Share

Op vlerke: ‘n Gewakste kuif... moeilikheid!

Vroegoggend is ons van Krokodilbrug af onderweg na Olifantskamp. Nat, triestig en nie ‘n tortelduif wat koer nie.

By die afdraai van die grondpad na die Gezantfombi-dam draf ‘n paar wildehonde haastig voor ons verby en verdwyn in die ruigtes langs die rivier.

Diere is skaars, selfs by die watergate, ook later teen die Sabie-rivier op en is daar bykans geen beweging wat water loop soek nie. Die poele is sommer daar by hulle. Nou en dan sien ons ‘n rooibok.

‘n Troppie ooitjies wei ‘n keer ‘n ent weg in die veld. Hier en daar trap een met die pootjies hoog deur die grasse en skop dit so daar agter die nattegeitjies af.

Na ‘n Onder-Sabie ontbyt ry ons verder.

By die laagwaterbrug oor die rivier, op pad na Tshokwane, vlieg ‘n swerm kleinwindswaeltjies laag oor die water , ... tjirrrrr … tjirrrrr … kwetter dit en jag hulle die insekte wat die reën gebring het.

Ons hou vir ‘n wyle by die oorloop stil en luister soos die water ruis.

Wyd uitgestrek lê die rivier. Die water vloei links aan die bokant van die laagwaterbrug sterk na die een kant en gaan daar oor klippe by ‘n oorloop skuins af onder die brug deur.

Anderkant die brug versnel die water teen die kant af en maak dit so ‘n draai weg van die wal. Daar staan die wit soos die water teen die klippe en kante op spat, oor rotse golf, dit hier en daar kolk en verder in die rivier af jaag.

Tot anderkant Tshokwane was daar bykans geen wild nie, ook niks by die Mazithi- of die Kumana dam nie.



In Nkaya-pan omgewing groei die pragtigste skakerings pienk tot donkerrooi veldblomme, sulke spatsels, links tussen die kort nat grasse afgeëts teen die gebrande veld.

Hier en daar is ‘n plant met twee klompvormige blomme en sit die groot ronde druppels op die groen breëblare van die lelie plante. Die blomme staan soos vingers in die lug en is heelparty nog knoppe, so ‘n sagte groen daar aan die punte.

Voor Satara, op die Orpen-pad, staan vier sebras in die skaduwee van bome regs in die veld. Die sebras waai die sterte, skud die koppe en gaan die maanhare heen en weer. Die merrie stamp-stamp met ‘n agterpoot op die grond, trek die spiertjies, dan bewe die strepies so by die blad.

Die vulletjie lê langs die merrie in die grasse. Na ‘n tyd kom die vulletjie so effe op die voorlyfie, skud die koppie en gaan die maanhaartjies heen en weer, dan laat die vulletjie weer die kop sak.

Een sebra staan met die kop laag oor die grond. Iets pla by die bek en krap die sebra daar met ‘n voorpoot. Nou skud dit die kop en trek die bolip so op. Dan sien mens net tande en proes dit … pfffff!

‘n Ander sebra kyk daar na agter oor die veld en draai die ore.

Rooibok-ooitjies staan ‘n entjie van die sebras in die skaduwees van jong boompies en is daar in die grasse tussen die bome al sulke paadjies uitgetrap.

Van die ooitjies lê op die voorlywe en herkou. Nou en dan waai die oortjies. Een ooitjie loop onder ‘n struik deur en gaan staan. Dan laat sy die kop sak en krap met ‘n agterpoot teen die bek. Na ‘n tydjie stap sy verder, waai die stertjie, flits die wit. ‘n Ander bokkie lek met die tong daar voor by die blad.

‘n Geelbekneushoringvoël vlieg verby en gaan sit op die takkie van ‘n struik, ... tok tok tok tok toka toka toka ... gesels dit.



‘n Ent weg staan drie rooibokramme by struike in die veld. Een ram veg ‘n pol gras met die horings. Die ram kom orent en kyk oor die veld.

Dan gaan die ram weer vinnig af en sit die geveg met die pol gras voort.

‘n Hele klomp witooievaars stap tussen die grasse en gee sulke lang treë soos hulle jag. Uit die verte kom nog aan gevlieg. Hulle gaan sit daar naby die ander en begin fluks soek. Haastig stap dit so vooroor tussen die grasse. Nou en dan steek een vas, pik, lig die kop en laat die vangs in die keel af val. Dan stap dit verder en soek … sprinkaantjies.

Oorkant die pad staan ‘n vlakvark familie en vreet. Die kleintjies waai opgewonde die stertjies, piets dit so teen die boudjies op.

Liggeel- en wit skoenlappers fladder hier en daar in die veld, gaan sit, vlieg, fladder. Nou en dan sien ons ook bruines met sulke liggeel kolle op.

Voor die ingang na Satara-kamp is daar ‘n troppie rooibok ooitjies in die skaduwee van ‘n groot boom. Een ooitjie staan en vreet blare van ‘n bossie. Die ander ooitjies beweeg gedurigdeur, een lig ‘n agterpoot en krap by die pens, dan teen die bek. ‘n Ander bokkie se velletjie bewe ‘n keer so by die ribbetjie. Van die bokkies wikkel die oortjies, stap rond en waai die stertjies, flits die wit.

In die kamp maak ons ‘n draai by die restaurant, bestel vir elk ‘n wildspastei met so ‘n lang sous en slap tjips, tee en gaan geniet ons dit by ‘n bank op die stoep.

By die suiping anderkant die heining staan ‘n paar blouwildebeeste, knik die koppe, waai die sterte. Een stap na die water, sak die kop en suip.

Twee boom-eekhorinkies wip-wip die stertjies op die gras voor die restaurant. Dan spring dit weg, hardloop oor die gras van een boom na ‘n volgende … tjietjiejtietjietjie ...  tjietjiejtietjietjie … skree dit en jaag hulle mekaar oor die gras tussen die bome, dan in die bome op, pof die stertjies, maak geluidjies … jaag!

‘n Grootblouoorglansspreeu sit en gesels aanmekaar op ‘n takkie van 'n struik. ‘n Groepie grysneushoringsvoëls vlieg verby … fee fee fee feeoo-feeoo-feeoo-feeoo fee feeoo-feeoo-feeoo … roep dit en gaan sit hulle in ‘n bossie daar in die veld anderkant die suiping. 'n ander hier in die bome.




In die Ngotso-Noord omgewing stap twee gompou wyfies in die veld. ‘n Ent verder loop die mannetjie met gepofte wit nekvere. Dit lyk of hy ‘n manel aan het en stap dit regop, die swart kopvere so skuins na agter soos ‘n gewakste kuif.

‘n Klomp tarentale kom op ‘n streep oor die veld op pad na die suiping toe gedraf … tat tat tat tat tarrrrrr-tat-tat-tat-tat-tat … tarrrrrr-tat-tat-tat-tat-tat … raas dit.

By die N’wamanzi-uitsig oor die Olifantsrivier sit ‘n troppie apies op die grond, van die kleintjies drink. Enetjie loer daar van onder die ma uit waar dit tussen die agterbene sit. ‘n Mens sien net oë, die pienk gesiggie en daai groot ronde ore tussen die yl haartjies deur.

‘n Ander pienke se beentjies kan nog nie die gewig van die kop en lyf hanteer nie en stap-val die kleintjie op die grond na takkies by die uitsig op sulke onvas beentjies. Dit gly so onder die apie uit, ... stert, die wêreld vol.

Drie opgeskote apies karnuffel mekaar daar eenkant op die grond. Dan spring hulle aan mekaar, gryp, rol en stoei dit so. Raak dit te rof vir die enetjie, spring sy op en hardloop in ‘n boom op. Jak-jak...jak-jak… jakke-jakke…jakke-jakke, staan en raas die grootman aap ‘n ent-weg op ‘n tak.



By die afdraai na die kamp langs die rivier gesels ‘n magdom besies in die bome en sit daar ‘n paar rooikeelbyvreters op ‘n struik se tak. Elke nou en dan vlieg ‘n byvreter op, maak ‘n vangs en gaan weer sit. Dan slaan dit die vangs teen die tak, gooi die kop agteroor en sluk.

In Olifantskamp pak ons die bagasie in die rondawel af en hoor ons die geruis van die water daar onder in die rivier.

Later gaan sit en beloer ons die omgewing by die uitkyk voor die winkelkompleks. Op die vlakte aan die oorkant van die rivier tel ons vyf kremetartbome.

Regs by die draai van die rivier staan ‘n paar kameelperde teen die ruigtes en vreet. Ons sien net die nekke en koppe so tussen die bome deur.

Twee olifante loop teen wal uit terug na die ruigtes.

Seekoeie se koppe steek in ‘n poel langs ‘n sandbank bo die water uit. ‘n Paar staan en vreet daar naby op die wal tussen die riete en loop ‘n koei met haar kalfie stadig terug na die water.

Links in die rivierbedding af lê die pragtige roesbruin rotsbanke, die kranse teen die kant.

In die winkel koop ons later braaihout en vuuraanstekers vir die aand.

Terug by die rondawel geniet ons ‘n koffie op die stoep.

Twee eekhorinkies sit daar ‘n ent weg op die grond en pof die sterte. Dan spring dit weg en jaag mekaar tussen die aalwyne rond. Nou en dan steek een vas, dan wip-wip dit die stertjies ... jaag!

‘n Geelbekneushoringvoël kom sit hier naby op ‘n Mopanie-tak ... wei die oë. Tjerleeeeoo … tjerleeeeoo … tjerleeeeoo … gesels die rooivlekspreeutjies op die braai.

Die trrrrrrr … trrrrrrr van ‘n mannetjie kuifkophoutkapper trek ons aandag en sien ons later een in ‘n boom so twee meter van die rondawel af.

Die houtkapper vlieg daar van ‘n tak na ‘n opening in die dik stam en gaan met ‘n vangs in die bek daarin.

Na ‘n tydjie kom die houtkapper so halflyf uit, loer ‘n oomblik, dan vlieg dit weer. Nie lank nie, is die houtkapper terug met nog ‘n vangs in die bek.



Na vyf steek ek die vuur vir die varktjops en boerewors aan. Kate het intussen opgestaan en maak solank kaas-, tamatie- en uie-toebroodjies vir later se braai.

Ek skink vir ons ‘n pinotagie.

Kate kom sit en geniet ons ‘n glasie met die son se laaste strale wat tussen die bome deur agter die horison verdwyn.

Die vuur brand lekker hoog en gesels ons oor die dag, oor "die een met die gewakste kuif", ... "dáái pienke" …, "die stert die wêreld vol" ... en grinnik ons.  

Later sit ek nog twee hardekool houte op en tuur ons in die vlamme. Nou en dan klap daar so ‘n houtjie, dan spat die vonkies.

Hô-hô … hô hôôô! ... hô-hô ... praat ‘n seekoei daar in die rivier en hoor ons ook kolganse bo die geruis van die water wat raas.

Whoooo-hú … whoooo-hú … gesels ‘n hiëna ‘n ent weg naby die omheining teen die kamp.

Ek staan op, krap die kole vir die varktjops en boerewors, dan sit ek die rooster op die braai en skink vir ons nog ‘n glasie. Nie lank nie drup die vetjies op die kole, sis dit, maak dit so ‘n rokie en vang ons die geur van die tjoppies en wors.

 Later sit ek die toebroodjies in die toeknyp rooster en sien ons ‘n sivetkat teen die draad.

Na ete was ons op en gaan sit en luister vir ‘n wyle op die stoep na die geluide daar op die berg. So by nege uur gaan kruip ons in.

Keep-keep-keep-keep keep-keep-keep-keep ..., hoor ons die laataand-gesels van  lelkiewiete by die water, ook deur die nag en nog tot in die vroeë oggend ure.

Óóómf … óóómf ... óóómf … kom die steungeluide van ‘n maanhaar ‘n paar maal oor die berg.

Whieeaah … whieeaah … tjank ‘n rooijakkals ‘n keer in die verte.

Vroeg die volgende oggend maak Kate ontbyt: Bruin-saad roosterbroodjie in die braaipan, sagte botter-advokadopeer word ruim op die broodjie gesmeer, roereier met gerasperde cheddarkaas volg bo-op, sout en peper, ‘n puntjie van die vorige aand se oorbly wors, ‘n koppie swart koffie en twee suiker.

Vars is die oggendlug en trek daar so ‘n ligte briesie. Onder in die rivier ruis die water. Nou en dan gesels ‘n seekoei.

‘n Paar rooivlekspreeutjies vlieg en kom sit op die stoep se muurtjie ... tjerleeeeoo … tjerleeeeoo … tjerleeeeoo … gesels dit. Nie lank nie kom sit ook weer die geelbekneushoringvoël op ‘n tak voor die rondawel, wei die oë.

Ons pak die kar en vat die pad terug huis toe.

Teen die berg af, ‘n ent buite die kamp, staan ‘n boskorhaan mannetjie langs die pad. Die mannetjie rek die nek en kyk rond.

Na 'n tyd draai die korhaan om en sien ons die pragtige pikswart ondervere met wit by die nek. Dan maak dit die bek oop en toe en begin die klapgeluide, die bo- en onderbek op mekaar. Nou trap-trap die korhaantjie so met die pootjies en raak die klanke al harder met die roep wat aangroei na 'n reeks harde fluite wat weerklink oor die veld.

Die volgende oomblik vlieg die mannetjie bykans loodreg in die lug op, bokant die toppies van die bome uit en maak die vlerke toe. Dan duik die mannetjie grond toe, maak die vlerke so drie meter bo die grond oop, sweef weg en gaan sit.



Anderkant die N’wamanzi-uitsig staan ‘n klipspringer ooitjie en ‘n rammetjie langs mekaar op die oewer van die Olifantsrivier en staar daar na iets ‘n ent weg in die veld. ‘n Paar maal wikkel die ooitjie die stertjie en stamp met die linker agterpoot op die grond, dan staar sy weer.

‘n Keer rek sy die nek en wikkel die stertjie. Die rammetjie staan roerloos.

‘n Hele ent weg staan ‘n tweede rammetjie so regop met sulke gesonde horinkies en kyk na die twee daar op die oewer. Nou en dan wikkel die rammetjie die stertjie en stamp met die linker voorpoot op die grond, dan bewe die velletjie so by die ronde boudjies ...  sien ons hier kom net moeilikheid.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
68% - 1912 votes
No! It's time to move on ...
32% - 915 votes
Vote
Rand - Dollar
18.62
+0.9%
Rand - Pound
23.32
+0.7%
Rand - Euro
19.95
+0.5%
Rand - Aus dollar
12.14
+0.3%
Rand - Yen
0.12
-1.3%
Platinum
963.20
+1.8%
Palladium
955.50
-0.2%
Gold
2,318.80
+1.4%
Silver
26.67
+1.5%
Brent Crude
86.33
-1.0%
Top 40
69,925
-0.7%
All Share
76,076
-0.5%
Resource 10
61,271
-4.5%
Industrial 25
105,022
+0.4%
Financial 15
16,591
+1.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE