Dit kom nadat pres. Jacob Zuma nie die afgelope week daarin kon slaag om ’n ooreenkoms in die politieke krisis in die bergkoninkryk te bemiddel nie.
Suid-Afrika is die grootste aandeelhouer in die waterskema en het reeds miljarde rande bestee aan die projek sedert die ondertekening van die Hoogland-waterooreenkoms tussen Lesotho en Suid-Afrika in 1986.
Dit voorsien Gauteng en die Vrystaat van water. Sou dié voorsiening onderbreek word of die water besmet word, sal die gevolge “rampspoedig” wees, sê Helmoed-Römer Heitman, ’n militêre ontleder.
Daar heers tans groot onsekerheid oor wat die afgedankte genl. Tlali Kamoli, wat tot onlangs die weermaghoof was, in die mou voer.
Kamoli en sowat 2 000 van die land se hoogs opgeleide spesiale magte het ná ’n mislukte staatsgreep drie weke gelede tot die tande toe bewapen die berge in gevlug.
By hulle is waarskynlik ook mortierstelsels wat luidens berigte op Maseru gerig is.
“Sabotasie, aanvalle en lokvalle aan Suid-Afrika se kant deur dié magte kan die situasie van erg na baie ernstig verander.
“Dan word dit ’n volskaalse insurgensie deur die wegbreeksoldate. Suid-Afrika sal geen keuse hê as om sy soldate in te stuur om sy ekonomiese belange in die land te beskerm nie,” sê Heitman.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens pas reeds premier Thomas Thabane en genl. Maaparankoe Mahao, die nuwe weermaghoof, op omdat hulle vergeldingsaanvalle deur Kamoli vrees.
Heitman twyfel of die spesmagte egter so goed opgelei en bewapen is of oor die nodige springstof beskik om die waterpypleidings of damme op te blaas. Hy vermoed eerder dat hulle op interne ingryping sal konsentreer – ingeval Thabane nie aan die opposisiepartye se eise om die koalisieparlement se opskorting op te hef, voldoen nie.
Die spesmagte en berede polisie van Lesotho is deur Brittanje en Suid-Afrika opgelei en volgens Heitman dus nie net ’n milisie nie.
Kobus Breytenbach, visepresident van Vrystaat Landbou, sê wetteloosheid en anargie in Lesotho gaan veral die grensboere en die omliggende gemeenskappe in Suid-Afrika raak.
Oorgrensmisdaad vanuit dié bergkoninkryk is reeds ’n kopseer vir die boere. As ’n vlugtelingsituasie ontstaan, kan ’n onhoudbare situasie ontwikkel.
“Lesotho voer die meeste van sy vars produkte uit Suid-Afrika in. Ons boere verskaf dit. Die daaglikse vragmotors vol kool en ander groente na Lesotho is ook ’n noodsaaklikheid vir die inwoners van dié land.
“Daarsonder kan hongersnood selfs tot erger oorgrensstropings lei,” sê Breytenbach.
Altesame 58% van Lesotho se bevolking leef onder die nasionale armoedegrens, terwyl 20% van die manlike werkers op Suid-Afrikaanse myne werk. Nagenoeg 45% van die inwoners is werkloos.
Tšoeu Petlane, ’n kenner van internasionale aangeleenthede en direkteur van die Transformasie-hulpbronsentrum in Maseru, sê Lesotho se strategiese belang vir Suid-Afrika en die hele streek is tans nog hoër nadat die tweede fase van die hooglandwaterskema in Maart geloods is. “Die eerste fase waartydens twee damme destyds teen $40 miljard gefinansier is, is moontlik gemaak deur lenings van die Wêreldbank wat Suid-Afrika gewaarborg het.”
Petlane sê Suid-Afrika is egter nou alleen geldelik verantwoordelik vir die tweede en groter fase van dié waterskema.
“Tydens die tweede fase sal nog drie ander damme van dieselfde grootte deur Suid-Afrika in Lesotho gebou word.
“Die tweede fase gaan tot 2040 duur met miljarde rande wat deur Suid-Afrika in die skema gepomp sal word.
“Dit kan daarom ook Suid-Afrika se ekonomiese beleid vir die volgende 50 jaar beïnvloed en is die dryfveer agter Suid-Afrika se soeke na water en mag op die vasteland.”
Petlane sê Lesotho is benewens Suid-Afrika ook uiters belangrik vir Botswana en Namibië wat ook water van die Oranjerivier kry.
Die polisie het op dié patrone en wapens by die Makoanyane-barakke buite Maseru beslag gelê. Dit sou volgens die weermag in die mislukte staatsgreep gebruik geword het.
| Foto: Felix Dlangamandla