Meer as 300 Palestyne is al dood, onder wie 68 kinders, sedert missiele begin reën het op die brandarm Gazastad, ’n gebied kleiner as die Kaapse Skiereiland. Aan die Israelse kant, soos ons vandag op bl. 9 en in Weekliks berig, is sterftes gering danksy ’n tegnologies gevorderde missielskild wat die honderde aanvalle per dag keer van die terroristegroep Hamas, wat sy aanvalle op Israel uit gebiede loods waar baie burgerlikes woon – ’n siniese en dodelike strategie.
Die dood van soveel vroue en kinders is moeilik om te aanskou en moet stop. Baie onskuldige mense in Gaza leef in rou angs.
Maar enige veroordeling van Israel se ystervuis moet getemper word deur die besef dat dié ryk, ongewilde land die reg het om sy inwoners te verdedig teen die bedreiging van terreur.
Dit is gevaarlik en naïef om bloot te sê Israel moet aanvalle stop as Hamas hom nie ook tot ’n volhoubare skietstilstand verbind nie.
Maar net soos die proRussiese rebelle wat vlug MH17 (dalk per abuis) afgeskiet het, is Hamas nie ’n entiteit wat sommer deur die besluite van ’n sentrale regering beheer kan word nie.
Geen skietstilstand in dié kruitvat sal hou nie.
Die enigste oplossing wat aan Israel, wat sy eie saak al soveel skade aangerig het deur hóé hy terugveg, én Palestina werklik sekuriteit kan skenk, is ’n vredesooreenkoms en die wedersydse erkenning van die “vyand” se bestaansreg, elk in sy eie, soewereine staat.
* Lees ook hier.