Die regspan wat die klasaksie teen Transnet voer om die gestroopte bates met rente ter waarde van R79,96 miljard te probeer herwin, het verlede week afgekom op dokumente wat skynbaar wys dat die fonds se trustees – almal werknemers van Transnet – besig is om die fonds se reëls só te wysig dat hulle die fonds kan ontbind.
Die hofsaak, wat gratis gevoer word deur twee van die land se top-advokate, Jaap Cilliers, SC, en Leon Kellerman, SC, begin Maandag in die hooggeregshof in Pretoria. Hulle gaan die hof om goedkeuring vra dat hulle namens 62 160 erg verarmde pensioentrekkers ’n klasaksie kan begin om sowat R79,963 miljard – bates en rente daarop – van Transnet terug te eis.
As die hof die aansoek goedkeur, sal dit die begin wees van verreweg die grootste klasaksie wat nog in die land se regsgeskiedenis aangehoor is. Die gemiddelde ouderdom van die pensioentrekkers is 77. Hul gemiddelde pensioen is R2 850 per maand. Die regspan is ook ’n vervroegde hofdatum belowe omdat voeteslepery deur Transnet en van die ander verweerders die saak reeds onnodig vertraag het.
Brian Molefe, uitvoerende hoof van Transnet, het vroeër in ’n woedebui teenoor Rapport dit duidelik gemaak dat die lot van die pensioentrekkers hom nie aangaan nie omdat hulle “begunstigdes van apartheid is”. Hy het later ontken dat hy dit gesê het.
Rapport het Vrydag kopieë ontvang waaruit die voorgestelde verandering aan die reëls blyk. Wynanda Coetzee, opdraggewende prokureur in die saak, sê die dokumente het op 24 Maart voor die trustees van die pensioenfonds, die Tweede Transnet Vaste Voordeelfonds, gedien.
Die wysigings is teksgereed vir aanvaarding en is duidelik deur regsgeleerdes en kundiges oor pensioenfondswetgewing opgestel.
Die wysigings aan die fondsreëls maak voorsiening daarvoor dat die fonds in opdrag van Transnet ontbind kan word. Wysigings aan die Transnet-pensioenfondswet maak voorsiening vir die likwidasie van die fonds.
Transnet het Vrydag deur ’n woordvoerder, Vive Tlaleane, gesê hy is nie bewus van enige “formele proses” om die reëls van die fonds of die Transnet-pensioenfondswet te wysig nie. “Gesprekke hieroor is intern in die fonds se raad van trustees. Die dokumente is dus vertroulik,” het Tlaleane gesê.
Die raad van trustees is egter ten volle onder beheer van Transnet. Vier van die ses raadslede is werknemers van Transnet. Die voorsitter van die raad is ’n nie-uitvoerende lid van Transnet se direksie. Dit is dus onwaarskynlik dat Transnet nie op topvlak van die planne weet nie.
Die fonds en sy administrateur, Metropolitan, is die eerste verweerders in die aansoek om ’n klasaksie te begin. Die ander verweerders is Transnet self, Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, Nhlanhla Nene, minister van finansies, en pres Jacob Zuma.
Daar was aanvanklik 65 000 pensioentrekkers, maar hulle het ná afsterwes tot 62 160 verminder. Verskeie het selfmoord gepleeg weens hul haglike omstandighede. Sowat 53% van hulle is wit, 33% is swart en 13% is van ander rasse.
Johan Pretorius (69), een van die twee pensioentrekkers wat die eis namens die 62 160 pensioentrekkers indien, sê in ’n eedsverklaring die tekort in die pensioenfonds het ontstaan omdat Transnet in 2001 die fonds se belangrikste bate, skuldbriewe ter waarde van R7,7 miljard, verruil het vir aandele in MTN, destyds M-Cell, waarvan die waarde in 2001 R1,395 miljard was.
Die skuldbriewe het tot in 2001 aan die fonds ’n jaarlikse inkomste van R1,2 miljard besorg. Daar is egter geen aanduiding dat die fonds enige inkomste uit die M-Cell-aandele gekry het nie.
Sedert die skuldbriewe vir die M-Cell-aandele verruil is, is die verhogings van die aanvanklike 65 000 pensioentrekkers tot 2% per jaar beperk. Dit is heeltemal teenstrydig met vorige besluite dat die jaarlikse verhogings in pensioene minstens 70% van die inflasiekoers moes dek.
Die stropery van die fonds se bates het eers verlede jaar aan die lig gekom toe die twee advokate, Cilliers en Kellerman, toegang tot die fonds se state gekry het.
Cilliers en Kellerman lewer hul dienste gratis vir dié hofsaak. As die saak slaag, sal hulle teen gewone tariewe onder toesig van die Balieraad vergoed word, maar as die saak misluk, kry hulle geen vergoeding nie.
Brian Molefe, uitvoerende hoof van Transnet, het vroeër in ’n woedebui teenoor Rapport dit duidelik gemaak dat die lot van die pensioentrekkers hom nie aangaan nie omdat hulle “begunstigdes van apartheid is”.| Foto: Nelius Rademan