Die gróót liefde in prins Charles se lewe is vandag 65.
Camilla Shand was 'n aantreklike jong vrou toe sy prins Charles in haar twintigs ontmoet het. Sy was slank, met haar ligte hare wat sag om haar gesig vou, en het baie van die aantreklike jong Prins van Wallis se belangstellings gedeel.
Hul verhouding was intens, maar toe Camilla wil begin nesskrop en Charles op 'n lang oorsese besoek vertrek, het Camilla die aantreklike Andrew Parker-Bowles se huweliksaanbod aanvaar.
Of hulle ooit gelukkig getroud was, dié sal 'n mens nou nie weet nie. Skindertonge wil dit hê dat Andrew se oog baie maklik gedwaal het, maar hy en Camilla het bymekaar gebly ter wille van hul twee kinders.
Haar verhouding met prins Charles is verbreek of hervat in verskillende fases van hul lewe –- dit hang ook natuurlik af van watter biograaf se vertelling van die “waarheid’’ jy glo.
Maar dié feit troon bo al die ander uit: Camilla is die vrou wat Charles gelukkig maak.
Ná sy egskeiding van Diana het Charles vasgeskop dat hy nie bereid om Camilla op die agtergrond te hou nie. Sy was, “ononderhandelbaar’’. En die spindokters op Charles se personeel het bitter hard gewerk om Camilla se beeld as huweliksjakkals te laat vervaag.
Die belangrikste faktor in die “rehabilitasie’’ van Camilla is seer seker William en Harry se aanvaarding van hul stiefma. Dit was glo nie 'n maklike proses nie, skryf Penny Junor in haar boek
Prince William – The Man Born to be King, maar albei seuns het gesien hoe gelukkig Camilla hul pa maak.
En dit is miskien hier waar Camilla die grootste regmerk in my boekie kry. Sý is die een wat nog al die jare die prins van Wallis gelukkig hou. Die een wat hom gedra het in die dae ná Diana se dood, die een wat wyslik besluit het om geheel en al uit die openbare oog te verdwyn ná daardie traumatiese dae einde Augustus 1997.
Van die gehate derde persoon in Charles en Diana se huwelik wat ná alles op die lappe gekom het, selfs met broodrolletjies in n winkel gegooi is toe sy gaan inkopies doen het, is daar deesdae nie meer veel te sien nie.
Sy het haarself ingeburger in die koninklike familie, en is seker die persoon wat naas prins William vir Kate Middleton die meeste kon help om Catherine, hertogin van Cambridge te word.
Verlede jaar, op die vooraand van die troue, was daar n groot geskarrel oorkant die pad waar ek my skuins oorkant Clarence House tuisgemaak het vir William en Catherine se troue. Weens die verkeer in die Mall kon ek nie oor die pad kom nie, maar Camilla het uit Clarence House gestap gekom en met mede-kampeerders gesels.
Daar was drukkies en gille van opgewondenheid. Ek, as vurige Diana-ondersteuner, was verwonderd oor dié ontvangs, totdat ek besef het Camilla nie meer as
persona non grata gesien word nie.
Dié dat ek gister so half verstom was om in die jongste peiling te sien dat hoewel Camilla se gewildheid met n skrale 2 persent toegeneem het, sy steeds die laasste plek beklee op die lys van gewildheid van senior koninklikes. Van die 2009 Britte wat aan 'n Angus Reid-peiling deelgeneem het in Julie, sien slegs 33 persent haar in 'n positiewe lig.
Of sy ooit in haar leeftyd die aanvaarding sal kry wat sy verdien, dié weet ek nie.
Wat ek wel weet, is dat sy tans wel geregtig is om as Camilla, Prinses van Wallis, bekend te staan, maar dié titel nie wil gebruik nie uit eerbied vir die ontslape Diana, Prinses van Wallis. En eendag, dalk nie meer in die verre toekoms nie, sal sy as koningin Camilla gekroon word – die vrou langs koning Charles.

Camilla, hertogin van Cornwall, saam met prins Charles, koningin Elizabeth, prins William en Harry en Catherine, hertogin van Cambridge, op Buckingham-paleis se balkon tydens die Jubileumvierings. Foto: GETTY