Dit is ’n spook wat al loop sedert ’n kompromis meer as 100 jaar gelede aangegaan is om die regeringsfunksies te skei, met Kaapstad as wetgewende hoofstad.
Dié reëling het veral vandag betekenisvolle simboliese waarde, want terwyl die mag in soveel opsigte gesentraliseer is in die ANC-hoofkwartier, Luthuli-huis, in ’n provinsie waar die ANC reken hy minstens nog tot die volgende verkiesing kan regeer, staan die parlement op ’n plek wat knap regeer word deur die DA-opposisie.
Dit grief die ANC. Net soos dit die ANC gegrief het toe Helen Zille, Wes-Kaapse premier, destyds die totstandkoming van die O’Regan-Pikoli-kommissie van ondersoek na polisiëring in Khayelitsha aangekondig het. Wie is Zille om ’n nasionale bevoegdheid soos die polisie onafhanklik te laat ondersoek? Sy sal haar mos wat verbeel, het Nathi Mthethwa, polisieminister, gesê.
Die ANC se verstekvoorkeur is absolute beheer. Skuif alles noorde toe. ’n Kaapse ANC-sege is immers onwaarskynlik. Laat hulle begaan!
Ons moet dié sentralisering beveg, selfs al is ’n Kaapse setel duur.
Kaapstad, waaroor sekere inwoners soms kortsigtig spog hy is “nie soos die res van die land nie”, is onlosmaaklik deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid. Én dit is waar Afrika en die Weste indertyd met mekaar oor die toekoms begin stoei het. Al is dit só dat die parlement hom béter van sy waghond-taak behoort te kwyt, bly dit ’n kritieke teenwig vir noordelike heethoofde, binne en buite die ANC. Hou die parlement in die Kaap.