Luidens die Suid-Afrikaanse Reklamenavorsingstigting (Saarf) se jongste radiogehoormetingstudie (Rams) skakel Suid-Afrikaners gemiddeld 24 uur en 18 minute per week op die radio in. Verlede jaar was dit gemiddeld 24 uur en 30 minute per week.
Data is van Desember tot Augustus verlede jaar ingesamel.
Volgens Saarf se jongste data is luisteraars geweldig lojaal aan die radiostasies waarvan hulle hou.
Daarby het luisterpatrone merkwaardig stabiel gebly.
Volgens die jongste Rams:
* luister Afrikaanssprekendes in Gauteng Jacaranda 94.2 FM (32,4%), RSG (17,4%), 94.7 Highveld Stereo (11,1%), Talk Radio 702 (5,3%) en 5FM (4,4);
* luister Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap na RSG (26,3%), Kfm (13,7%), Heart 104.9 FM (13,1%), Goeie Hoop FM (11%), Eden FM (7%) en Radio Tygerberg 104 FM (5,7%);
* luister inwoners in Limpopo gemiddeld vier uur en nege minute per dag na die radio, teenoor Wes-Kapenaars wat twee uur en 50 minute na die radio luister;
* is Ukhozi FM die gewildste stasie in die land met 5,6 miljoen luisteraars, gevolg deur Umhlobo Wenene FM (4,1 miljoen) en Lesedi FM (2,4 miljoen);
* is RSG die sewende gewildste radiostasie in die land met 1,2 miljoen luisteraars en 94.2 Jacaranda FM die agtste met 1 miljoen luisteraars;
* het die gewildheid van die 217 gemeenskapsradiostasies in die land die laaste paar jaar geweldig gegroei tot 23,6 miljoen luisteraars;
* het die Afrikaanse gemeenskapsradiostasie Bok Radio se luistergetalle die afgelope jaar gedaal van 126 000 tot 89 000 luisteraars;
* is die meeste mense se radio’s om 07:00 aangeskakel;
* luister 51,9% vroue en 48,1% mans radio; en
* luister omtrent dieselfde persentasie jong mense radio.