Dit is verblydend dat minstens een senior ANC-lid die lig begin sien, maar een swaeltjie maak gewis nie ’n somer nie.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Donderdag erken die ekonomie is in ’n gemors omdat ANC-lede nie die nodige ervaring het om burokratiese poste met ingewikkelde begrotings te bestuur nie.
Mantashe het gesê dit is “soos om veldmuise ’n kaasfabriek te laat bestuur”.
In dieselfde week het pres. Jacob Zuma parlementslede geskok met sy uitlatings dat hy niks daarmee verkeerd sien dat ANC-politici en die party self regeringskontrakte losslaan nie.
Zuma se siening is baie duidelik. Dit gaan nie oor die belange van Suid-Afrika nie. Die ANC beskou die staat as sy eiendom en enige lid met die regte getuigskrif is welkom om te plunder aan die miljoene rande wat hardwerkende Suid-Afrikaners jaarliks in die vorm van belasting aan die regering oorbetaal.
Dit maak nie saak of ’n kader ’n staatskontrak bekom wat hy nie in staat is om na te kom nie, of ’n ander ’n pos kry waarvoor hy nie opgelei is nie – dit kom neer op wanaanwending van belastingbetalers se geld.
En hoe verblydend dit ook al mag wees dat ’n ANC-leier soos Mantashe dit insien, sal niks daaraan gedoen word solank Zuma in beheer van die land is en hy staatsposte en kontrakte uitdeel om sy magsposisie te behou nie.
Dat dit Suid-Afrika se beeld skade berokken, is reeds waar, want Suid-Afrika se kredietgradering is die laaste tyd afwaarts aangepas omdat die buitewêreld toenemend begin twyfel aan die ANC-regering se vermoë om die land se geldsake doeltreffend te bestuur.
Dit is om dié rede dat die ANC-leierskorps so heftig reageer wanneer iemand uit hul eie geledere die moraliteit van die ANC aanval. Hulle weet die buitewêreld sien dit raak.