Share

Op vlerke: Moordskree oor leeujag

Ons ry een middag vroeg in die Kruger-wildtuin by Skukuza-kamp weg en maak by die laagwaterbrug, ‘n paar kilometer verby die kamp oor die Sabie-rivier, ‘n draai. Ons hou daar langs die water stil, beloer die omgewing en soek ook met die oë daar na die treinbrug se kant.

Anderkant die laagwaterbrug draai ons om en besluit om ‘n ent teen die Sabie-rivier op te ry voor ons na die kamp terug keer.

In die veld, langs ‘n stroompie water wat teen die pad verby vloei, staan ‘n vlakvark-beer en kyk oor die veld.

Die beer het sulke groot vratte onder die oë aan die kop, lang slagtande bo die snoet gekrul, die een tand so effe korter as die ander.

Die sog staan daar naby op die knieggies en skoffel met die snoet in die grond, girts-girts pluk sy die grassies af en vreet.

‘n Jong waterlikkewaan lê ‘n ent verder in die pad en is dié se kop deur ‘n kar se wiel plat getrap. ‘n Hamerkoppie stap belangstellend om die likkewaan.

Ons hou verby die afdraai na Skukuza en neem die Skukuza-Onder Sabie pad teen die rivier op. Daar sien ons bewyse van olifante se teenwoordigheid en is miskruiers in mis langs die kant van die pad doenig. Ook is daar ‘n groot kol op die teer en lê hier en daar vars takkies.

Regs in die veld staan ‘n boom so skuins. Die wortels is aan die een kant uit die grond gelig en is daar ‘n ent bo die grond ‘n kaal plek teen die stam waar olifante al daar doenig was.

Later gewaar ons bobbejane op rotse en in droë bome in die rivierbedding links van die pad. Háága! … háága! … háága!boggom dit dat hoor en sien vergaan. Van die bobbejane hardloop terug in die bome op en boggom daar op die takke dat dit weergalm oor die veld.




Vorentoe in die pad langs die rivier staan hordes karre in rye agter mekaar ingeryg en kan nie beweeg nie. Regs, ‘n ent weg in die veld, is ‘n grondpad en staan die karre daar net so bankvas.  

Ek hou so ‘n honderd meter agter die karre in die teerpad stil. Daar beloer ons die bobbejane links in die rivierbedding en luister na die boggoms.

Ook hou ons voor in die pad dop en sien later ‘n yslike bobbejaan-mannetjie, omkyk-omkyk, tussen die karre deur aangehardloop kom. Dit boggomskree iets verskrikliks, wild en bevreesd dat wie ook al wil hoor.

Háága! … háága! … háága! … trek dit oor die veld.

Die rooibokke langs die pad staan verstar, nou en dan snork een. Elke spier in daai gespande lywe tril.

Die gesperde oë.

Die volgende oomblik kom ‘n bokram regs uit die ruigtes langs die pad gestorm met ‘n leeuwyfie kort agterna. Die rooibok gooi ‘n es en probeer om die agterkant van ‘n bakkie daar voor hom kom om die leeuwyfie af te skud.

Die is egter soos ‘n streep weerlig agterna en gooi saam daai es. Sy trap dié kant wyd en trap dáái kant wyd soos sy die bok af keer.

Sy vlieg onder hom in dat hulle skoon teen ‘n agterwiel van die bakkie vas slaan en is die slag waarmee sy die rooibok tref, so enorm dat hulle bolmakiesie slaan met die leeu wat hom aan die nek in ‘n klem beet het.

Die bok beur orent en kom op die pote. Die leeuwyfie bly egter onder aan die nek klou al spook hy hoe. Sy vat hom af grond toe, maar veg die ram terug tot op die knieë met ‘n angswekkende gebulk uit die lyf.

In die rivierbedding skree die bobbejane moord, háága! … háága! … háága!weergalm die boggoms.

Dit sny deur murg en been, die hare staan orent.

Die leeuwyfie stoei hom terug na die grond, maar kom die ram weer op die knieë. Hy veg tot op die pote, trap vas en probeer om uit die leeu se kloue en die klem van daai kake aan die nek te spring.

Die ram gaan in die lug op, maar gryp die wyfie hom met die pote om die bolyf en nek.

Sy hang aan die bok, trek hom terug en staan die bok later bo-oor die leeu.

Nou skop sy met die agterpote en lig die bok op, dan trek sy met die voorpote en gaan hy oor haar na die grond toe.

Hulle is daar van die teer af op die skouer van die pad en kom die leeuwyfie regop met die bok se nek nog steeds in haar bek.

Sy dryf met die agterbene en beur in die lug op.

Die volgende oomblik vat sy hom heeltemal van die grond af.

Sy stap so twee drie tree op die agterpote, tóé kom sy met hom af grond toe en gaan met die ram tussen die voorbene teen die kant van die pad af.


 

‘n Mens besef onmiddellik dit is die natuur en is als verby. Kate het, toe die jag begin, dadelik begin video neem, sommer so deur die voorruit van die kar.

Na die leeuwyfie met die bok teen die kant van die pad af is, draai Kate nog eers weer na links, daar waar die bobbejane in die rivierbedding tekere gaan en vir ‘n vale boggom, neem video.

Ek kyk daar waar die leeu met die bok die ruigtes in is en sien toe die leeuwyfie is nié in die bos in en teen die kant af met die bok nie, maar druk hom teen die grond vas, daar by ‘n bossie en tussen grasse langs die pad, die kake aan die voorkant van bok se nek.

Voor in die pad kom ‘n yslike maanhaar aan, die massiewe dos maanhare met die onderste deel van die nek, die voorlyf tussen die bene en bo-op die skouers, ‘n diep donkerbruin.

Die leeu soek soos hy tussen die karre deur kom, die natuur in sy houding, sy hele lyf. Hy weet die jag het plaasgevind. Dan lig hy die kop en begin doelgerig in ons rigting draf. Hy kyk daar na links, draf tussen die karre deur teen die kant van die pad af en verdwyn in die ruigtes.

Ek ry onmiddellik hier van agter af nader en is daar toe geen kar tussen ons en waar die gevreet gaan plaasvind nie. Ek hou skuins in die pad reg oor die plek waar die wyfie met die vangs sit stil, skakel die kar se enjin af en begin Kate video neem.

Intussen het hordes karre van agter gekom en verdring hulle mekaar.




Voor tussen die karre kom twee jong leeu-mannetjies vinnig deur, dan nog een links uit die ruigtes langs die pad en gaan hulle by die bok af grond toe.

Nie lank daarna nie kom die groot maanhaar uit die veld gedraf en val daar by die tafel in.

Hulle pak die bok en druk teen mekaar met helse gromgeluide.

Na die groot maanhaar daar aangekom het, het die bok nog probeer, so half met dof-gesperde oë. Hy val toe sommer aan die vleiskant, daar by die boude in, trap daai bok met een groot voorpoot plat en begin vreet.

Daar was nie ‘n manier van eers ordentlik dood maak nie, nee, die bok het nog orent gebeur toe hulle die ingewande uit ruk.

Ons hoor die skeur van die lyf soos die leeus dit uitmekaar trek en veg.

Die breek van beendere deur massiewe kake.

Met yslike gromgeluide druk hulle mekaar met die lywe. Elkeen baklei om ‘n stuk van die bok.

Die groot maanhaar val na ‘n tyd by die voorkant in. Hy kom ‘n keer met die voorlyf op en kap met die pote na die ander leeus om hom, dan druk hy weer die kop vinnig by die karkas in, gryp ‘n stuk vleis en vreet gulsig verder.

Die wyfie beweeg na die agterent waar die grootman aanvanklik was. Na ‘n wyle kom sy orent, stap ‘n paar tree agteruit, gee so ‘n pluk en draf met ‘n lang stuk van die ingewande, wat sy daar losgeveg het, weg.

Nou stoei die groot maanhaar en die drie jong mannetjies om die res van die bok en het hulle op ‘n stadium die bok daar tussen hulle teen die bossie van die grond af.

Later is hulle met die karkas weer terug op die grond en lê twee mannetjies aan die rivier se kant, een stoei daar by die bok se blad. Die groot maanhaar veg nou weer by die bok se agterent, trap met die agterpote daar onder hom vas en beur so terug soos hy trek.




Die vierde mannetjie hier naby die pad het die bok by die rugstring agter die kop beet. Dié lê half bo-oor die karkas en probeer die groot maanhaar met die agterlyf weg keer.

Elkeen klou wat hy het en grom hulle vir mekaar.

Die een leeu daar aan die voorkant het later die blad losgeveg, nou gryp hy die stuk vleis en draf weg.

Die volgende oomblik staan die groot maanhaar met die stertkant van die karkas in die bek op. Die ander twee jong leeus, die een hier naby die pad wat half bo-oor die karkas lê, en die ander een aan die rivier se kant, klou nou éérs aan die bok.

Die maanhaar lig egter die karkas met die twee mannetjies wat daaraan klou op en sleep die karkas oor die veld en teen die wal af. Die rugstring breek, elkeen gryp ‘n stuk en draf die veld in.

Na ‘n tyd kom die leeumanne stuk-stuk terug en ruik op die grond waar daar nou net ‘n kol is. Dan vreet hulle die enkele bene wat hulle daar raakgeloop het op, ruik weer op die grond en loop terug na die ruigtes.

Die trop bobbejane, daar eenkant in die rivierbedding en van ‘n veilige afstand, het die hele tyd wat die gedoente aan die gang was, geboggom dat dit trék oor die veld.

Die kele was later skoon hees.

En hulle het nie boggom gefluister nie, nee, dit was asof hulle self gejag is.

Móórd is geskree.

Kate sê sy was die hele tyd van geen ander kar bewus nie, net die ene konsentrasie en vasgevang in die beloop van die natuur soos vasgevang deur die lens van die kamera.




Dit is nie lekker om aaneen na daai deel van die natuur en ontstelde bobbejane te luister nie. Daai boggoms, en is die res van die veld stil na die dood, buiten ook vir die moordskree van die groot bobbejaan.

‘n Paar aasvoëls, so drie of vier, het daar bo in die lug gedraai en later in ‘n boom daar naby kom sit. Hulle het geweet daar gaan vir hulle bykans niks oorbly na die leeus die bok opgevreet het nie. ‘n Enkele aasvoël was nog daar bo in die lug.

Ontstellend, dan besef mens eers die realiteit, die natuur is nie speletjies nie, nie ‘n manier nie.

‘n Mens kry beklemming van die dood, jy sien die doodmaak, die natuur in die bok se lyf, die bangheid wat omsit in oorlewing, sy oë, die oorgawe waarteen hy baklei al sou dit nie te laat wees nie.

Jy sien die spoed en ratsheid van die leeuwyfie toe sy die bok daar agter die bakkie jag, haar krag toe sy die ram so van die grond af lig.

Jy aanskou die brute krag van die groot maanhaar toe hy met die karkas en die twee leeumanne daarop van die grond af opstaan, dit daar teen die wal af sleep.

Jy sien die natuur in die leeus, veral in daai grootman se oë. Oorlog kan nie erger wees nie.

Jy hoor daai warm asems soos hulle om die bok veg, daar op die grond trek en beur, die helse gromgeluide, jy is stokstyf van te na aan die natuur.

Die reuk van die dood is nie al waarvan jy bewus raak nie, nee, nie na die bok se maag oopgeskeur is nie.

Jy hoor hoe die bok gevreet word, die bene kraak, die spiere skeur.

Jy is nie meer afsydig en neem net video nie.

Dit is hul gebied waarin jy nou is en moet jy dit respekteer. Dit is nie lekker nie, nie as dit binne tien meter van jou gebeur nie, nooit nie.




Ons weet nie hoeveel karre agter ons bygekom en daar gestaan het nie. Die jag in die veld was verby, maar in jou kop werk dit nog en skakel ek die kar se enjin aan.

Voetjie vir voetjie het ons vorentoe beweeg en ry ons in die rigting van Onder Sabie.

Verder langs die pad was daar nie veel te sien nie en het ons ook nie eintlik gekyk nie, maar net met die oë op die pad, teen so dertig kilometer per uur, die jag in jou kop.

Ons weet die pad draai later links op die brug oor die Sabie-rivier na die Skukuza-Tshokwane pad en kom ons daarmee terug na Skukuza.

Op die brug beduie ek vir Kate sy moet eers video van die rivier en die rustigheid daar onder neem.

Ons hou toe eers vir ‘n tyd daar stil om te kyk en so effe tot verhaal te kom.

 

Nota: Tydverloop van die oomblik dat die bokram in die pad gestorm het, totdat die leeuwyfie hom langs die pad teen ‘n bossie vasgedruk het, was 18 sekondes. Daarna het dertien minute verloop waarbinne die leeus die bok opgevreet het.

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think Minister Blade Nzimande made the right call to dissolve the NSFAS board?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, NSFAS mismanagement is costing students
29% - 94 votes
No, it's suspicious given that he's implicated
71% - 228 votes
Vote
Rand - Dollar
19.02
-0.2%
Rand - Pound
23.63
-0.0%
Rand - Euro
20.19
-0.2%
Rand - Aus dollar
12.22
+0.0%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
980.40
+0.4%
Palladium
1,035.00
-1.4%
Gold
2,387.21
+0.2%
Silver
28.76
-0.4%
Brent Crude
90.10
-0.4%
Top 40
68,349
0.0%
All Share
74,519
0.0%
Resource 10
63,879
0.0%
Industrial 25
100,148
0.0%
Financial 15
15,828
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE