Share

Kop & Hart: My dans met God

“So, glo jy in reïnkarnasie?” onderbreek ‘n student my aanbieding tydens ‘n vroegoggend meditasiesessie.

“Wel,” begin ek, maar steek vas. Dan probeer ek weer: “Neem die werklikheid van die lewe as ‘n dans. ‘n Dans tussen geboorte en sterwe, sigbaar en onsigbaar, en binne hierdie dans...” Dan stop ek weer.

My begin-en-stop is te danke aan my versigtigheid om aan hierdie komplekse vraag die nodige respek te toon. Want hierdie vraag antwoord jy nie sommer so uit die vuis uit nie.

Alhoewel die idee van reïnkarnasie, dat mens ná jou dood weer in ‘n ander liggaam gebore kan word om nog ‘n keer te lewe, nie veel logiese sin maak nie, moet ons erken dat daar wel verskillende vorme van reïnkarnasie daagliks gebeur.

Dink so daaraan: Binne die tydperk van ongeveer elke agt jaar vervang jou liggaam al sy selle. Net so word jou opvattings en voorkeure ook oor die jare vervang met nuwes. Daar is niks aan jou menswees wat in één lewe permanent is nie.

Maar nie net dit nie, ons is ook deel van die groter liggaam van die kosmos. Daar is nie ‘n enkele molekule in ons liggaam wat nie van die begin van die kosmos af al bestaan het nie; wat nie al male sonder tal, oor miljarde jare heen, telkens gereïnkarneer of hergebruik is nie: van amoebas, plante, visse, dinosourusse, soogdiere en mense.

Die dans van vorm en materie. Want sien, soos alles in die kosmos bestaan ons uit molekules wat byeenkom om iets te vorm en wat uiteindelik weer sal ontbind om iets anders te vorm.

Goed, goed, ek weet dit is nie presies waarna mense wat in reïnkarnasie glo verwys nie. En ek moet toegee: Van al die menslike bespiegelings oor die hiernamaals, insluitende die hemel- en die helkonstruk, die wegsmelt in die groot poel van siele, tot en met doodgaan soos ‘n rekenaar wat afgeskakel word – is reïnkarnasie maklik die mees onlogiese vir my.

Want met nadere ondersoek van die konsep, is daar ‘n groot geloofsprong nodig met min tot geen logiese begronding. Want reïnkarnasie veronderstel dat daar iets van jou is wat oorleef nadat jou liggaam gesterf het en dat daardie iets op een of ander manier nou tot in ‘n nuwe embrio oorgeplaas kan word.

Volgens die Hindoeïsme (waaruit die reïnkarnasieleer kom) is jou atman jou eintlike self of siel. En die atman is volgens hulle nie ‘n gevangene in die liggaam nie, maar beheer en bestuur eerder die liggaam. Maar volgens hulle is meeste mense se onkunde so groot dat hulle deur een inkarnasie na die ander moet gaan om hopelik eendag die atman te kan ken.

Maar Boeddha het, ondanks die meeste van sy volgelinge se vaste geloof in reïnkarnasie, geleer dat die mens geen permanente atman of siel het nie. Hy noem sy eie standpunt dan ook anatman of nie-atman. Want wat sal dan gereïnkarneer word, sou hy vra. Daarom met die uitsondering van die Tibetaanse Boeddhisme, gebruik Boeddhiste nie die term reïnkarnasie nie, maar verkies hulle die term “hergeboorte.”

En dit is ook nie net Boeddha wat so gedink het nie. Veral nuwe insigte in die filosofie, neurologie en bewussynsielkunde, dui almal daarop dat die mens geen vaste self het wat oor die jare heen voortbestaan nie. En omtrent geen wetenskaplike of filosoof sal vandag nog sê dat die mens ‘n siel het wat los van sy liggaam kan bestaan nie. Sodoende is daar dan ook niks om te reïnkarneer nie.

Daar is selfs ‘n siening dat reïnkarnasie, nes "hemel en hel", maar net ‘n desperate poging van die mens is om nooit die finaliteit van die dood in die oë te kyk nie.

En of dit nou reïnkarnasie of ‘n ewige lewe is, ‘n goed uitgewerkte konstruksie vir die lewe na die dood is op die ou einde wat enige godsdiens aan die gang hou. Want om ‘n konstruk te skep waarbinne die mens kan ontvlug en nooit hoef te sterf nie is tog ‘n wonderlike (alhoewel tydelike) troos.

Maar so ‘n konstruk is in sy essensie ‘n ego-konstruk. Want is dít nie presies wat die mense se grootste ego-behoefte is nie: om nooit te sterf nie?

Die menslike ego wil tot elke prys voortbestaan, daarom dat die ego dit so moeilik vind om homself uiteindelik te sien as dood. En reïnkarnasie bied nou ‘n inkarnasie van die ego van lewe tot lewe. Dit sou in elk geval verklaar hoekom so baie mense wat glo in reïnkarnasie, beweer hulle was in ‘n vorige lewe een of ander koning, vegter of bekende soos Cleopatra of Napoleon. Ons ego’s het nodig om altyd beter en groter te wees.

Aan die ander kant, in die gevalle waar vorige lewens wel sou neerkom op iets negatief, soos dat jy ‘n slaaf, skurk of mishandelde was, is dit weer ‘n handige verklaring en verskoning vir redes hoekom hierdie lewe so vol mislukkings, pyn en swak keuses is.

Maar dit gesê – miskien is die verstaan van reïnkarnasie net soos die hemel- en hel-konstruk, iets wat nie letterlik verstaan moet word nie. Miskien is dit simbolies en metafories van ‘n veel dieper waarheid.

Dalk raak reïnkarnasie aan die misterieuse dans van God deur vorm en nie-vorm. En daarom is die Boeddhistiese verstaan van "hergeboorte" dalk ‘n beter, sinvoller manier as reïnkarnasie om hierdie dans te beskryf.

Kom ek verduidelik dit so: In Zen word daar geleer dat niks ‘n unieke "ís-heid" het nie, alles bestaan omdat alle ander dinge bestaan (interbeing). En daarom sal alles wat saamgestel is mettertyd ook ontbind net om dan weer hersaamgestel te word. Niks het net een enkele oorsaak, of lewe in en vir ditself nie.

Neem ‘n boom se blaar as voorbeeld: Dit is ‘n blaar omdat dit volledig uit “nie-blaar-elemente” bestaan. Sonder die boom se wortels en sonder die son kan daar geen blaar wees nie; net so is dit afhanklik van riviere en die see, wolke, reën, sowel as die aarde se vrugbaarheid, wat op haar beurt die gevolg is van alles wat voorheen was.

‘n Blaar is dus leeg van unieke blaar-elemente en vol van nie-blaar-elemente. Dit is juis wat ‘n blaar ‘n blaar maak. Net so ook ons as mens. Ons bestaan in hierdie vorm omdat alle ander dinge bestaan.

Die menslike wese is deel van die geheel wat ons die kosmos noem. En binne hierdie kosmos is ek, jy en ons ‘n deeltjie beperk deur tyd en ruimte.

‘n Deeltjie wat hom- of haarself beleef, wat deur ons gedagtes en gevoelens vir ‘n oomblik in tyd (‘n soort optiese delusie van ons bewussyn) onsself as iets heeltemal onafhanklik van die res sien.

Hierdie delusie is natuurlik ‘n tronk. ‘n Tronk waarbinne ons beperk en begrens word tot ons persoonlike begeertes, drange, gevoelens en behoeftes. ‘n Tronk waarbinne karma die tronkbewaarder is.

Dit sou rym met die idee van karma; dat ons die gevolge van al ons dade eendag weer gaan terugkry, waar selfs iets soos reïnkarnasie jou nie van kan verlos nie. Want jy word gedryf en beïnvloed deur jou vorige lewe se karma, wat herhaal en herhaal.

Maar as jy verstaan waarna Boeddha verwys het met sy "hergeboorte"-konsep, dan maak dit veel meer sin. Dan kan jy ook bevry word van die tronk waarbinne karma se gevolge jou vasvang.

Jy is soos die blaar veel meer as net ‘n blaar. Daar is soveel méér. En as ons sou kon verstaan dat ons meer is as net hierdie bestaansvorm, bevry ons onsself van die sirkel van lyding en kan ons die ganse natuur in al sy misterie en skoonheid omhels.

En dit is wat ek voel enige godsdiens met hulle “lewe na die dood”, of “ons sterf nie”, of reïnkarnasie, na verwys: Ons is deel van die groot misterie, noem dit gerus God, en eendag keer ons terug daarna.

Soos seegolwe wat terugkeer na die see, so keer ons terug na die heelheid waaruit ons te voorskyn gekom het. Hierdie voorbeeld van golwe kry ek by Thich Nhat Hanh, hy gebruik dit om lewe en sterwe te verduidelik.

Hy sê dat wanneer die omstandighede gunstig is manifesteer golwe, bestaan vir ‘n tyd lank en verdwyn dan weer wanneer omstandighede nie langer gunstig is nie. Maar golwe hoef nooit te vrees dat hulle sal sterf as hul verdwyn nie, want hulle wese is die see en hulle keer eenvoudig net weer terug na die see.

Ag wat, moontlik is dit alles onsin. Ek kan nie een enkele ding wat ek hier bo bespiegel het, logies begrond nie. Maar hier is een ding wat ek wel kan sê, voordat ek afsluit.

Ek was ‘n klein seuntjie, omtrent nege of tien, toe ek een dag ons gesin se Afrikaanse ensiklopedie van die rak afgehaal het en die hoofstuk oor Boeddhisme nageslaan het.

Ek kan geen logiese verklaring gee hoekom ek op daardie stadium, as NG-kinderkranskind in Bethal, al oor Boeddhisme sou gedink het nie. En indien ek iets sou gehoor het oor Boeddhisme, sou dit beslis niks positiefs gewees het nie.

Maar ek onthou nog spesifiek dat ek die illustrasie van Boeddha wat sit en mediteer bewonder het. Daarna het ek gedink dat ek dit ook wil doen. En deur my weermag- en studentejare was ek ook altyd bewus van ‘n onverklaarbare aangetrokkenheid tot Boeddha en sy leringe.

Nou ek is die eerste een wat sal erken dat dit niks bewys nie. Ek probeer net daardeur sê dat daar ‘n veel dieper misterie in die lewe is. Iets onverklaarbaars werklik. ‘n Werklikheid so tasbaar soos ‘n boom. Iets wat ons almal op die diepste vlak aan mekaar bind.

Ja, ons is veel nader aan mekaar as wat ons ooit sou kon bewys. ‘n Eenheid wat net sigbaar word in die dans van die lewe. ‘n Dans wat ons mekaar laat ontmoet in verskillende lewensvorme. ‘n Dans op ritme van die kosmos se in- en uitasem.

‘n Dans van lewe tot lewe. Vorm tot vorm. Sterstof tot sterstof. Noem dit reïnkarnasie, hergeboorte, hiernamaals of hersirkulasie.

Noem dit wat jy wil, vir my is dit heel eenvoudig, ek noem dit: My dans met God.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 517 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 538 votes
Vote
Rand - Dollar
19.11
+0.4%
Rand - Pound
23.80
-0.4%
Rand - Euro
20.46
-0.0%
Rand - Aus dollar
12.40
-0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
920.40
-1.1%
Palladium
1,026.50
+1.1%
Gold
2,322.61
-0.2%
Silver
27.34
+0.6%
Brent-ruolie
87.00
-0.3%
Top 40
68,051
+0.8%
All Share
74,011
+0.6%
Resource 10
59,613
-2.2%
Industrial 25
102,806
+1.7%
Financial 15
15,897
+1.8%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE