Share

Kop & Hart: Die vonk binne ons

Daar is ‘n ou Christelik-gnostiese legende wat vertel dat terwyl God besig was om alles te skep, Sy besluit het Sy wil ‘n vonk van Haarself in die skepping wegsteek. Sy het toe ‘n vergadering met al die hemelwesens belê. En toe almal bymekaar is het Sy hulle vertel van haar plan. Die enigste probleem wat Sy gehad het, was waar om dit weg te steek.

“Steek dit op die hoogste berg weg”, het ‘n Aards-engel gesê.

“Nee, begrawe dit in die middel van die see”, het ‘n ander een gemeen.

Toe staan die oudste van die oudstes op. “Die mens is slim en baie nuuskierig. Dit sal verseker nie lank neem voor een van hulle die hoogste berg uitgeklim het nie. Selfs die see sal mettertyd deur die mens bevaar word. Die goddelike vonk sal iewers weggesteek moet word waar die mens nooit sal dink om te soek nie!”

“Ek weet”, het God glimlaggend gesê. “Ek sal dit wegsteek op die laaste plek waar die mens sal soek ... binne in sy hart.”

                                                                                                             ***

Ek was nog altyd mal oor sulke ou mistiese stories. Verhale soos dié wat ‘n rigtingwyser is vir enigiemand wat na die dieper betekenis van die lewe soek.

Hierdie verhaal vertel van die mistieke waarheid: dat ‘n mens die goddelike alleen in jou binneste kan ervaar. Nie buite iewers in idees, dogma’s, ideologieë of konstrukte nie. Nee, binne jouself, binne die hier en nou.

Dalk is dit juis hoekom soveel mense sukkel om die goddelike te vind. Hulle soek op verkeerde plekke. Die goddelike vonk was en is nog altyd hier gewees: in die lewe self; in die asem van jou asem.

En enigiemand wat ernstig is om die dieper betekenis van die lewe te vind (of noem dit God as jy wil) moet dit dus sien as ‘n reis na binne.

‘n Reis na jou self. ‘n Reis wat natuurlik nooit ophou nie. ‘n Reis wat nêrens gaan nie maar ook nooit stilstaan nie. ‘n Reis wat nie buite God of weg van God plaasvind nie. Hierdie reis is deel van God. Die reis is God self.

En selfs nie eens jou fisieke dood sal die einde van jou reis wees nie. Maak dit sin?

Waarskynlik nie. Hierdie reis, wat vele mense deur die eeue heen al ondergaan het is nie altyd moontlik om in woorde vas te vang nie. Is ook nie altyd bedoel om sin te maak nie.

Dit is verhale, legendes en stories wat bedoel is om jou tot stilstand te dwing. Om jou te laat wonder.

Daarom moet ‘n mens nie enige van die opgetekende verhale van ervaringe met God (soos heelwat in die Bybel voorkom) lees as geskiedenis of feitlike gebeure nie, eerder as ervarings wat binne iemand se binneruimte plaasgevind het.

Toe Moses ‘n ervaring van ‘n brandende braambos gehad het, was dit ‘n vlam wat in sy siel gebrand het. Net so toe die Indiese prins Gautama onder die Bodhi-boom verligting beleef het, was dit ‘n ervaring soos ‘n lig wat binne hom aangegaan het.

‘n Ervaring is vir die een wat dit beleef meer wesenlik en "waar" as wat enige feitelike ervaring ooit kan wees. Dit is nie ervarings in logika en woorde nie, eerder ‘n belewenis in beelde en metafore.

Dis ook nooit bedoel om letterlik opgeneem te word nie.

Meeste mense wat al sulke ervarings gehad het, sal die eerstes wees om te sê dat dit amper onmoontlik is om dit in woorde om te sit. Juis daarom lê die wese van spiritualiteit nie in dogmas en geloofsbelydenisse nie, maar in persoonlike ervarings.

Is dit nie maar hoekom die mens behoefte het aan poësie, gedigte, musiek en die kuns nie? Die behoefte om ‘n mistieke belewenis tog in woorde en beelde om te sit. Om te probeer kommunikeer wat hulle binne ervaar het.

Natuurlik is die gevaar dan dat die woorde die ervaring kan inperk en selfs gevange neem. Miskien was dit juis die probleem wat mense soos Boeddha, Jesus, Moses, Rumi, Meister Eckhardt en vele ander soos hulle mee te kampe gehad het toe hulle iets van hulle gewaarwordings oor die goddelike wou verwoord.

Hierdie belewenisse van die vonk van die goddelike binne ons kan immers nooit letterlik en feitelik verstaan of vertel en beskrywe word nie. En enigiemand wat probeer om dit te doen loop hom/haar vinnig vas in dooie dogma.

Hierdie soort ervarings vind meestal pre-verbaal plaas. En dit gebeur dikwels spontaan. Daarom dat die dissiplines van stilte en meditasie so belangrik is vir enige persoonlike spiritualiteit.

Die Switserse psigiater, Carel Jung, het na hierdie innerlike ontdekking van die goddelike vonk binne ons verwys as die ontmoeting van die Self. En dit is ‘n transformerende ontdekking, het hy gesê.

In die Thomas-evangelie (vers 24) word daar ook na hierdie ontdekking gewys as lewensveranderend. Daar staan dat Jesus gesê het, “Daar is lig in die binneste van ‘n verligte mens en dit verlig die hele wêreld.”

Wat Jesus verder in die gnostiese geskrifte sê, is dat elkeen van ons die vonk het om ook ‘n Christus te word. Die vroeë Christene van die stad Alexandrië het dan ook gepredik dat dit elkeen se plig is om nie net ‘n Christen te word nie, maar ook om self ‘n Christus te word.

Biskop Cirilius van Jerusalem, in die tweede eeu, het byvoorbeeld aan sy dopelinge die volgende gesê: “Nou is jy meer as ‘n Christen, jy is self ‘n Christus!” Om daardeur hulle te herinner aan die goddelike vonk wat binne elkeen van hulle opgesluit is.

Vader Thomas Keating, die Benediktynse monnik wat baie bygedra het tot die herlewing van Christelike meditasie en kontemplasie, gaan selfs so ver as om te sê dat ‘n mens nooit volwaardig mens sal kan wees, voordat die Ware Self nie herontdek word nie.

Ek wil afsluit met die woorde van Thomas Merton (1915-1968), ‘n Frans-Amerikaanse "Trappist" monnik: “Our reality, our true self, is hidden in what appears to us to be nothingness ... We can rise above this unreality and recover this hidden reality ... God Himself living in me as my true self.”
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 429 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 912 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE