’n Mens se onderbewussyn is darem maar ’n vreemde ding. Ek droom laas week ek eet ’n hele boks vol doughnuts op. Alles in een sitting. Hulle is versier met die mooiste versiersuiker, alles in pastelkleure. Daar is ’n pienke, ’n bloue, ’n groene, ’n appelkooskleurige, ’n turkoois een en ’n ligperse. Ek stop die een ná die ander in my mond.
Selfs in my slaap dink ek by myself: Hoekom doen jy dit? Jy is mos nie honger nie? En dis nie eens so verskriklik lekker nie. Hou op! Hou op!
Toe ek wakker skrik, is ek skoon natgesweet, maar ek is geweldig verlig om te besef dit was net ’n droom.
Ek het dieselfde soort drome gehad toe ek in die verlede opgehou rook het. Ek droom ek steek ’n sigaret aan en trek die rook behaaglik in my longe in. Terwyl ek weet hoe sleg dit vir my is. Maar ek rook skelm waar niemand my kan sien nie. Soos ek altyd skelm geëet het waar ek gedink het niemand kan my sien nie. Hoekom doen mens goed wat jy weet sleg is vir jou?
Elkgeval. Blykbaar is nie alles sleg vir jou nie, al dink jy so. Ondanks die feit dat ek die afgelope week elke aand een blokkie sjokolade geëet het, het ek steeds Saterdagoggend by Danny 1,6 kg minder op die skaal geweeg as twee weke tevore. Ek het uiteindelik die sielkundige 110 kg-merk oorgesteek! Sy bevestig my vermoede: As jy jouself alles ontsê, gaan jy net erger daarvoor crave. Deur jouself te dissiplineer en elke dag net één blokkie sjokolade te eet, keer dit dat jy só daarna smag dat jy uiteindelik ’n hele slab verslind. Of ’n hele boks doughnuts.
Ek het die afgelope week dit ook reggekry om saans net water, rooibostee of suikervrye koeldrank te drink. Behalwe die naweek, toe dit so vrek koud was. Teen Sondagaand was die bottel marsala half.
Maar ek is baie ingenome om te kan sê ek het nog 9 cm verloor: 2 cm om my heupe; 2 cm om my middel; 3 cm om my heupe en 2 cm om my dye! Daar is nou selfs meer van my ou jeans waarin ek weer kan pas. Dis soos om ’n hele nuwe klerekas present te kry. Ook bloese wat om my arms gespan het, sit nou nogal mooi.
Om dit in perspektief te plaas: tjek hier. Dis my mates en gewig van 19 Maart tot nou toe:
Gewig: 117,3 kg - 109,6 kg
Bors: 112 cm - 110 cm
Middel: 115 cm - 101 cm
Heupe: 144 cm - 132 cm
Dye: 80 cm - 75 cm
Arms: 38 cm - 35 cm
Altesame dus minus 36 cm!
Mense begin ook raaksien dat ek skraler is. Dis so lekker om komplimente te kry en dit spoor my aan om op die smalle weg te bly. Ek doen sommer meer moeite met my voorkoms - dra steweltjies met hakke pleks van my afgeleefde, gemaklike ses jaar oue tekkies. Dra juwele, grimering, laat my hare sny en kleur.
Danksy my blog het ek ’n Facebook-groep, genaamd Ek kan!!, ontdek waar mense mekaar ondersteun en aanspoor in hul gemeenskaplike stryd om gewig te verloor. Dit help baie om wenke van ander mense te kry wat met dieselfde dinge sukkel as ek. Daar is van mense wat net ’n paar kilogram wil afskud tot mense wat meer as 100 kg moet verloor, en dit regkry! Ek kry idees vir gesonde happies en disse wat lekker genoeg is om selfs vir gaste voor te sit. Ek het self ook weer met kos begin eksperimenteer en opnuut besef botter en room en hope kaas is onnodig. Mens kan jou kos soveel smaakliker maak met kruie, speserye, knoffel, gemmer, suurlemoen, sojasous... My gunstelingresep tot dusver, is ’n puttanesca-sous waarby ek volstruismaalvleis (basies vetvry) of lensies voeg. Al moet ek dit nou self sê, dis yummy.
PUTTANESCA MET VOLSTRUISMAALVLEIS(5 porsies)
Lekker geurig met die tamatie, kappertjiesade en olywe.
1 e olyfolie
1 groot rooi-ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 t gekapte vars gemmer
1 e kappertjiesade, gekap
1 klein rissie gekap (met pitte as jy hou van zing)
2 ansjovis-filette, fyngekap
500 g volstruismaalvleis
½ geel soetrissie, in blokkies gesny
½ pakkie knopiesampioene, in skyfies gesny
5 zucchini, in ringetjies gesny
2 x 400 g-blikkie geskilde, gekapte tamaties
1 t bruinsuiker
½ k gekapte swart/calamata-olywe
1 t Italiaanse kruie
1 t sout
varsgemaalde swartpeper na smaak
grof gekapte vars koljanderblare
1. Braai die ui oor matige hitte in die olie tot sag en amper bruin.
2. Voeg die knoffel, gemmer, rissie en ansjovis by en braai vir nog 'n minuut.
3. Voeg die soetrissie by en braai vir so 2-3 minute.
4. Voeg die tamaties, bruinsuiker, kruie, sout, peper en kappertjiesaad by. Roer en bring tot kookpunt. Laat prut vir sowat 30-45 minute totdat die tamatie ’n lekker dik sous begin maak.
5. Voeg die olywe by en roer deur.
6. Garneer met vars gekapte koljander.
7. Sit voor met 'n sny ciabatta of jou toegelate porsies bruinrys of pasta.