Om nie ‘n oog toe te maak nie omdat ‘n verduiwelse skelm in elke vertrek in jou huis was en die huis in ‘n warboel agter gelaat het – erger as die dag voor die Skepping – is geen grap nie. Ook nie vir Sus nie.
Die ding is, Sus behoort in dié stadium van haar aardse lewe ‘n rustiger bestaan te voer. Bekommernisse oor veiligheid, oorlewing, ‘n oulap vir die oudag behoort, volgens Maslow, lank reeds afgetik en afgehandel te wees.
Net, dinge werk nie altyd so nie. In elke geval nie vir Sus nie.
Oor heelwat besluite wat sy in haar lewe geneem het, sit sy nou in ‘n situasie waar sy moet werk. Sy moet ‘n blyplek huur omdat sy iemand met haar belegging vertrou het, en sy moet daagliks ‘n bestaan uitkerf. Sommige dae gaan dinge voor die wind… ander dae voel dit al of sy aan die genade van ander oorgelaat word – juis omdat sy mense so maklik (wil) vertrou.
Om egter laataand tuis te kom van die een of ander verpligting en met die intrapslag te besef hier’s fout, is benouend om die minste te sê. Die agterdeur staan oop (het die huiswerker, wat net Dinsdae werk) vergeet om die deur te sluit? wonder sy. Sy kyk links na die leefarea. Twee bottels wyn lê op die mat langs die bank.
Maar Sus is mos nie bang nie. Mos! Sy stap in die gang af. Die studeerkamer en die gastekamer lyk nie omgekeer nie, maar toe stap sy in die hoofslaapkamer in. Al die kaste is oopgegooi… ‘n tas is uitgehaal en die laaikas is ook deursoek. Sy skrik haar boeglam toe haar oog ‘n paar nommer 13 werkerstewels op die badkamervloer merk. Sy ondersoek haar kas om te kyk watter skoene hiervoor omgeruil is – maar sy dra nie ‘n 13 nie. Die bloed pomp in haar ore, maar kyk in elk geval agter elke deur en gordyn of iemand weggkruip.
Met verdere ondersoek kom sy agter die vrieskas is heeltemal leeggemaak. ‘n Stuk cheddar-kaas het happe uit en lê op die wasbak en uitdroog. Twee duur baadjies lê agter die bank – het oorspronklik in die studeerkamerkas gehang. Die vrieskas is ook leeggemaak.
Buite voor die kamervenster staan twee tuinstoele wat Meneer gebruik het om ‘n venster oop te dwing. Hy is daardeur tot op die bed en kry toe so toegang tot die huis. Hier op die platteland is diefwering (mos!) onnodig.
Sy bewe, maar bel die polisie, haar kollegas en ‘n vriend. Die son kom reeds op toe al die verklarings, ondersoeke en koppies koffie afgehandel is. Nou werk toe – lankal laat, maar nou ja…
Die middag – hier om etenstyd – besluit Sus sy gaan tog net kyk of Gypsy, die klein Jackie, rustig is. ‘n Kollega sê sy ry saam.
By die toegesluite motorhek merk Sus dat die garage se venster stukkend is. Die skelm het wéér toegeslaan. Sy stap na die voordeur van glas en wil net die sleutel in die sleutelgat steek toe sy ‘n beweging binne-in opmerk. Meneer, met ‘n blou munisipale oorpak, is bukkend by die wynrak en pak vir hom wyn in ‘n kartonboks. Moeilik om te bepaal hoe groot die man is.
Sy draai gat oor kop en sluip-kruip by die hek uit. Beduie vir haar kollega die man is in die huis. Merk toe ook ‘n tweede stukkende ruit waardeur Meneer toegang tot die huis verkry het.
Soek indringend na die polisie se nommer op haar selfoon – dankie tog vir die history-lys van telefoonnommers daarop. Haar kollega storm die straat in en stop al wat motor is. “'n Mens weet (mos!) nie hoeveel van hulle in die huis is nie.”
Een van die motoriste sien ‘n man met ‘n blou oorpak by die agterdeur uitkom en na die agterste tuinmuur beweeg.
Sus, wat enkele weke tevore ‘n skokstok aangeskaf het, juis omdat daar by ‘n kollega ingebreek is, is nie links nie. Sy loop, hardloop na die anderkant om die huis, skokstok gereed vir die aanval. Sus kom op die man af waar hy ewe gerus op die grasperk agter die huis sit, besig om ‘n sigaret aan te steek. Vier bottels (duur) wyn, ‘n blik koffie, pak suiker en pasta lê langs hom. Die vent is die helfte kleiner as wat sy agtergeblewe stewels in die badkamer vir Sus wysgemaak het.
Nie seker of dit skok, woede of vrees was nie, maar net daar druk sy die skokstok in meneer se rigting en vra-skreeu: “Wat dink jy doen jy?”
“Ek soek werk,” sê die vent, staan op en loop hom in die polisie vas.
Toe Sus merk dat hy haar duur oefentekkies aan het én haar resiesfiets reeds by die tuinmuur geparkeer staan, druk sy sommer weer die stok in die man se rigting.
Een van die uniformmanne fluister – na alles afgehandel is – in Sus se oor. “Druk die skokstok daar waar dit vir ‘n man die seerste maak. Hy staan nie gou weer op nie.”
“Wees gewaarsku!”
Vanwaar die woord "mos", wonder Sus so in haar stilligheid.
Nou maar toe...