Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Die vet weet: Die koue se kloue

Deur: Lywige Lena 2012-07-17 13:39
Net toe ek begin dink die winter het die Hoëveld vanjaar ge-skip, slaan die koue sy kloue in ons in. Die fout wat ek gemaak het, is om dit hardop te sê. Dis soos om die noodlot te tart.
 
Net soos ek Donderdagaand vir my man gesê het: “Haai, is dit nie wonderlik nie? Ek was hierdie winter nog net een keer siek!” Toe word ek so twee-uur Vrydagoggend wakker met ’n hengse keelseer.
 
Vrydag en Saterdag het ek myself probeer nurse, want ek kry gedurig sinusitis in die winter. Teen Sondagoggend het ek besef dié keer gaan dit nie werk sonder antibiotika nie, hoe hard ek ook al teen die prikkels probeer skop. R421 later vir ’n doktersafspraak (want dis na-ure, en my mediese fonds se spaarfonds is uitgeput) en R378 vir medisyne is ek pens en pootjies terug in die bed. Dis vriesend koud, so my vere-duvet is ’n seën. Ek slaap van 10:00 tot 17:00, asof ek die vorige aand niks geslaap het nie. Dwarsdeur etenstyd. Nie ’n goeie ding om etes oor te slaan nie, ek weet.
 
Die dokter het my afgeboek tot vandag. Dit voel vir my of ek my kollegas in die steek laat, maar ek voel so goor dat ek die skuldgevoel ignoreer. Dis so koud dat ek lus is vir niks. Ek twyfel sterk of dit regtig so is, maar ek kan sweer mens verbrand meer kilojoules in die koue. Ek het nou al altesame 13,3 kg verloor sedert April!
 
Die interessante ding van my nuwe eetbenadering (meer proteïen, minder koolhidrate) is dat ek nie naastenby so honger raak nie. Ek kry ook nie so baie cravings nie. Ek het wel weer koolhidrate een tot twee keer per dag (soggens en/of smiddae) begin eet sodat ek nie so moeg raak nie, maar ondanks my vrese het ek niks gewig opgetel nie. Ek eet nou net glad nie saans koolhidrate nie, want ek weet my liggaam gaan dit nie verbrand nie.
 
Vir ontbyt eet ek een van die volgende: hawermoutpap en 1%-melk; of ’n sny lae-GI-roosterbrood saam met een gekookte eier óf ’n porsie gestoomde skelvis óf geblikte sardiens saam met ’n paar skyfies tamatie. Vir middagete sal ek dalk ’n halwe koppie bruinrys of patat saam met my proteïenporsie en groente eet, en die naaste wat ek saans aan koolhidrate kom, is botterskorsie en wortel. Wanneer ek vir ’n ete nié koolhidrate eet nie, eet ek proteïen in die plek daarvan. Dan eet ek steeds een vrug per dag en genóég groente vir die vesel en al die wonderlike vitamiene. As ek deur die dag honger voel, eet ek ’n 100 g-houertjie vetvrye jogurt, en wanneer ek in die middag by die huis kom, eet ek ’n paar kasjoeneute voordat ek met my honde gaan stap. Só bly my bloedsuikervlakke konstant.
 
Behalwe vir die gewig wat ek verloor het, voel ek my grootste prestasie tot dusver is dat ek nie meer lewe om te eet nie – ek eet om te lewe. Ek eet oor die algemeen veel gesonder, en ek geniet steeds my kos, maar sonder om my te vergryp. En ek raak nie meer lus vir brood of pasta nie! (Ek het wel gisteraand ’n glas glühwein gedrink, maar dit bevat darem net 7,5% alkohol!)
 
Vantevore wanneer ek siek geword het, het ek myself getroos met lekker kos. Hierdie keer het ek nooit gevoel ek het dit nodig nie. Dit voel regtig vir my of ek ’n ommekeer gemaak het.
 
Ek hoop om gou weer goed genoeg te voel om met my honde te begin stap. Ek móét Sondag reg wees vir die 702 Walk the Talk-pretloop.

«Terug