Share

Op vlerke: Oornagplesier in Onder-Sabie

Na ons die middag met ‘n koffie op die rondawel se stoep ontspan het, maak ons, voor ons met die motor ‘n ent verder gaan verken, vlugtig by die omheining langs die Sabie-rivier ‘n draai.

Rustig vloei die water met so ‘n geruis voor ons verby. Daar staan die riete aan die oorkant van die rivier ‘n entjie van die water sulke plate teen die oewer uit tot teen die ruigtes.

Doooooo … doooooo ... borrel ‘n gewone vleiloerie ‘n ent weg, dan hoor ons ook rooikophoutkappers met hul luide sang in die kamp. Nou en dan vlieg ‘n swartkeelgeelvinkie uit die riete en kwetter dit soos van hulle daar bedrywig is.

‘n Waterbuffel lê regs oorkant die rivier op die voorlyf in die vlak water teen die wal. ‘n Paar meter van hom staan nog een so knie-diep in die water en waai die stert rustig teen die boude op.

Nou en dan flap dit die ore, dan vlieg ‘n paar rooibekrenostervoëltjies en gaan sit teen die skof. Nie lank nie, gaan sit hulle weer onder teen die ore.

Van die voëltjies vlieg uit die riete en gaan sit op die buffel wat in die water lê se rug, dan skarrel dit vinnig oor die nek en raak agter die kop doenig.

‘n Entjie van die buffels loop twee kleinwitreiers en pik insekte onder teen die riete af. ‘n Kolgans staan daar voor die reiers so vooroor langs die water en maak geluide.

Na ‘n tydjie kom die een buffel orent, stap uit die water en gaan lê ‘n paar meter weg op die voorlyf. Daar lê dit met die kop so vlak bo die grond en flap die ore. Nou en dan piets dit die stert teen die een boud op.

 

‘n Hele ent weg, daar na die winkel kompleks se kant, lê ‘n krokodil op ‘n groot sandbank, die stert skuins na agter in die vlak water, die bek so oop. Na ‘n wyle lig die krokodil die lyf, stap ‘n paar tree vorentoe, dan sak die krokodil af en lê weer in die sonnetjie en bak.

Oorkant ons in die rivier swem ‘n klomp kolganse teen die kant. ‘n Entjie van hulle loop nog ‘n paar op die wal. ‘n Grote kom nader gestap, gaan staan daar in die vlak water en kyk na waar die ander kolganse woel.

Tjirrrrr … tjirrrrr … kwetter hope kleinwindswaeltjies bo die water terwyl hulle agter kossies aan die lug inklief.

Twee kameelperde kom anderkant die kolganse uit die ruigtes teen die oewer af en stap tussen die riete deur oor die sand. Die bul gaan staan by die water en kyk vir ‘n wyle voor hom en teen die kant af. Dan buig hy die voorbene, plaas die pote, gaan met die voorlyf en kop af en teug die water.

Toe kom die ander kameelperd ook nader en staan daar langs die bul. Dan buig die koei die voorbene, plaas die pote, gaan met die voorlyf en kop af en drink.

Die volgende oomblik kom die bul met die kop op dat die water so ‘n boog vorentoe trek. Nou kyk hy vir ‘n tyd lank teen die rivier af, dan laat hy weer die kop sak en suip.

Nie lank nie kom eers die een kameelperd en dan die ander een met ‘n spoed regop dat die water weer met so ‘n boog trek. Nou waai die bul die stert weerskante hoog teen die boude op en kyk beide vir ‘n geruime tyd teen die rivier af. Dan draai hulle om, stap terug tussen die riete deur en gaan vreet daar bo teen die ruigtes.



Na vier uur die middag ry ons na die laagwaterbrug oor die Sabie-rivier so ‘n entjie van die kamp. Die rivier is weerskante van die brug breed oopgestoot en lê die water aan die bokant opgedam.

Aan die onderkant van die brug is daar so ‘n groot rotsbank in die middel van die rivier en staan daar ook eilandjies met graspolle op in die water wat daar verby vloei.

Hope opdrifsels wat die waters vroeër die jaar saamgebring het lê teen die kante en in die rivierbedding. Ook sit van die opdrifsels tussen rotse en teen rietpolle vas.

Die rivier vloei bokant die laagwaterbrug sterk na die een kant, gaan met ‘n geweldige geruis by ‘n oorloop oor klippe skuins af onder die brug deur en versnel aan die anderkant.

Daar maak die water so ‘n draai weg van die wal, spat teen die kante op en golf oor rotse dat die wit so staan. Dan kolk dit op ‘n paar plekke en jaag verder in die rivier af.

Op die groot rotsbank merk ons ‘n gewone vleiloerie wat tussen van die opdrifsels doenig is. Daar woel dit soos hy kossies soek.

Nou draf die vleiloerie oor ‘n klip, soek op die grond en agter die klip, dan draf hy na ‘n volgende klip en kyk rond. Nie lank nie soek die vleiloerie weer by die opdrifsels.

Toe hy daar niks kry nie, vlieg hy na ‘n eilandjie, wat ‘n entjie weg in die water is en soek daar teen die onderkant van die riete.

Later raak hy tussen die riete weg en sien ons nou en dan net die vlerke flap soos hy daar woel.

Die volgende oomblik kom die vleiloerie tussen die riete uit en spring op ‘n stuk stomp wat langsaan in die water vasgevang is. Nou kyk hy na die pol riete daar voor hom, dan vlieg hy na ‘n eiland verder in die rivier af.

Toe sien ons ‘n waterskilpadjie sit links van die stomp waarop die vleiloerie gesit het, op die eilandjie in die laatmiddag sonnetjie en bak. Die beentjies steek daar aan die agterkant onder die dop uit.

Nou soek ons of ons kan sien waar die vleiloerie heen is en sien ‘n bloureier staan ‘n ent weg na agter op ‘n sandbank teen die water en jag.




Voor ons die vuur vir aandete aansteek, maak ons eers weer by die Sunset-dam ‘n draai.

Die oppervlak is spieëlglad en weerkaats die laaste strale van die laatmiddag son en die ruigtes daar aan die oorkant weerskante van so ‘n groot grys-wit droë boom in die water.

‘n Hele klomp waterdikkoppies met die groot ogies sit hier links van die dam aan die onderkant teen die wal.

‘n Paar seekoeie waad rustig daar naby die boom, ander lê onder die water en kom een se ore en oë nou en dan bo die water uit, dan loer dit so.

Hô-hô-hô-hôô! … hô, gesels ‘n seekoei en wikkel die ore. Nog een kom met die kop uit die water op en blaas sproei deur die neusgate … tsjhuuu … spuit dit so ‘n ent in die lug op.

‘n Ent weg in die dam, van anderkant die middel, maak die water so ‘n sleep, dan sien ons nog een ‘n entjie terug en beweeg dit in ons rigting.

Toe kom eers een seekoei en kort agter hom nog een se kop en lyf bo die water uit. Nou wikkel hulle die ore en stap na die klomp daar by die droë boom.

Skuins voor ons loer so ‘n grote, net die bokant van die kop steek bo die water uit. Later sak die seekoei onder die water weg en kom daar ‘n lugborrel op. Die borrel breek deur die oppervlak, nou maak die water daar bo ‘n rimpeling en kring wyd na die kante toe uit.

‘n Klompie bobbejane kom uit die veld van die rivier se kant gestap en loop sekelstert oor die pad voor die dam verby. Van die wyfies en jonges volg die res van die trop wat reeds ‘n ent weg na die ruigtes toe op pad is.

‘n Paar bobbejane gaan staan in die veld ‘n entjie van die pad af en kyk op die grond, dan woel hulle met die vingers tussen die grasse. Een sit op die agterstewe en grawe ernstig, dan vee sy so met die oop handjie ‘n paar klippe weg en soek met die oë daar op die grond.

‘n Wyfie lê in die pad met die voorlyf oor die voorpote wat daar onder haar op die grond druk, die kop gelig, die boude in die lug. ‘n Tweede wyfie sit langs haar op die agterent en soek vlooitjies, eers soek dit op die rug, dan weer agter die nek.

Nou woel dit met die vingertjies en loer so met die oë. ‘n Keer gaan sy met die kop af, kry iets daar met die tande beet, dan kom sy orent en werskaf weer met die vingertjies.

Nie lank nie werk sy die pels daar agter by die ander een se boude so na een kant toe en maak dit so ‘n paadjie, dan vat sy ‘n stuk pels verder aan en werk dit weer daar na die een kant toe.

Later het sy die een by die stert beet en hou dit soos ‘n antenna daar in die lug, dan woel sy met die vingers teen die stert af en sit iets in die bek.

‘n Paar opgeskote bobbejaantjies kom so speel-speel aan. Hier en daar terg dit mekaar, dan skree een en hardloop die ander een so omkyk-omkyk weg, daar agter die voorstes aan.






‘n Bobbejaantjie kom met ‘n stuk ruitveër van ‘n kar wat sy agter haar in een poot aan sleep verby gestap. Die rubber val teen die kant van die pad uit die handjie, dan spring sy om en gryp dit weer.

Nou gaan sit sy op die boude daar in die pad, dan gryp sy dit met die agterpote vas en veg dit met die tande. Later is sy op die rug en het dit daar tussen die pote beet, nou veg sy die speelding dat dit so buig. Nie lank nie het sy die ding ‘n slag om die nek gewoel.

Later staan sy met die speelding in een voorpoot op, stap so op drie pote en sleep dit agter haar in die pad aan.

In die winkel koop ons vars groente vir ‘n mengelslaaitjie die aand, ‘n Du Toitskloof Merlot en piesangs, skaaptjoppies, ‘n pakkie boerewors en braaihout.

Terug by die rondawel skink Kate vir ons elk ‘n lang glas vrugtesap met ys in en kuier ons eers rustig op die stoep voor ek die vuur aan steek en sy met die bykosse begin.

Tjeloop tjriep tjoop … tjeloop tjriep tjoop … gesels swartoogtiptolle hier in die bome. Ook hoor ons glanspreeutjies en ander voëls se geluide. ‘n Heuglinse Janfrederik draf onder ‘n boom agter kossies aan. Dan hoor ons ook kolganse en ander watervoëls daar langs die water.

Kek kék-kék-kék … kek kék-kék-kék … raas ‘n Natalse fisantjie erns in die kamp.

Twee boom-eekhorinkies sit op die gras ‘n ent weg voor die rondawel en wip die stertjies, dan hardloop hulle van een boom na ‘n volgende.

Tjietjiejtietjietjie ...  tjietjiejtietjietjie … skree dit. Nou jaag hulle mekaar oor die gras en in die bome op, dan steek hulle vas en pof die stertjies, maak weer geluidjies en jaag!

Na vyf pak ek hout vir die braai en steek die vuur aan. Kate haal een van die groot botter-advokadopere van die huis af uit. Terwyl sy met die bykosse en slaai begin, maak ek vir ons die wyntjie oop en sien die vure word ook by van die ander rondawels aangesteek.

Die skaduwees raak bykans ongesiens langer. Die son se goue vlamme sit later daar aan die wolke se rande en sien ons die laaste oranje-roos teen die horison voor die skemer dit verdwerg.



Hô-hô ... hô … gesels ‘n seekoei nou en dan daar voor die restaurant in die rivier, ook hoor ons besies bo die geruis van die water hier anderkant die omheining in die riete.

Kate kom sit en gesels ons oor die dag, oor die trop buffels wat mekaar vroeg middag langs die rivier opgewen het, mekaar daar in die riete gejaag het. Die vleiloerie wat by die laagwaterbrug so tussen die opdrifsels rond gespring het.

“Ja” sê Kate, “en wonder ek waar daai bobbejaantjie aan daai stuk ruitveër van die kar gekom het.”

Hoog staan die vlamme en speel dit teen die buitelyne van die bome voor die rondawel. Nou en dan klap daar so ‘n houtjie, dan trek die vonkies.

Die reuk van bosveld braaihout en die geur van braaivleis hang in die lug. Later val van die tjoppies en wors se vetjies soos dit uitbraai op die kole, dan sis dit en trek daar so ‘n rokie.

‘n Kooltjie vlam nou en dan en lek-lek die vlammetjies teen die rooster. Nog so één draai, dan sal die tjoppies en wors reg wees, nog so ‘n lááste glasie Merlot.

Na ete sit ek nog so paar stompe op die kole, maak vir ons ‘n koppie koffie en skakel die stoep se lig af. Nou luister ons na die aandgeluide, die rivier ‘n entjie weg.

Hier langs die rondawel ritsel ‘n boom se blaartjies in die ligte briesie.

Nie lank nie brand die vuurtjie weer lekker, dan klap daar nou en dan so ‘n houtjie en trek die vonkies.

Tjirrrrt tjirrrrt tjirrrrt tjirrrrt … gesels ‘n kriekie in die gras. Hô-hô, hô-hôô! … hoor ons die seekoei bul weer daar voor die restaurant in die water.

Later sien ons ‘n hiëna se rug in die maanlig tussen die riete voor die omheining.

Háá!, háá!, háá!, háá!, háá! … skree ‘n dikstertnagapie in die bome en gaan maak ons reg vir die nag.

Laat aand en nog tot na middernag raas lelkiewiete op die sandbank in die rivier. Hô-hô-hô … praat die seekoei-bul weer ‘n ent weg in die water.

Whooo-hú … whooo-hú … whooo-hú … gesels die hiëna ‘n paar maal naby die kamp, dan hoor ons ook ‘n keer die … óóómf ... óóómf … óóómf … uit-die-maag steungeluide van ‘n maanhaar ‘n ent weg in die veld.

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
41% - 507 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
59% - 717 votes
Vote
Rand - Dollar
18.90
+0.2%
Rand - Pound
23.86
+0.2%
Rand - Euro
20.37
+0.3%
Rand - Aus dollar
12.31
+0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.2%
Platinum
908.05
0.0%
Palladium
1,014.94
0.0%
Gold
2,232.75
-0.0%
Silver
24.95
-0.1%
Brent Crude
87.00
+1.8%
Top 40
68,346
0.0%
All Share
74,536
0.0%
Resource 10
57,251
0.0%
Industrial 25
103,936
0.0%
Financial 15
16,502
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE