Met ’n hoë padongeluksyfer soos Suid-Afrika s’n is dit lewensbelangrik dat daar stappe kom om paaie vir almal veiliger te maak.
Elke padsterfte is een te veel. Internasionale statistieke wys ons land het pro rata van die hoogste padongeluksyfers ter wêreld. Dronk- en roekelose bestuur, onpadwaardige voertuie, veral taxi’s, en onbekwame padgebruikers is grootliks hiervoor verantwoordelik.
Daarom word die voorgestelde streng reëls vir voertuie en hul base – wat as wysigings aan die Nasionale Padverkeerswet in die Staatskoerant afgekondig is – verwelkom.
Dit sluit in dat motoriste hul besonderhede binne 12 maande nadat die wetswysigings aanvaar is, aan die owerhede moet gaan toon. Dít behels volle name, adresse, ID-nommers en geboortedatums.
Verder word aanbeveel dat voertuie ouer as tien jaar weer ’n padwaardigheidstoets ondergaan en bestuurskole en vervaardigers van nommerplate strenger gereguleer word. Nog ’n verbetering is die aanbeveling dat bestuurders van swaar vragmotors ’n perk kry vir die aaneenlopende tydperk wat hulle mag bestuur.
Jong, roekelose bestuurders sal tot groter versigtigheid gedwing word as die voorstel op die wetboek kom dat nuwe bestuurders tydelike rybewyse kry wat vir ’n jaar geldig is.
Húlle is juis van die grootste slagters op ons paaie.
Indien sulke jong bestuurders dronk bestuur of na drank ruik, die snelheidsgrens oorskry of ’n voertuig met passasiers oorlaai, kan hul rybewys opgeskort word vir 24 maande.
Al hierdie nuwe reëls gaan die Nasionale Verkeerswet verbeter, maar as dit nie meedoënloos, sonder aansiens des persoons toegepas word sodra dit wet word nie, sal dit nie die papier werd wees waarop dit gedruk gaan word nie.