Want oor die motiewe van pres. Wladimir Poetin, wat die meer as 200 vragmotors as ’n “humanitêre sending” na die ooste van Oekraïne gestuur het, is die regering in Kiëf en sy Westerse bondgenote erg agterdogtig.
Dr. Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, het haar na Kiëf gehaas om ’n oorlog te help keer nadat sy die aankoms van die konvooi as ’n “gevaarlike eskalasie” beskryf het. Die konvooi het ’n week lank naby die grens tussen die twee lande gewag voordat dit Vrydag sonder die toestemming van die Oekraïnse regering oor die grens beweeg het na Loehansk, ’n stad in die ooste van Oekraïne waar Oekraïnse magte en pro-Russiese rebelle in hewige gevegte om beheer van grondgebied gewikkel is.
Dit is dáár waar Malaysia Airlines se vlug MH17 op 17 Julie neergeskiet is – vermoedelik deur pro-Russiese rebelle wat weier om die gesag van ’n pro-Europese regering in Kiëf te aanvaar.
Anders as met vorige Russiese konvooie wat toegelaat is om Oekraïne binne te kom, is die Rooi Kruis slegs toegelaat om die eerste 37 vragmotors se vrag te inspekteer. Die Verenigde Nasies (VN) het ’n krisisvergadering belê en talle lande het Rusland berispe weens sy “onwettige en eensydige optrede”.
Witali Tsjoerkin, die Russiese ambassadeur by die VN, het ’n opgaaf van die vrag verskaf om te “bewys” die vragmotors vervoer nie wapens na rebelle nie.
Dit vervoer kragopwekkers, suiker, tee en babakos.
Mark Lyall Grant, die Britse ambassadeur by die VN, sê die Russiese optrede is ’n skending van Oekraïne se soewereiniteit.
Maria Lipman, ’n onafhanklike politieke ontleder, sê Rusland is onder druk om sy openbare steun vir die Russies sprekende inwoners in Oekraïne en pro-Moskou rebelle te wys, maar die konvooi was ’n waagstuk.
“Dit het die kanse vir direkte militêre konfrontasie tussen Russiese en Oekraïnse soldate aansienlik verhoog,” sê sy.
Rusland het intussen teruggekap dat hy gereed was om amptenare van die Rooi Kruis te ontvang om die vrag te monitor, maar dat die organisasie nie beskikbaar was nie weens hewige gevegte wat daar woed.
Prof. Dirk Kotzé, dosent in politieke wetenskap aan Unisa, sê die gebeure het ’n substantiewe en simboliese betekenis omdat dit beskou word as ’n inval deur Rusland. “Dit is nou baie belangrik vir die Weste om te keer dat Rusland direk by die oorlog in Oekraïne betrokke raak, selfs al is dit net om humanitêre hulp te verleen,” sê hy.
“Poetin speel ’n interessante spel. Sy besluit om humanitêre hulp te verleen, veroorsaak nou ’n kopseer vir die Weste, want dit lyk asof Westerse lande langs die kantlyn staan en kritiseer, maar nie daar is om hulp te verleen nie,” sê hy.
Volgens hom is Oekraïne se militêre strategie om die rebelle te verslaan en is die Weste se rol daar net om druk op Rusland te plaas om nie betrokke te raak nie. “Ek glo nie daar is ’n kans dat die Weste in ’n oorlog met Rusland betrokke sal raak nie. Dit is wel ’n diplomatieke stryd van wedersydse dreigemente soos tydens die Koue Oorlog.”
Bronne: The National, The Wall Street Journal, AFP, The Telegraph, BBC