Share

Op vlerke: Met trompetters en boggoms, só leer die jonges

Koe-koe koekoe koe-koe, koe-koe koekoe koe-koe … roep ‘n grootringduif vroeg-oggend in die bome aan die voorkant van die rondawel. Ek staan op en gaan sit die ketel in die kombuis aan. Die Sabie-rivier loop lekker sterk anderkant die omheining en hang die mis tot op die water.

‘n Paar kolganse raas hoër op in die rivier.

Hô-hô … hô … gesels ‘n seekoei in die water, daar in die rigting van die kolganse.

Na ons koffie gedrink en klaar gemaak het vir die dag, loop ons ‘n draai deur die kamp en gaan kyk ook by die omheining langs die rivier. Daar sien ons nie ‘n dier nie, niks.

Anderkant die rivier beur die eerste sonstrale van die dag oor die ruigtes so wit deur die mis.

Terug by die rondawel maak Kate ontbyt voor ons na Satara-kamp vertrek: Bruin-saad roosterbroodjies in die braaipan, sagte botter-advokadopeer word ruim op die broodjies gesmeer, saggebakte eier in die pan en gerasperde cheddarkaas volg bo-op, sout en peper, ‘n stukkie oorbly braaiwors van die vorige aand en ‘n koppie swart koffie.

Ooo-kook-kook-koo-koo … ooo-kook-kook-koo-koo … gesels twee rooiborsduifies hier skuins bo ons op ‘n tak. Glansspreeutjies vlieg nader en pik die oorbly vetjies van die vorige aand se braai van die rooster af.

‘n Eekhorinkie kom so voetjie vir voetjie teen ‘n boom se stam af, wip-wip die stertjie en loer daar op die wortels van so ‘n groot boom wat bo die grond uit steek.


Na ons opgewas het pak ons die kar en maak by die Sunset dam ‘n draai.

‘n Entjie voor die dam staan ‘n troppie rooibokkies langs die pad en vreet aan struike se blare.

By die dam lê ‘n klomp seekoeie rustig aan die oorkant voor die ruigtes op die wal. Een staan met die pote effe uitmekaar geplant en rus met die bek op die grond.

‘n Seekoei-koei kom ‘n ent voor hulle uit die water na die kant toe gestap. Haar kalfie en ‘n opgeskote seekoei volg. Die ma en die opgeskote een sak ‘n ent regs van die ander in die vlak water neer.

Nou speel die kalfie daar naby die ma, dan gaan sy onder die water in, skop op die bodem vas en kom vorentoe uit die water dat dit sulke golfies maak en teen die kant op spoel.

Anderkant die seekoeie gewaar ons krokodille op die wal, een lê teen die kant met die punt van die stert in die vlak water. Na ‘n wyle lig die krokodil die lyf en stap ‘n paar tree vorentoe, dan gaan lê dit weer met die stert so skuins gedraai.

Hier voor ons bly die water gedurig aan die beweeg, dit maak sulke klein golfies en klots teen die kant.

Tienk tienk tienk … tienk tienk tienk … roep ‘n paar bontkiewiete en draf daar langs die water agter insekte aan.

‘n Olifant-koei staan ‘n ent weg in die ruigtes links van die dam aan ‘n boom se takke en vreet.

‘n Trop gewone tarentale kom anderkant die olifant op ‘n streep uit die veld gedraf, … tat tat tat tat tarrrrrr-tat-tat-tat-tat-tat … tarrrrrr-tat-tat-tat-tat-tat … raas dit soos hulle nader kom. Van hulle steek eers daar op die wal vas en pik op die grond, ander draf verder en gaan drink by die water.

Ons draai om, neem anderkant Onder Sabie-kamp die afdraai na Tshokwane se uitspanplek, sit die tog na Satara voort en be-oog om so na twee uur die middag by die kamp aan te kom.

Op die laagwaterbrug oor die Sabie rivier is dit stil, ook langs die pad tot by die Muntshe watergat aan die voet van die Lebomboberge.

Daar het ons darem so ‘n paar maal rooibokkies in die veld gesien en het Kate opgemerk: “Net wanneer ‘n mens begin dink daar is nie meer wild nie, dan stel die rooibokkies ‘n mens nie teleur nie.”

In die Mlondozi watergat omgewing, ‘n ent verder, staan ‘n hele klomp olifante in die ruigtes langs die pad en vreet. ‘n Kalfie met sulke kort tandjies staan by die ma en flap nou en dan die oortjies.

Die koei se kop is onder ‘n klomp struike in gedruk en waai die stert rustig terwyl sy die grasse op die grond met die slurp af pluk, dit in die bek sit en vreet.

Later draai die koei om, stap na polle kort groen grasse naby bossies in so ‘n oop stuk veld.

Die kleintjie volg en gaan staan die ma by ‘n pol gras, stut met die slurp aan die voorkant op die grond, druk die tone van ‘n voorpoot agter die pol in en wig dit los. Dan vat sy dit met die punt van die slurp vas en trek dit uit die grond.

Nou swaai sy die onderkant van die slurp so twee keer in ‘n sirkel, skud die sand af, sit dit in die bek en vreet. Terwyl sy kou, voel sy met die slurp na ‘n volgende pol gras, dan loer sy so met die oë.



Die kalfie staan skuins agter die koei, dié druk nou ook die tone van ‘n voorpootjie onder ‘n pol gras in en wig dit met die tone. Nou steun die kalfie aan die voorkant van die gras met die punt van die slurpie nes die ma, dan veg sy met die tone van die voet aan die agterkant in die grond. So werk sy die pol, stut met die slurpie, wig daar agter.

Na ‘n tydjie kry die olifantjie die pol gras met die slurpie beet, draai die puntjie van die slurp daarom en trek dit uit die grond. Dan swaai sy die onderste deel van die slurpie ‘n paar maal in ‘n sirkel, skud die sand af, sit dit in die bek en vreet.

Die kalfie stap nou so ‘n tree vorentoe en kry die bokant van nog ‘n pol met die puntjie van die slurp beet. Toe lig sy ‘n voorpoot en druk weer die tone agter die pol in die grond. Nou sukkel die olifantjie, wig so ‘n hele paar maal en veg later woes met die slurpie en tone. Uiteindelik lig sy die pol gras uit die grond, sit dit in die bek en vreet.

By ‘n volgende pol raak die olifantjie ongeduldig en skoffel nou met altwee pootjies in die grasse, met wéér geen slurpie wat aan die voorkant stut nie. So veg sy vorentoe en agtertoe met die pootjies oor die grond dat die stoffies so staan.

Later skoffel sy eers met die een poot en dan met die ander. Na ‘n tyd kom die slurpie by en pluk sy die pol gras uiteindelik uit die grond, skud die sand af en vreet.

Toe kom die kalfie agter dit werk nie so lekker nie en gaan staan weer by ‘n pol gras. Nóú stut sy die pol weer aan die voorkant met die slurpie, steek die tone van een poot aan die agterkant in die grond, wig die tone en werk dit los.

Dan draai sy die puntjie van die slurpie daarom, trek die pol uit die grond, swaai dit so ‘n paar maal in die rondte, skud die sandjies af en vreet.

By die Nkumbe uitkyk, ‘n ent teen die voet van die berg op, klim ons uit die kar en stap na die grasdak lapa. Daar onderkant die kop lê die veld uitgestrek in die vlakte so ver soos wat die oog kan sien. Later gewaar ons ‘n troppie sebras by ‘n groenigheid tussen bome, ‘n paar volstruise, ‘n entjie weg.

Verder met die pad aan, naby die onderkant van die koppie, staan ‘n paar kameelperde tussen die lang gelerige grasse langs die pad.

Een kameelperd staan met die kop tussen die takkies van ‘n boom deur. Dan krul hy die blou tong om blaartjies en stroop dit van ‘n takkie af. Nou kyk dit so ‘n slag terug oor die veld, dan krul hy die stert teen die boude op, draai terug en vreet verder. Na ‘n tydjie draai die kameelperd om en stap na ‘n volgende boom.



‘n Entjie weg in die ruigtes staan nog ‘n paar kameelperde en vreet. Een kameelperd draai die kop en kyk ‘n keer vir so ‘n tyd in ons rigting, dan wikkel dit die ore en vreet verder.

‘n Mikstertbyevanger sit daar in die toppie van ‘n boom. Die volgende oomblik vlieg die byevanger bokant die boom uit die lug in, jaag agter ‘n insek aan en vang die kossie, dan gaan sit dit op die tak van ‘n struik, slaan die kossie en vreet.

 

Later die oggend rek ons in Tshokwane se uitspanplek bene. Daar is dit in die bome die ene voël geluide en draf groot-blouoorglansspreeutjies op die grond agter kossies aan.

In die winkel koop Kate vir ons vir elk ‘n Solero ysie: Vir haar, pynappel en framboos, vir my, lemoen en veselperske en geniet ons dit op ‘n bank onder die bome.

Aan die een kant van die piekniekplek sit twee geelbekneushoringvoëls in ‘n struik … tok tok tok tok tóka tóka tóka tóka … gesels dit.

Oooooop oooooop … oooooop oooooop … hoor ons ‘n spookvoël ‘n ent weg.

Onder teen ‘n boom se stam sit ‘n groot bloukopkoggelmander in die sonnetjie en bak. Die kop is effe gelig en gaan die voorlyf en kop nou en dan so op en af.

Die volgende oomblik hoor ons ‘n luide boggom háága … dan nog boggoms, luider en weergalm dit van oorkant die rivier af ... háága! … háága! … háága! ... trek dit oor die veld en skree die opgeskote bobbejane daar anderkant blou moord.

Háága! … háága! … háága! ... kom dit weer van oorkant die rivier en skud die takke van ‘n boom woes soos een daar tekere gaan. Nou klim die groot bobbejaan mannetjie na ‘n tak nog hoër op, dan ruk hy aan die tak en boggom dat hoor en sien vergaan.

Die jonges skréé. Die klomp kom daar uit die boom geskarrel, ‘n mens sien net takke na onder toe oop en toe maak en hardloop hulle omkyk-omkyk die veld in.

Die ander bobbejane op die grond spat in alle rigtings. Nou kom die groot bobbejaan mannetjie uit die boom en klim moerig in ‘n boom langsaan op. Daar skud hy nou weer aan ‘n tak en trék die boggoms oor die veld.



By die Mazithi-dam lê heelwat seekoeie, ‘n entjie van so ‘n droë boom, aan die linkerkant in die vlak water by mekaar. Dit roer nie.

‘n Troppie sebras kom agter tussen die ruigtes deur teen die kop af oor die veld gestap, dit skud die koppe en waai die sterte. Hul gestreepte flanke maak golfbewegings terwyl hul nekke, met die dik maanhare, op die ritme van hul kragtige bewegings wieg.

‘n Klomp waterbok-koeie lê regs agter in die veld op die voorlywe en herkou. ‘n Familie vlakvarkies staan ‘n ent voor die waterbokke op die knieggies en skoffel met die snoete in die grond.

Langs die water staan twee kolganse en raas.

Drie bontkiewiete draf daar teen die water agter insekte aan ... tienk tienk tienk …  tienk tienk tienk … roep een nou en dan.

Kate beweeg tussen die voorste sitplekke deur na agter in die kar, slaan die middelste sitplek se rugleuning plat en haal vir ons elk 'n tupperware houer met ‘n vleis- en slaai toebroodjie wat sy vroeg oggend gemaak het uit die koelhouer in die bagasieruim. Sy skink vir ons koffie en geniet ons dit met die toebroodjie terwyl ons verder die omgewing bespied.

‘n Ent anderkant die dam gewaar ons twee dwergmuishondjies se koppe en voorlyfies tussen die lang grasse teen die pad uit kom.

 

Nou gaan sit hulle vir ‘n tyd op die agterente voor die droë geel-wit grasse en kyk met sulke vinnige beweginkies van die skerp gesiggies rond en in die lug op, dan draai hulle om en verdwyn in die gras.

 

In die N’watinungu watergat omgewing staan ‘n paar kameelperde, ook so ‘n ou kleintjie, ‘n ent van die pad rustig aan doringbome se blare en vreet.

Ons hou stil en beloer hulle vir ‘n wyle.

Die volgende oomblik trompetter ‘n olifant dat dit so trek oor die veld. Dan trompetter dit nog ‘n paar maal op ‘n hoër noot en sien ons ‘n ent vorentoe, regs van die pad, takke woes beweeg soos iets nader kom.

Daar gewaar ons twee olifantjies tussen die ruigtes deur wat hardloop dat die takke so kraak, nie ‘n manier van eens om die ruigtes nie, nee, dit gaan sommer so reguit daar deur.

Hier en daar is net ‘n kop, ‘n slurpie wat swaai en deel van die lyfies sigbaar soos die takke daar oop en toe maak. Nou trompetter dit weer, dan skréé die kalfies en hardloop dat die stowwe om die voetjies staan.

Toe storm ‘n groot olifant kort agter hulle tussen die bome deur en kom daar nou en dan so ‘n lae grom uit die lyf.



In Nkaya-pan omgewing stap ‘n klomp sebras op ‘n ry agter mekaar oor die pad. Aan die anderkant draf hulle teen die skuinste af tussen die lang geel-wit grasse deur die veld in.

Die voorstes loop al ‘n hele ent weg op die uitgestrekte vlakte, dit skud die koppe en waai die sterte.

‘n Merrie, met haar vulletjie daar by haar, staan aan die oorkant in die pad en ruik op die teer. Hul maanhare wapper in die wind en waai die vulletjie die stertjie weerskante teen die boude op.

Twee ander sebras kom voor hulle verby gestap, nou knik dit die koppe, skud ‘n keer die nekke dat die maanhare heen en weer gaan en draf aan die anderkant teen die skuinste langs die pad af die veld in.

Agter uit die veld kom nog twee sebras aangestap en gaan ruik eers daar by die merrie op die pad. Nou waai hulle die sterte teen die boude op, dan skud hulle nekke dat die maanhare woes heen en weer gaan. Een krap met ‘n voorpoot teen die bek, trek die bolip so op en ... pfffff … proes dit.

Nou en dan lig die vulletjie ‘n voorpoot en stamp op die teer, dan trap sy ‘n keer hoog met die voorpootjies.

Later kom daar nog ‘n paar sebras oor die pad gestap en gaan aan die anderkant teen die skuinste af die veld in. Nou draf die merrie en haar vulletjie saam met hulle tussen die lang grasse deur agter die ander aan.

Blaf-blaf-blaf blaf-blaf-blaf ... roep van die voorstes ‘n ent weg in die veld.

Ons sit die rit na Satara-kamp voort.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 938 votes
No! It's time to move on ...
33% - 455 votes
Vote
Rand - Dollar
18.81
+1.1%
Rand - Pound
23.51
+1.2%
Rand - Euro
20.12
+1.4%
Rand - Aus dollar
12.29
+0.9%
Rand - Yen
0.12
+2.4%
Platinum
922.90
-0.3%
Palladium
960.50
-3.0%
Gold
2,338.19
+0.3%
Silver
27.27
-0.6%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.3%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE