Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Die vet weet: Die sielkunde daaragter

Deur: Lywige Lena 2012-06-28 14:35
Die laaste paar dae was vir my ’n bietjie frustrerend. Ek bly "eterig". Ek verstaan weer eens waar die term comfort eating vandaan kom.

Ná ’n wonderlike week van vakansie by my ma waarin ek my - dieetgewyse - goed gedra het, het ek die naweek besonder koud gekry, en sedert Maandag is ek ook besig met opleiding by die werk wat skynbaar vir my moeiliker is as vir die res van die klas. As ek onseker voel of koud kry, wil ek meer eet. Dis uiteraard sielkundig, soos my dieetkundige, Danny, sê.

Ek het ook nie regtig die laaste paar dae tyd gekry om vir myself gesonde kos te maak nie, so ek het sedert Maandag elke oggend die muffin geëet wat die kursusorganiseerders aan die deelnemers verskaf. En middagete iets by die kafeteria gaan koop.

Teen Dinsdag al het ek besef dit kan nie só aangaan nie; ek is besig om al die goeie resultate van my dieet weg te gooi (lees: op te eet). Toe ek myself weeg, kan ek sweer ek het 2 kg opgetel. (My skaal is nie baie presies nie, though. Dis ’n elektroniese skaal, maar dit bou ’n geheue op en wys vir jou dieselfde gewig as ’n vorige keer.) Toe gaan stap ek maar die middag ná werk 'n ent verder as gewoonlik met die honde.

Gister kon selfs die gedagte aan ekstra kilogramme my nie motiveer om in die koue te gaan stap nie. My PVR-opname van MasterChefSA was net veel interessanter. (Sien jy die patroon raak?)

Dis hoekom ek besluit het ek kan nie nou nog ophou rook ook nie, al het ek heelweek by ma nie aan 'n sigaret geraak nie. Want dit help om minder honger te voel. That's my reason and I am sticking to it. Al weet ek dis totale nonsens. Capisci?

My medestryders van die Facebook-groep "Ek kan!!" reken ek moet liewer groentesop eet - "sonder die broodjie daarby, natuurlik!", aldus Leonie ¬ of ’n bottel Bovril by die werk aanhou en dit in kookwater inroer en soos sop drink. Ek probeer, ouens, maar ek bly lus vir brood. ’n Geroosterde kaastoebroodjie, om presies te wees.

Maar oukei faain, ek wend ’n hernude poging aan. Van hierdie presiese oomblik af. Ek het reeds gistermiddag my verwarmer se gaspottel laat volmaak sodat ek nie dink ek is honger omdat ek eintlik koud kry nie. Geen wyn, geen whisky, baie water, kruietee om warm te bly. Besig bly: Dis seker eintlik die antwoord.

Is daar nie iemand wat my wil leer hekel nie, sodat my hande kan besig bly? Asseblief?

En het enigiemand vir my raad hoe om minder te crave vir brood? Is hier nie dalk ’n sielkundige wat my blog lees nie? Ek het regtig hulp nodig.  Anders moet ek dalk maar harder gaan soek na daai Overeaters Anonymous venue.

Ek wens ek kan iemand kry wat beskikbaar is om elke middag op dieselfde tyd saam met my te gaan stap.

Eintlik wens ek my ma was hier om elke dag vir my te preek.

«Terug