Op afgeleë plase gaan dit erger. Die vlakke van geweld tydens talle plaasaanvalle, gevalle van marteling en onmenslike lyding beproef baie mense bo hul vermoë. En die nasionale regering weier om sigbaar in te gryp.
Veldtogte soos dié van Sunette Bridges en Steve Hofmeyr wat die soeklig op geweldmisdaad werp, gee uiting aan ’n diepliggende frustrasie met die staat se pligsversuim. Dit resoneer by baie mense wat kwesbaar en geteiken voel.
Maar wanneer moorde versin word, en die kollig eksklusief val op wit vroue se lot en op bose, swart aanvallers, skaad dit die legitieme saak van hulpeloses wat om noodsaaklike regeringsingryping smeek.
Daarom berig ons (sien hier)oor Bridges en Hofmeyr se moordlys. Want om toe te gee, soos wat die feite wys ons moet, dat meer vroue deur hul lewensmaats vermoor word as deur geweldlustige (swart) vreemdelinge, maak nie een enkele moord minder tragies of ernstig nie.
Om ’n saak so ernstig soos geweldmisdaad te politiseer en dan boonop lomp met feite om te gaan – ons sê nie daar is kwaadwilligheid nie, maar minstens nalatigheid – laat ’n wrang politieke nasmaak.
Die lewensbelangrike stryd teen wreedheid en onmenslikheid en moorddadigheid is tog juis iets wat Suid-Afrikaners moet verenig eerder as om ons te verdeel.