Share

‘Te siek om te sê’

Die NG Kerk het sy ondersoek gestaak na ds. Solly Ozrovech (88) se beweerde molestering van minstens vier weeskinders dekades gelede.

Die ondersoekliggaam van die ring van Bellville het Vrydag in ’n verklaring gesê hulle kan geen bevinding oor die skuld of onskuld van Ozrovech maak nie.

“Vanweë die fisieke en psigiese onvermoë van ds. Ozrovech om aan homself reg te laat geskied in ’n ondersoek, was dit nie vir die ondersoekliggaam moontlik om die ondersoek te voltooi volgens die kerkordelik-voorgeskrewe prosedure nie,” lui die verklaring wat deur ds. Charl Stander, voorsitter van die ondersoekliggaam, uitgereik is.

Volgens hom is dié besluit oor Ozrovech se “onvermoë” gebaseer op ’n deeglike neuro-psigologiese assessering en psigiatriese evaluering deur twee deskundiges onderskeidelik verbonde aan die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch.

Maar Naas van Zyl, die eerste klaer wat na vore gekom het met die bewerings teen Ozrovech, sê hoewel hy “geen keuse het” as om die kerk se bevindings te aanvaar nie, is hy steeds nie heeltemal gelukkig nie.

Ook Willy Harvie, nóg ’n beweerde slagoffer, dink nie die saak is afgehandel nie.

“Ons is almal vanjaar op 24 Maart Kaap toe om met die ondersoekkomitee van die kerk te vergader, om ’n spreekbeurt te kry, ons kant van die saak te stel.

“Dit het nooit gebeur nie.”

Hy sê hulle is bloot per SMS ingelig dat Ozrovech te siek is.

Harvie sê al die klaers het hul volle samewerking gegee, maar hulle is nog elke keer afgeskiet as hulle hul kant van die saak wil stel.

“Dit is nie vir my reg nie.

“Hoekom is ons nie ’n geleentheid gegun nie?

“Hoekom weier die kerk om ten minste met ons te praat?”

Hy sê destyds het hulle niemand gehad om by te kla nie en “vandag is dit nog steeds so”.

Stander sê egter die ondersoekliggaam het die klagte teen Ozrovech met die “grootste erns en omsigtigheid” hanteer en hom deurentyd streng gehou by die kerkordelike prosedure.

Die prosedure bepaal dat die verrigtinge in die teenwoordigheid van klaers en aangeklaagdes plaasvind en dat vrae oor en weer gestel kan word.

“Daar is nie gepoog om die moontlike skade vir die kerk te beperk nie, ook nie om enige partye ter wille te wees nie.”

Die Ozrovech-familie het by monde van hul regsverteenwoordiger, Jacques Louw, gesê hoewel hulle spyt is dat dit onder die omstandighede nie moontlik was “om die klagte verkeerd te bewys nie”, is hulle tevrede dat die kerk die regte besluit geneem het.

Louw het benadruk Ozrovech en sy familie ontken dat die beweerde dade waarvan die klaers hom beskuldig ooit plaasgevind het.

“Sommige hiervan kan objektief bewys word, wat in die regte forum sal gebeur,” het hy gesê.

Volgens Stander is ’n verslag oor Ozrovech se onvermoë aanvanklik deur Louw voorgelê. Die ondersoekliggaam het daarna ’n onverbonde verslag gekry waarvoor die kerk betaal het.

Adv. Jan Swart, die klaers se regsverteenwoordiger, sê die kerk se besluit was te verwagte nadat hulle verneem het Ozrovech se gesondheid en verstandelike vermoë is nie na wens nie.

“Dit sou ongrondwetlik wees om iemand wat nie die vermoë het nie om die verrigtinge te verstaan – om homself te kan verdedig – daaraan te onderwerp. Ons beskou Ozrovech se ontkenning van die bewerings ook teen dié agtergrond,” sê Swart.

Swart het in Junie ná maande se gesukkel daarin geslaag om ’n klag van onsedelike aanranding, geformuleer ingevolge die destydse wetgewing, by die Wes-Kaapse provinsiale speurdiens in te dien.

Die polisie het intussen bevestig dat die saak na die direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Wes-Kaap verwys is vir ’n besluit oor vervolging. Volgens Swart moet die DOV onder meer besluit of uitsonderings gemaak kan word op die klagte, wat reeds verjaar het.

Die kantoor van die DOV het ­vroeër vandeesmaand bevestig dié saak is na adv. Rodney de Kock, die DOV, verwys vir ’n besluit. De Kock het Vrydag by navraag gesê hy het nog nie die saak onder oë gehad nie.

Volgens Louw dra hulle geen kennis van die klag by die polisie of dat dit na die DOV verwys is vir ’n besluit nie.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 492 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 522 votes
Vote
Rand - Dollar
19.11
+0.4%
Rand - Pound
23.80
-0.4%
Rand - Euro
20.46
-0.0%
Rand - Aus dollar
12.40
-0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
920.40
-1.1%
Palladium
1,026.50
+1.1%
Gold
2,322.61
-0.2%
Silver
27.34
+0.6%
Brent Crude
87.00
-0.3%
Top 40
68,051
+0.8%
All Share
74,011
+0.6%
Resource 10
59,613
-2.2%
Industrial 25
102,806
+1.7%
Financial 15
15,897
+1.8%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE