Ander seuns van sy ouderdom sit ná skool voor die rekenaar, iPad of TV.
Maar François Malherbe (10) van Stellenbosch hou hom besig met ’n heel ander stokperdjie: Hy herbou die skelette van road kill.
Wat sowat twee jaar gelede begin het as François se nuuskierigheid om te sien wat aangaan onder die vel van ’n mol wat deur die kat ingedra is, het nou al ’n familiestokperdjie geword.
So van saam-saam road kill optel en ander wilde diere verwerk wat mense aandra, staan die Malherbes se huis deesdae vol van 200 skedels en 40 skelette, alles van ’n uil en erdvark tot ’n springbok, rob, ratel, pelikaan en selfs ’n krokodil.
François vertel hoe dié eienaardige stokperdjie begin het: “Ons kat het op ’n dag ’n dooie molletjie in die huis ingedra. Ek was nuuskierig en wou sien hoe die mol onder sy vel lyk.”
Hy het die molletjie in die erdwurm-komposhouer in die tuin gaan sit en gewag dat die wurms die skelet skoonvreet.
“Toe het ek en my pa die mol se geraamte op ’n houtbordjie uitgelê en vasgeplak,” vertel François. “Dit is soos om ’n legkaart te bou.”
Sedertdien was vakansies nooit weer dieselfde nie.
“As ons op vakansie gaan, stop ons elke paar kilometer met skreeuende bande as iemand in die motor ’n dooie dier langs die pad raaksien,” sê ma Nicky.
“Dan moet ons dit maar oplaai... My enigste reël is dit mag nie stink nie!”
Dáárom die lugdigte houers wat altyd agter in die motor saamgery word. Net vir ingeval.
François wil eendag ’n veearts word.
Hy verduidelik die proses: Eers sit hy die dier in die vrieskas vir ’n tyd, slag die vel af, sny die meeste van die vleis tussen die bene uit en sit die skelet in ammoniak tot net die wit beentjies oorbly. Daarna begin hy en pa Donnie die skelet-legkaart weer aanmekaar sit.
“Ek is ’n kranige hengelaar en van kleins af wou François altyd die tande van die visse hê wat ek vang,” sê Donnie.
“Ons het nie geweet wat hy daarmee doen nie, tot sy ma eendag ’n laai in sy kamer oopgemaak het waar al die tande, viskoppe en hoenderbeentjies gelê het.
“Jy moet sien hoe lyk sy kamer vandag. Oral is skedels en skelette!”
Stories oor François se raar-maar-waar-stokperdjie loop nou al so ver dat mense die Malherbes kontak wanneer hulle dooie diere langs die pad sien.
“Ons kry elke nou en dan ’n oproep van vreemde mense.
“As ek weer sien, spring die manne in die motor om die dier te gaan haal,” sê Nicky.
Dieretuine in die omgewing en Butterfly World in Klapmuts druk ook gereeld op Donnie se nommer as interessante diere in hul besit vrek.
Maar dis nie sommer net vir speel nie, beklemtoon Donnie.
“Ons begin nie met ’n nuwe projek voor François nie navorsing oor die dier, sy habitat en sy eetgewoontes gedoen het nie.”
Nie baie van sy vriende is gaande oor sy stokperdjie nie, erken François.
“Ek het een vriend wat daarin belangstel en my darem gelukwens as ek nóg ’n skelet klaargemaak het. Die ander sê dis indrukwekkend, maar probeer dan so vinnig as moontlik van die geraamtes wegkom.”
En wat as die meisies eendag begin aanklop?
“Dit gaan ’n bitter goeie toets wees om te kyk of sy regtig lief is vir my seun,” lag Donnie.
François hou een van 200 van sy skedels vas in sy pa, Donnie, se studeerkamer.| Foto: LIZA VAN DEVENTER