Dit was ’n hartverskeurende verlies.
Ek onthou nog die dag toe ek Gypsy aan Picatchu, die beautiful spierwit, wollerige Chow bekend gestel het.
Pica het die klein ‘rotjie’ met haar poot rondgeskuif en opgesnuif. Nie te lank daarna nie of Gypsy kruip, sit, lê bo-op en onder die blad van die lewendige wolkombers.
Reeds vir vyf jaar lank.
Pica is ongelukkig nie meer nie.
Die dag na ek haar begrawe het sien ek hoe Gypsy ronddwaal. Soek en snuif en selfs deur die stormwaterpyp deurkruip om uit die gehokte vierkant te ontsnap. Terwyl ek die volgende oggend by die werk is, vat sy die pad tot by Gonnemanskraal stap sy – ’n goeie anderhalf kilometer ver. ’n Hondeliefhebber aldaar het my gelukkig opgespoor en ek kon die klein klits by die toegangshek loop haal.
’n Plan moes ek maak en my sus maak ’n voorstel – kry vir haar ’n dagmoeder.
Ek steek voelers uit. Die hoofmeisie van die dorp, wat self twee honde het, bied aan om te help. Die Donderdagoggend maak ek gereed vir ‘kleinskool’. Pak haar kos, haar kussing en haar waterbak. ’n Hondekenner het my eendag geleer hoe om ’n ‘nuwe’ hond in ’n bestaande hondefamilie bekend te stel.
Bring net een van die familielede op ’n slag uit. Hou die ‘ínkommer’ se stert na die oudste van die familie en laat dié haar deeglik uitsnuif. Bring dan die volgende lid uit, en so gaan jy aan totdat almal tevrede is. Dan eers laat jy almal bymekaar.
So gemaak. So tevrede.
Hoofmeisie vertel dat Gypsy die eerste dag hier om etenstyd skielik verdwyn het. Sy raak bekommerd en ry na my huis toe. Daar gekom kry sy die leeutjie ewe kordaat voor die deur sit en wag.
Twee dae later raak sy weer weg. Hoofmeisie besluit nee, sy gaan haar nie weer soek nie, maar laat weet my in elk geval. ’n Uur later ontvang ek ’n sms – Gypsy in terug.
Verlede Donderdag sous dit te lekker en ek trek vir Gypsy ’n flennie-truitjie aan. Sy is al te tuis by die dagmoeder en haar maatjies en ek laai net af en ry.
Om etenstyd sien Hoofmeisie daar stap Gypsy. In die reën en die pienk truitjie raak sopnat. Sy laat haar begaan.
Twee ure later kom die klein flerrie terug by haar dagmoeder – sans die pienk truitjie.
Toe ek haar ure later oplaai en huistoe bring, lê die sopnat pienk truitjie op die stoep by die voordeur.
Gypsy en haar dagmoeder verstaan mekaar.
Nou maar toe...
* Lees hier nog van Gypsy