Nou die dag luister ek op ‘n Pretoriase radiostasie na retoriek wat vir my oor wesensvreemd geraak het. Dit is die retoriek van sekerhede, sekerheid oor die feit dat God die huwelik ingestel het en die voordele daarvan. Sekerheid oor God se leiding en die sekerheid van God se liefde en ontferming.
Dit is soos klanke wat ernstig “off-pitch” is op my oor. Na my mening gaan dit eerder oor die reis van twyfel, oor God wat nog steeds ontvou in die ontploffende heelal. ‘n God wat nog steeds gebeur en nog nie arriveer het nie is my God. Dit is die God wat ek nie heeltemal kan vervat in enige menslike woorde nie.
Die sekere radiostasie-woorde laat my dink aan die klein seuntjie wat in die kerk in die gangetjie gestaan het en vir die dominee gese het: “Jy sal nog so 'God' en 'Here', dan moer my pa jou”. Ek is sommer deesdae moerig as ek hoor mense is so seker oor God se wil wat in hulle ore gefluister word. Ek het God nog nooit iets hoor sê nie.
Hierdie tipe retoriek het veroorsaak dat mense haat distilleer uit die Bybel en sodoende mense gesel met denke wat eintlik met ‘n liefdevolle God niks te doen het nie. Mens weet uiteindelik jy het God na jou eie beeld geskape as 'n God wat dieselfde vyande as jy het. Ons werk heerlik mee aan die Godsbeelde wat ons van hou.
Die ander dag hoor ek by my kind dat ek waarskynlik in die hel gaan opeindig omdat ek al lankal nie meer bid vir kos nie. Dit is die algemene retoriek wat by die skool verkondig word deur die gesagsfigure. Hierdie retoriek is ook die een van sekerhede.
Ek wonder in hoe 'n mate kinders geleer word om vir hulself, krities, te dink. Eintlik weet ek dat kritiese denke glad nie aangemoedig word nie. Die strukture van gestolde sekere kennis is stadig besig om enige kreatiwiteit en lewe te smoor in leerders se denke. Enige struktuur van onderdrukking is volgens my teen die goeie boodskap van die “Gees”.
Evolusie word vandag nog ‘n karikatuur gemaak op skool, indien daar enige iets sinvols daaroor geleer word. Dit help niemand om die evolusieteorie se gapings te vul met niksseggende kreasionistiese woorde nie.
Dit help niemand ook regtig om byvoorbeeld eerder die naam Jesua te gebruik in plaas van Jesus nie. Al wat ek daaruit agterkom is dat daar groepe is wat ontevrede is met die dogmatiesiese verstarde formulering van die Christelike leer. ‘n Eenvoudige alternatief is om die tradisie te verwerp. In plaas daarvan dat daar ‘n ander metode van uitleg en hermeneutiek gevolg word is die keuse eintlik dieselfde metodiek met ander woorde. Daar word gepoog om met ander woorde in effek die fundamentaliste te kritiseer, maar daar word self ‘n fundamentalistiese alternatief gelewe. Die probleem is dat daar nog steeds in ‘n sirkel van sekerhede geredeneer word.
Ek hou meer van spriraaldenke, oop sirkels wat nooit weer raak nie want dit laat die moontlikheid van ware kreatiwiteit oop. Hierdie kreatiwiteit speel sigself af in die kader van Godsgebeure en kreatiewe skepping. Eenvoudig gestel is God ook besig om te gedy en uit te brei as deel van die universum wat ons ken. Die skeppingsgebeure en Godskennis is dus nie afgesluit nie.
Ek voel baie soos die seuntjie wat met sy hande in die sye vir die Dominee berispe: “Jy sal nog so 'God' en 'Here', dan moer my pa jou”.
Want dikwels weet die spreker so min van die God en Here af, soos ‘n klein seuntjie wat nog met die onskuld van ‘n kind se perspektief weet die woorde wat met soveel sekerheid gebesig en gepreek word meestal onvanpas aangewend word.