Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Smulpaap: The Kitchen, anderse eetplek

Deur: Carla van Rensburg 2012-06-12 12:04
Woodstock, Kaapstad, is bekend vir sy besige strate en vorm deel van die besigheidsdistrik van dié stad. Dit dien ook as ‘n besondere toeriste-bestemming in die mooie Moederstad.

(So tussen ons: Ek kry deesdae gans te min kans om die kos te maak wat gesorg het dat my gunsteling-stokperdjie – soektog na besonderse restaurante – sy merk gemaak het aan my middel én my bankrekening.)

'n Klipgooi van die werk af ontdek ek dié beroemde eetplek, The Kitchen. Beroemd? Beslis, dis die eetplek wat die Amerikaanse First Lady, Michelle Obama, gekies het vir middagete tydens haar besoek aan Kaapstad. (Lees die inside info hier). 
 
Hierdie klein juweel word besit deur Karen Dudley, ‘n gesoute kok wat in top-Britse en VSA-eetplekke opgelei is en gewerk het. Karen en haar span berei gesonde etes voor met ‘n nuwe spyskaart elke dag. Die gewone sluit in ‘Love Sandwiches’ (want dit is mos met liefde gemaak), sowel as die middagete-slaai-kardoesies wat elke dag nuwe slaaikombinasies bevat.
 
My eerste raakloopslag van The Kitchen was toe ek as ‘rookie’ moes middagete bekom vir die werk. Dit was ‘n geskarrel om voor in die ry te kom, maar toe ek die voorreg gehad het om my neus teen hulle kosvertoonbank te druk, besef ek wat die oponthoud veroorsaak. My keuse was ‘n beet, appel en koljander slaaikardoesie (sien resep onder) en ‘n Scotch egg.
 
Vroeër vanjaar is die Scotch egg genomineer as dié ‘comeback dish’ van die jaar – iets wat ek nie kon weerstaan nie. Laat ek julle vertel, ek kon nie gou genoeg in my motor klim om hierdie eier te gaan proe nie. Dit was vanuit ‘n ander wêreld! Weg met oordrewe fynkos en in met gourmet straatkos. Net daar en dan, in my tjor in Main straat besluit ek – Karen Dudley se plat op-die-aarde kos kry my stem honderd ma(a)l oor!
 
Beet, Appel en Koljanderblare

4 medium bete sag gekook, geskil en gerasper
4 medium Granny Smith appels, geskil en gerasper
½ koppie vinaigrette slaaisous
1 E heuning
70g gekapte koljander blare
sout en peper
Meng die bestandele saam en geur na smaak.
 
Karen Dudley het pas haar eerste boek (met resepte), A Week in the Kitchen, gepubliseer.




«Terug