Adj.pres. Cyril Ramaphosa is nog nie gereed om aan Suid-Afrikaners te verduidelik presies hoe hy ’n belangebotsing tussen sy openbare amp en sy enorme private sakebelange gaan keer nie.
Ramaphosa, wat in Desember 2012 adjunkpresident van die ANC geword het en vier maande gelede ook van die land, is een van Afrika se rykste mense en het ’n geskatte rykdom van meer as $700 miljoen volgens die Amerikaanse finansiële nuusdiens Forbes.
Ramaphosa se belange was voorheen al omstrede. Hy was ’n nie-uitvoerende direkteur van Lonmin toe die Marikana-tragedie hom in Augustus 2012 afgespeel het.
Hy het wel ná sy verkiesing tot adjunkpresident van die ANC hiervan afstand gedoen, maar sy destydse belange word nou nog opgehaal in debatte oor Marikana.
Ramaphosa het steeds uitgebreide belange.
Die Shanduka-groep, waarin die Ramaphosa-familie se Tshivhase-trust ’n 30%-aandeel van nagenoeg R6 miljard besit, is onder meer die grootste aandeelhouer in McDonald’s Suid-Afrika, waar sowat 8 miljoen mense elke maand eet, en het groot belange in Coca-Cola Shanduka Beverages, asook in steenkoolmyne, platinum, goud, diamante en kommunikasie.
Die enigste rykdom wat hy twee weke gelede in die parlement se register van ledebelange verklaar het, was aandele van R76 miljoen, 32 eiendomme en die familietrust.
Rapport het die afgelope week probeer vasstel presies hoe die “blinde trusts” gaan funksioneer waarin Ramaphosa sê sy familie se sakebelange gestort gaan word. ’n “Blinde trust” beteken dat die begunstigde, in dié geval Ramaphosa, geen beheer oor of selfs kennis het van die trust se aktiwiteite nie.
In teorie voorkom dit ’n belangebotsing omdat Ramaphosa nie behoort te weet wat met sy beleggings gebeur nie.
Ramaphosa se kantoor wou egter nie bekend maak presies hoe dié nuwe entiteite funksioneer nie omdat hulle nog opgestel word en Shanduka en sy familie se bande daarmee nog geherstruktureer word.
Dit word gedoen sodat hy aan die etiekkodes vir kabinet- en parlementslede voldoen, wat op die oog af mik om belangebotsings te keer.
Hy het tot die einde van November tyd daarvoor.
“Dit is vir hom baie belangrik dat daar nie ’n wesenlike óf skynbare belangebotsing bestaan nie,” sê ’n bron na aan Ramaphosa.
Selfs dán sal die publiek egter steeds Ramaphosa se woord moet aanvaar as hy sê alles is pluis.
Talle kenners is skepties en sê blinde trusts se vermoë om iemand van die beheer van hul bates te ontneem hang af van hoe die trust opgestel word en watter magte en beperkinge op trustees geld.
Slegs as álle inligting oor ’n blinde trust bekend is, laat dit behoorlike oorsig toe, sê Gavin Woods, ’n voormalige voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en lid van die Globale Organisasie van Parlementariërs teen Korrupsie (Gopac).
In die jongste belangeverklaring van parlementslede was Ramaphosa een van 22 ANC- LP’s wat naas 9 DA-LP’s, ’n LP van die AIC, en die EFF-leier, Julius Malema, gesê het hulle het belange in ’n trustfonds.