Share

Op vlerke: Jag by Lake Panic voëlskuiling

Ons gaan die oggend vroeg by Numbi-hek die Kruger-Wildtuin binne en beoog om later die res van die oggend in die voëluitkyk (Lake Panic Bird skuiling), ‘n ent voor Skukuza op die Kruger-hek pad uit, deur te bring.

Naby Pretoriuskop-kamp draai ons links na Skukuza af en sien ‘n olifantkoei en haar kalfie wat tussen die lang droë grasse en plantegroei langs die pad staan en vreet. Ons ry nader en beweeg die koei so omkyk-omkyk, dieper die veld in.

Nou volg die kalfie haastig, woel met die slurpie op die grond, tel ‘n vreetding op en sit dit in die bek. ‘n Entjie verder gaan staan die kalfie by die ma in die ruigtes en sien ons net nou en dan die slurpie na die grond sak en terug na die bek beweeg.

‘n Ent vorentoe hardloop ‘n olifant kalfie oop en toe met die stertjie so reguit na agter oor die pad. Die kleintjie swaai die slurpie, gaan teen die skuinste langs die pad af en verdwyn in die ruigtes.

Kort op die kalfie se hakke volg die koei. Sy kom met die lyf so skuins en die kop hoog gelig uit die ruigtes aan die anderkant van die pad gestap. Nou gee sy sulke lang tree, swaai die stert en draai die kop na die karre toe. Dan flap sy die ore, lig die slurp, trompetter en volg sy haar kleintjie haastig teen die kant van die pad af na die ruigtes.





Later die oggend maak ons ons by Lake Panic in die voëlskuiling tuis. Helder ligblou weerkaats die water en staan die perdjies ‘n ent weg soos die wind daar agter waai.

Nou en dan kom ‘n seekoei se kop daar bo die water uit, dan maak dit so ‘n rimpeling en kring dit wyd na die kante toe uit. Hô-hô … hô ... gesels een so ‘n paar keer.

Hier en daar wikkel ‘n seekoei die ore, dan sak die koppe na ‘n tydjie weer terug.

Kolganse raas daar links van die seekoeie op die wal.

‘n Ent weg agter die seekoeie staan ‘n yslike bos riete uitgestrek voor die ruigtes op die oorkantse oewer met die wit pluime en skakerings groen lang grasse langs die kante.

Oorkant die skuiling hier skuins regs van ons, anderkant ‘n groot inham, staan die ruigtes, so ‘n bos. In ‘n groot boom met sulke dik takke sit ‘n bloureier op haar nes met die kop tussen die skouers ingetrek. Swartkeelgeelvinke se nessies hang daar in die voorgrond aan takke oor die water.

‘n Ent na agter sit ‘n visarend bo in ‘n boom langs die kant van die meer en jag. Nou en dan lig dit die kop en kyk daar na die oorkant. Later sien ons die visarend se maat aan die anderkant van die meer in die middel van ‘n boom sit.

Oorkant die skuiling staan ‘n reusereier links van die ruigtes teen die kant tussen die kort groen grasse met die pote in die vlak water. Die reier roer nie en kyk net daar oor die water uit.

‘n Seekoei kom van agter af gewaad, draai ‘n ent voor die skuiling regs en gaan staan in die vlak water ‘n paar tree van die reier af.

Nou beweeg die seekoei die bek heen en weer tussen die grasse teen die kant, stap so ‘n paar tree anderkant die reier verby en kyk vir ‘n wyle na die reier. Dan draai die seekoei om en gaan lê ‘n entjie van die wal af in die vlak water, net die bokant van die rug steek uit.




Watervoëls swem daar in die middel van die strook waar die wind op die water lê. ‘n Entjie terug, daar agter die perdjies, kom ‘n klomp seekoeie se koppe bo die water uit. Tsjhuuu … blaas een sproei. Dan borrel daar ‘n fonteintjie op en kom daar nog ‘n kop uit.

Hô-hô … hô hôô! ... hô-hô-hô-hô-hô ... hô ... hôôô! ... gesels dit so aanmekaar.

Weee-ah kiow-kou-kou … weee-ah kiow-kou-kou ... roep die wyfie-visarend hier oorkant die skuiling in die boom en gooi die kop so oor die rug. Weee-ah kiow-kou-kou … weee-ah kiow-kou-kou ... antwoord die mannetjie daar aan die anderkant van die meer op ‘n hoër noot.

‘n Paar seekoeie het intussen van agter af gewaad, voor die skuiling verby gedraai en hulle regs by die inham langs ‘n groot droë boom in die water tuis gemaak, net die rûe en bokante van die koppe steek bo die water uit. Die agterste seekoei blaas ‘n keer sproei en maak die water skuim aan die bokant soos die seekoei daar naby die ander onder die water weg sak.

Nou en dan kom een se kop so effe bo die water uit, dan wikkel dit die ore dat die water so spat en gaan lê dit weer.

Een seekoei kom na ‘n tyd daar tussen die klomp regop en staan so halflyf in die water. Nou gaan dit met die bek rustig heen en weer, waai die stert en blaas sproei. Dan sak die seekoei af en gaan lê dat die water sulke golwe maak.

Tjiek-tjiek … tjiek-tjiek … hoor ons nou en dan ‘n bontvisvanger. Diee-diee-diee-dieederik … diee-diee-diee-dieederik … roep ‘n ander daar by die inham. Trrrp-trrrrrrrr … trrrp-trrrrrrrr … gesels ‘n bosveldvisvanger in die bome.

Oorkant op die oewer, daar links van die inham, buig die reusereier die nek. Met die snawel teen die lang nek af werk dit verwoed by die vere aan die bokant van ‘n skouer dat die hele voorkant en die lang blou-grys nekvere daar so op en af gaan. Nie lank nie, werk dit weer by die vere onder ‘n vlerk.

Later gee die reier ‘n paar tree die water in. Dan skep dit ‘n paar maal met so ‘n vorentoe beweging van die lang nek water in die bek en lig die kop dat die water in die keel af gaan.

‘n Ent van die reusereier af, hier voor die skuiling, staan ‘n groot droë boom naby die wal in die water met ‘n paar dik takke aan die bokant wat ‘n paar meter van die grond af is. Regs agter sit die bloureier in ‘n boom op haar nes met nog ‘n paar reiers op hul neste effe hoër in die boom skuins agter haar.





‘n Kolgans vlieg van die wal aan die linkerkant van die skuiling en gaan sit daar hoog op ‘n tak van die droë boom wat so effe laer as die ander is.

Die kolgans mik later ‘n paar maal na ‘n dik tak ‘n ent hoër op. Nou kyk hy na die tak bokant hom. Dan kyk hy weer na die tak waarop hy staan en wat daar voor hom so skuins na die stam toe af loop.

Toe stap die kolgans so gly-gly, met die kop laag oor die tak vorentoe en die vlerke daar bokant die lyf wyd oop soos hy balanseer, ‘n ent versigtig teen die skuinste af.

Nou steek hy daar halfpad op die skuins tak vas, rek die nek en kyk boontoe. Dan kyk hy na die grond en weer op. Die volgende oomblik vlieg hy en gaan sit in die mik van twee dik takke ‘n ent bokant hom.

Daar maak hy geluide en kyk so skuins op in ‘n boom wat oorkant hom op die wal staan. Toe sien ons ‘n tweede kolgans wat daar heel bo in die boom op digte takke sit.

Trrrp-trrrrrrrr … trrrp-trrrrrrrr … gesels die bosveldvisvanger in die bome. Diee-diee-diee-dieederik … diee-diee-diee-dieederik … roep ‘n ander weer. Hiee-jee … hiee-jee … hiee-jee … gesels die meitjie. Tjip-tjip-tjip-tjip … tjip-tjip-tjip-tjip … kom die geluidjies van ‘n dwergvisvangertjie nou en dan regs van die inham by die riete.

Dan hoor ons ook die geluidjies van ‘n swartriethaantjie en ‘n paar grootlangtone hier op die breëblaar waterplante waar hulle voor die skuiling onder die blare agter kossies aan pik.

Intussen het die bloureier van die nes af, daar langs haar kleintjie, opgestaan, die kop so tussen die skouers ingetrek. Later strek sy die nek, vat ‘n tak van die nes vas en druk dit met die snawel in plek, dan vat sy ‘n volgende tak en werk nou so vir ‘n tyd ‘n paar takke stewiger in plek. Op ‘n keer maak sy die vlerke oop en veg ‘n tak woes dat die hele nes so skud.





Nou kom die kleintjie met die voorlyfie op, rek die nek met die bek daar bo in die lug, dan skree dit dat hoor en sien vergaan en kom dit so óp uit die nes.

Soos die kleintjie met die kop in die lug op gaan, sien mens net vere bo die koppie na alle kante toe regop staan. Dan sak dit op die nes terug, kom weer vinnig met die koppie in die lug op en skree!

Regs bo, agter die bloureier, kom daar nog twee reiers by hul neste in die boom regop en druk die takke in plek. Dan staan een daar by die nes en maak geluide. Die bek is effe oop en vibreer die keelvel erg langs die kante soos die reier sulke vinnige ... kraunk-kraunk-kraunk-kraunk-kraunk ... kraunk-kraunk-kraunk-kraunk-kraunk ... geluide maak.

Hô-hô-hô ... hô ... hô-hô-hô-hô-hô-hô ... hô-hô … hô-hô-hô ... gesels die seekoeie aanmekaar hier regs van die skuiling in die water by die droë boom.

‘n Grootlangtoon vlieg en kom sit op die wal oorkant die skuiling.

Die volgende oomblik staan die seekoei, ‘n entjie van die reusereier daar teen die kant, in die water op en stap na die wal. Die reier gee haastig pad en maak die seekoei so ‘n draai in die water voor dit daar waar die reier gestaan het teen die kant neer plons dat die golwe so teen die kant op spoel.

Die grootlangtoon draf daar naby weg en gaan jag in die grasse op die wal ‘n ent voor die seekoei.

Die reusereier stap nou so ‘n paar keer voor die langtoon teen die kant op en af, dan gaan staan dit en kyk oor die water. Nou vlieg dit na ‘n plek links van die skuiling en gaan staan geduldig, so doodstil dáár in kniediep water en jag.

Nie lank nie het die reier ‘n yslike vis gevang en het hy die vis net-net met die punt van die snawel by die kop beet. Die vis hang nou daar onder die snawel met die stert na die water.

Na ‘n tyd flap die reier die vlerke so stadig, vlieg laag oor die water terug na die wal oorkant die skuiling en gaan sit ‘n entjie van die grootlangtoon af. ‘n Kolgans wat daar agter ‘n struik gestaan het, loop dieper die ruigtes in. Nou stap die reier ‘n paar tree teen die wal uit en gaan staan daar by ‘n pol gras teen die kant.



Die vis spartel, kom los en val na die grond met die reier wat vergeefs met die snawel agterna gryp. Daar hop die vis so ‘n paar keer op die wal voor dit tussen die grasse deur die vlak water in spartel en haastig weg swem.

Die volgende oomblik kom die kolgans met ‘n spoed terug uit die ruigtes geskarrel en gaan staan ‘n ent agter die reier op die wal. Toe kom daar ‘n krokodil hoog op die pote regs van die reier op die wal uit die ruigtes gestap en steek daar kort by die reier vas om te kyk wat die gespartel in die water veroorsaak het.

Die reusereier koes met die stert daar onder hom in en stap met sulke lang tree ‘n draai om die krokodil in die vlak water terug na die kant. Die reier se nek is skuins na agter gedraai soos dit na die krokodil kyk, nou rys die nek- en kopvere en staan dit so penorent.

Na ‘n wyle, stap die krokodil die water in en gaan lê teen die grasse langs die kant. Die grootlangtoontjie kom nou ook versigtig nader, rek die nek en kyk saam met die kolgans en reier na die krokodil.

Later vlieg die reier en gaan jag op dieselfde plek waar hy die vorige vis gevang het. Nie lank nie, het hy ‘n nóg groter vis gevang en spartel dié verwoed toe die reier dit uit die water lig. Dié keer egter het die reier die vis naby die kopkant dwars oor die lyf in die bek beet.

Nou vlieg die reusereier weer na die wal oorkant die skuiling en stap toe met die vangs die ruigtes in. Na ‘n tyd is die reier terug en gaan staan by die water. Daar skep dit ‘n paar maal met so ‘n vorentoe beweging van die nek water in die bek, lig die kop en drink.

Ons het nog vir ‘n wyle daar onder die skuiling vertoef en toe die pad terug huis toe aangepak.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
31% - 467 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
69% - 1023 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE