Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

ANC tot ‘regte ding’ gedwing

2012-06-09 11:32
Die ANC moet ophou om die fout by die howe te soek en die hand in eie boesem steek.

Die Grondwet magtig ons regbank om enige regeringsbesluit te hersien en te toets of dit redelik en rasioneel is. Dieselfde geld wetgewing: Dit is vir die konstitusionele hof om te bepaal of die wette wat geskryf word deur die parlement – waar die ANC ’n meerderheid het – grondwetlik is of nié.

Net so staan dit enige persoon of groep vry om hulle tot die hof te wend, sou hulle meen die regering vertrap hul grondwetlike regte of doen nie wat hy veronderstel is om te doen nie.

Die sage rondom lt.genl. Richard Mdluli is ’n sprekende voorbeeld van hoe die regering sy plig versaak het en dit eindelik van die burgerlike samelewing vereis is om deur die howe te verseker dié geskorste intelligensiehoof bly ver weg van die polisie.

Regter Ephraim Makgoba van die hooggeregshof in Pretoria het Freedom Under Law (FUL) se dringende aansoek toegestaan wat Mdluli verbied om enige pligte as polisielid uit te voer. Regter Makgoba het boonop bevind daar is ’n prima facie-saak teen Mdluli wat kan meebring dat verskeie aanklagte teen hom – waaronder moord, ontvoering, bedrog en korrupsie – weer ingestel kan word.

FUL het reeds by die hof aansoek gedoen om die nasionale vervolgingsgesag se besluit om bogenoemde aanklagte teen Mdluli te laat vaar op hersiening te neem.

Wat dié gebeure demonstreer, is dat die burgerlike samelewing die howe moet gebruik om die ANC-regering te dwing om die regte ding te doen. En dit gebeur ál meer.

Maar pleks van lesse daaruit leer en beter te regeer, verkies ANC-politici om hul aanvalle te verskerp op die regbank en diegene wat dit durf waag om hul besluite in die howe te beveg.

Ngoako Ramatlhodi, ’n swaargewig-ANC-lid en adjunkminister van korrektiewe dienste, het Woensdagaand in Upington dié taktiek verder gevoer toe hy gesê het ’n “tirannie van minderhede” misbruik die howe om die kabinet te ondermyn.

Pres. Jacob Zuma het verlede jaar dieselfde deuntjie gesing toe hy aangevoer het groepe (lees minderhede) wat by die stembus verloor, wil die land deur die howe regeer.

Dit is uitsprake soos dié wat ’n mens toenemend laat dink die ANC wil beheer kry oor dit wat hy nog nie beheer nie: die regbank, die media en die burgerlike samelewing.

Dit is dus geen wonder daar is agterdog oor wat die regering bedoel wanneer hy sê die regbank moet “transformeer” nie. Dit is geen wonder nie daar is agterdog oor die regering se motiewe om die konstitusionele hof en die appèlhof se uitsprake te ontleed. Dieselfde geld bekommernisse oor die Wetsontwerp op Regspraktisyns wat ’n gesiene advokaat beskryf as “die grootste enkele bedreiging vir die onafhanklikheid van die regsberoep”.

Die feit is as die ANC-regering sy verpligtinge en mandaat uitgevoer het soos dit hom in ’n grondwetlike demokrasie betaam, sou hy nie so gereeld in die land se howe moes bontstaan om sy besluite te verdedig nie.
«Terug