak in ses dae was met pres. Wladimir Poetin. Hy het ook die grafte van Suid-Afrikaanse vryheidsvegters besoek. Luidens ’n verklaring van die regering sou hy benewens ander “laevlak-vergaderings” die res van die tyd rus.

Die Nkandla-skandaal oorheers die nuus sedert Madonsela se skerp brief rugbaar geword het waarin sy Zuma takel dat hy nie genoeg ge­reageer het op haar verslag nie.

Voorverlede week het die EFF ’n parlementêre sitting in chaos gedompel met eise dat Zuma die “geld moet terugbetaal”.

Ofskoon sommige ANC-leiers erken dat Zuma vir die party ’n las raak, het die meeste leiers aan City Press gesê hulle sal nie toelaat dat die EFF of Madonsela die omstandighede voorskryf waaronder Zuma sy amp verlaat nie, en daarom sal hulle hom verdedig.

’n ANC-LP het gesê: “Die EFF gebruik die verkeerde taktiek. Hulle is gefrustreerd dat hulle net 6% het en kan niks deur die Huis druk as ons dit teenstaan nie. Hul fokus op die president maak ons net nóg meer vasberade om hom te beskerm.”

“Dit gaan nie oor Zuma nie,” het ’n ander ANC-LP gesê. “Dit gaan daaroor om die organisasie en die amp te beskerm. Ons weet hy het baie skandale en probleme en natuurlik bekommer dit ons. Maar ons kan nie toelaat dat (Julius) Malema of Madonsela vir ons voorskryf nie.”

Stone Sizane, die ANC se hoofsweep, sê dit voel vir hom asof Malema en Madonsela ’n “persoonlike haat” vir Zuma in hulle dra.
“Enigiemand wat een individu teiken eerder as ANC-beleid, sal misluk.”

Baie ander voel ook so.

’n ANC-lid van die wetgewer in KwaZulu-Natal het gesê: “Daar is geen manier dat ons van Zuma ontslae sal raak nie. Vergeet daarvan. Nie een van die verslae wys dat hy self enigiets verkeerd gedoen het nie, so waarom moet hy bedank? Die verslae het hom kwytgeskeld. Laat hulle wat uitgewys is en die koste opgestoot het, die gevolge dra, nie die president nie. Hy het niks verkeerd gedoen nie.”

’n Senior lid van die ANC-jeugliga het gesê dit is in die belang van almal wat sover voordeel getrek het uit Zuma se bewind om hom in die amp te behou. Maar foutlyne in die party kan wys wanneer die party se nasionale algemene raad in die middel van volgende jaar weer vergader. Dít is waar Zuma se vyande hul eerste skuiwe sal kan maak.

In Gauteng word die messe egter reeds geslyp. Drie lede van die party se provinsiale uitvoerende komitee het aan City Press gesê Zuma moet bedank, of minstens sy Nkandla-skuld delg.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 916 votes
No! It's time to move on ...
33% - 443 votes
Vote
Rand - Dollar
18.81
+1.1%
Rand - Pound
23.43
+1.5%
Rand - Euro
20.09
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.1%
Platinum
922.40
-0.3%
Palladium
960.00
-3.1%
Gold
2,329.87
-0.1%
Silver
27.19
-0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,433
+1.5%
All Share
75,439
+1.5%
Resource 10
62,445
+0.5%
Industrial 25
104,051
+1.5%
Financial 15
16,166
+2.3%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE