Tiaan het “amptelik” in April 2012 aangesluit by my reis as reisgenoot, en ek is “gekys”. Ons gaan dus vas uit. Op my lewensreis is hy een van die reisgenote wat by my reis aangesluit het en die lewe ‘n beter plek maak. ‘n Minder eensame plek.
In my hart voel ek diep geraak deur Tiaan se “wit”, skerp humor en die liefde vir die lewe wat ons deel.
My hartjie is bly dat ons paaie gekruis het, en my lewe het van trajek verander. Ek is nou weer op die boeremanier betrokke in ‘n verhouding en soos tipiese boeremense wou my sussie al in April sommer weet wanneer die troudatum sou aanbreek. Vliegkaarjies van Australië na Suid-Afrika is besonder duur in Desember moet ek van meet af verstaan. Asseblief net nie Desember nie.
Tiaan is aanvaar as mede-reisgenoot in my sussie se lewensreis sonder dat sy hom nog ontmoet het. Dit is baie soos wat ek klein Isla, haar dogtertjie, aanvaar het as mede-reisgenoot sonder dat ek haar nog in lewende lywe ‘n drukkie kon gee. Dit is die lewe wat baie van ons deesdae aanvaar met familie en geliefdes oorsee.
Ek word bederf deur my mede-reisgenote, ons is goed vir mekaar. Ons is saam op reis en dit bring mee dat ons op die tipiese boeremanier mekaar se laste dra en in vreugde deel.
My woordeskat is die afgelope tyd baie aangevul soos byvoorbeeld: “ons eet alweer geil”. En natuurlik die woord “boeremanier”.
Noudiedag was daar soos in ‘n goeie boereverhaal op televisie ‘n begrafnis in die storielyn. Op die begrafnisdag oornag ek by Tiaan aan die voet van Moreleta in Pretoria. Daardie aand slaap ek besonder onrustig en so teen twaalf besluit ek om eerder warm tee te maak en eerder in die sitkamer op die bank te gaan rus as om hom te pla.
Die volgende oggend was dit baie snaaks om te hoor hoe Tiaan se ma reken sy het onder ‘n stereo-snorkuitsending moes probeer slaap. Twee uur het sy moed opgegee. Ek was so toegewikkel op die bank dat sy eers met opstaantyd kon vasstel wie op die bank geslaap het.
Nietemin word ek vroegdag afgelaai by die Gautrein-stasie, want ek moes ongelukkig weens werksverpligtinge die begrafnis systap. Die blog is so ry-ry gebore op die trein. Die blogs het ‘n vreemde effek op my. Ek voel heeltyd die blog behoort op ‘n sekere standaard te wee. Ek voel ook dat ek soveel verduidelik het op my blogs dat ek steeds verbaas is hoeveel ek nog my opinies moet beduie. Die tipiese vraag is: “Wanneer het jy besluit jy is gay?” Ek kan seker terugantwoord: “Wanneer het jy besluit jy is straight”. Maar so skoorsoekerig is ek nie. Ek probeer geduldig wees sodat mense kan verstaan.
Wanneer mede reisgenote verstaan, word die saad gesaai van wedersydse respek en liefde.
Ek erken ek het liefde nodig, die opregte soort. Soms sit die trane vlak agter in my oogkaste, reg om te vloei. Dit gebeur as mede-reisgenote met my sukkel, en ook as ek my medemens sien ly. Ek het nog nooit geglo in die “big boys don’t cry”-filosofie nie. Ons lewens het genoeg stampe en stote. Dus gun ek alle mense liefde en menseregte. Ek besef dat gay-wees vir baie in misterie gehul is. Daar is hoop en daar is liefde. Ek wens dat die hoop en liefde alle harte sal raak, en veral as ‘n gay reisgenoot jou pad kruis. Ek weet hoe vreesbevange baie mense nog vasgevang loop in die rolle wat die samelewing ideaal voorskryf. Dit is soos om in ‘n selfgemaakte tronk te bly.
Christus het juis gekom om ons vry te maak van die bose.
Vry te maak van die bose binding wat mense blind maak om te voel en te weet dat gay-wees ook goed is.