Share

Kop & Hart: My pa

My pa verjaar op 25 Augustus, en hy vier vanjaar ‘n mylpaal-ouderdom.

Dit is seker maar so dat wanneer iemand vir wie jy lief is ouer word, jy self ook onwillekeurig begin nadink oor jou eie oudwordproses.

Ek meen, of ons daarvan hou of nie, ons word ouer. En niemand kan die vrae wat daarmee saamkom systap nie. Vrae oor die sin van die lewe en of dít waarmee ek my elke dag so besig hou, regtig die moeite werd is.

Vrae waarmee my pa vir seker al hoe meer worstel. Seker daarom dat hy sy onafwendbare aftrede die afgelope paar jaar elke keer uitstel.

“Hierdie is my laaste jaar van werk!” kondig hy elke begin van ‘n nuwe jaar aan. Net om dan weer die volgende jaar sy aankondiging te herhaal. Op ‘n dieper vlak verstaan ek hoekom hy dit doen.

Ja, deels is die finansiële implikasies ‘n dryfveer, maar meer as dit besef my pa die waarheid van die woorde dat ‘n mens hou nie op met werk omdat jy oud geword het nie, jy word oud omdat jy ophou werk het.

Gelukkig kom daar saam met hierdie bewustheid van ons sterflikheid ook ‘n mate van insig en wysheid na vore. Natuurlik is dit nie ‘n gegewe nie. Slegs dié wat bereid is/was om voluit te leef, braaf genoeg is/was om hulle lewens se uitdagings eerlik in die oë te kyk, verwerf saam met hulle grysheid ook humor en wysheid.

Ek kan eerlik sê my pa is so ‘n wyse gryse.

En alhoewel ek nie altyd hom die erkenning gee vir sy wysheid en rol in my lewe nie, is hy vir seker een van my grootste rigtingwysers.

As ek maar net dink hoe hy my altyd aangemoedig het om myself te wees, om myself te definieer. En die manier waarop hy dit gedoen het was deur onbeskaamd homself te wees. Dit wat Joseph Campbell so raak sê met: “The privilege of a lifetime is being who you are.”

Humor is ook ‘n groot deel van oudword. Want wie kan die lewe ernstig opneem nadat jy al so baie seisoene beleef het? Ek reken, hoe meer dinge verander hoe meer bly alles dieselfde. Politici bly dieselfde stories oor en oor vertel, statistieke bly aangepas word, petrolpryse bly styg en môre skyn die son weer.

My pa is so ‘n iemand wat die lewe met ‘n lag in sy hart bekyk. Noudat hy veel ouer is en nie meer die krag of lyf van ‘n jongman het nie, sal hy die eerste een wees wat tong in die kies sal sê dat jong meisies net sy persoonlikheid bewonder en nie meer sy lyf nie. Dit ten spyte van die feit dat hy nog elke dag sy drafskoene aantrek en sy uitgewerkte roete gaan draf.

Hy is ook die een wat sy suksesse sal opdra aan my ma – en sy foute aan sy eie onvermoë om vinnig genoeg te kon leer. So gepraat van my ma, by my pa het ek geleer wat dit beteken om iemand lief te hê.

Liefde gaan oor teenwoordig wees. Bewustelik dáár te wees wanneer jy daar is. En om die ander persoon raak te sien en raak te hoor. Want slegs dan kan jy die ander een ken. Martin Buxbaum se woorde omskryf dit wat my pa en my ma het: “Some people, no matter how old they get, never lose their beauty – they merely move it from their faces into their hearts.”

In elk geval, sonder om melodramaties te word, dink ek dat baie van ons wat nog so gelukkig is om ons ouers te hê, die lewenswysheid wat ons by hulle kan leer – miskyk. Dalk is dit omdat ons hulle al ons hele lewe lank ken en ‘n profeet word moes selde in sy eie land erken. Of dit kan wees omdat ons ook hulle foute ken, hulle skadukante, en dit dan meebring dat ons nie hulle lig kan raaksien nie.

Maar meer nog as dit, dink ek ons misken hulle wysheid omdat ons dink ons ken hulle te goed. Want as ek aan my pa dink, sien ek dieselfde oë by my en my hande lyk nes syne. Ek kry in my vel sý plooie en ek klink boonop ook al meer soos hy.

Ek onthou nog so helder hoe driftig ons met mekaar kon verskil en hoe kwaad ons mekaar kon maak. Maar ons het beide ons vrede gevind, deels omdat ek ook ouer geword het. Dit is asof ons saam rus gevind het.

Ons albei het ouer geword. Iets wat ek vandag as ‘n seën sien, nie meer ‘n straf nie. Daarom dat ek die woorde van die digter Robert Browning wil eggo: “Grow old with me! The best is yet to be.”

Wysheid is iets wat nooit kan sterf nie. Ons word oud en uiteindelik sterf ons. Maar solank ons mekaar se woorde as rigtinggewend en bepalend in ons lewens saamdra, kan die persoon nooit sterf nie.

En hoe langer en hoe meer intiem ‘n mens daarmee saamleef, hoe meer van die dieper betekenis vind ‘n mens in mekaar en word dit in jou eie lewe ook meer sigbaar; word dit deurleefde wysheid.

Toe Boeddha begin oud word, het sy dissipels begin wonder waar hulle leiding vandaan gaan kom wanneer hy dood is. En telkens het Boeddha hulle daarop gewys dat hy nie net ‘n fisiese liggaam het nie, maar ook ‘n dharmakaya (dharma beteken "onderwysing"en kaya beteken "liggaam").

Met ander woorde, elke keer wat iemand terugkeer na die korpus van alles wat Boeddha geleer het – sy wysheid – lewe hy. Presies hoe ek die opstanding van Jesus ook verstaan. Elke keer wat mense Jesus se woorde herhaal, sy lering lééf en sy genade uitdeel, lewe Jesus in ons.

Net so is my pa vir my ‘n lewende rigtingwyser. En indien ek sy wysheid my eie maak, leef hy in my en ek in hom.

Ek wil afsluit met een of twee van my pa se wyshede. Dit wat my help om sin te vind in my lewe. Hoop dit bring ook ‘n bietjie lig op dié wat hier lees se pad.

* As jy jonk is, is ‘n dag kort en ‘n jaar lank. As jy oud is, is ‘n jaar kort en ‘n dag lank.

* Tyd is relatief en vlietend. Daarom, moenie uitstel nie. Beplan goed en spaar tyd. Meet twee keer, sny een keer.

* Skinder minder en luister meer.

* Onthou as jy praat herhaal jy maar net wat jy reeds weet, maar as jy luister kan jy dalk net iets leer.

* As dit kom by oudword, het jy geen keuse nie, maar jy het wel ‘n keuse as dit kom by grootword.

* Daarom: Lewe laer as jou inkomste. Wees vriendelik en respekvol met almal wat jou pad kruis, maar wees kieskeurig met die keuse van jou vriende.

* Ken ten minste een goeie skoon grap. Jy weet nooit wanner jy ‘n gesprek moet red of ‘n geleentheid moet open nie.

* Bêre handleidings van toerusting wat jy koop, jou kar se diensboekie en al jou belangrike dokumente op dieselfde plek. Jy weet nooit wanneer jy dit gaan nodig hê nie.

En natuurlik my pa se mees waardevolle raad – of sal ek eerder sê opdrag: “Bel jou ma!”

Geluk met Pa se verjaarsdag!

Leroy Paige: “Age is a question of mind over matter. If you don’t mind, it doesn’t matter.”

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 720 votes
No! It's time to move on ...
33% - 357 votes
Vote
Rand - Dollar
18.99
+0.1%
Rand - Pound
23.78
+0.1%
Rand - Euro
20.39
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.44
-0.3%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
929.30
+0.4%
Palladium
990.00
-0.1%
Gold
2,346.58
+0.6%
Silver
27.71
+1.0%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,018
+0.9%
All Share
74,927
+0.8%
Resource 10
62,838
+1.2%
Industrial 25
103,621
+1.1%
Financial 15
15,820
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE