Aan die ander kant verwag Afrikaanse studente en hul ouers, vir wie elemente in Potch se unieke kampuskultuur kosbaar is, dat Kgwadi net van die slegte ontslae sal raak en nie alles wat uniek aan die plek is sonder meer sal vernietig nie.
Ook Stellenbosch en bepaald Kovsies worstel met soortgelyke vrae oor waar ’n heilsame balans dan lê tussen die konserwatiewe impuls om te behou en bewaar, en die noodsaaklikheid daarvan dat universiteite se rolle op bepaalde maniere aanpas by ’n snelveranderende Suid-Afrikaanse werklikheid.
By Kovsies heers in sekere kringe groot kommer dat ’n dogma van “alles móét verander” die transformasieprojek rig; by Maties is vindingryke projekte onderweg om studente van verskillende rasse op ’n organiese manier aan mekaar se leefwêrelde bekend te stel in die luister-, leer- en leef-projek.
Kgwadi het Vrydagaand begin wys hoe hy die balans wil tref deur te sê hoewel Afrikaans ’n plek het, is dit tans ’n struikelblok vir swart studente, wat ook weens geykte tradisies nie tuis voel by Potch nie.
Onderwysleiers soos Kgwadi wat toevertrou word met die belangrike taak om uitnemende universiteite met kulture van inklusiwiteit te bou, sal respek afdwing onder álle lede van hul onderskeie universiteitsgemeenskappe as hulle erken dat ’n gesonde mate van differensiasie tussen kampusse en universiteite nie die vyand van vooruitgang is nie. Beveg daarom bestuurde eendersheid en bou aktief aan omarmende kampusse waar Afrikaans weerklink.
* Lees ook hier.