Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Kom ons gee Phiyega 'n kans

2012-06-16 16:06
Die kritiek teen genl. Riah Phiyega se aanstelling as na­sio­nale polisiehoof is te verstane, in ag genome dat die polisie sedert George Fivaz se vertrek in 2000 rondgeval het tussen twee skandelike polisiehoofde wat suiwer politieke aanstellings was.

Phiyega kom nes haar voorgangers Jackie Selebi en Bheki Cele nie uit die polisie nie. Maar om dit as die enkele grootste rede voor te hou vir hoekom sy gaan misluk, is dwaas.

Miskien het pres. Jacob Zuma juis in dié opsig vir eens ’n beter besluit geneem deur iemand aan te stel wat nie met enige faksie binne die polisie verbind word nie. Die polisie se topstruktuur is erg verdeeld en daarom sal ’n buitestander wat geen lojaliteite teenoor enigiemand het nie die proses van skoonmaak met suiwere motiewe dryf.

Dit sal Phiyega egter loon om te let op die foute wat Cele begaan het. Dit is nie dat hy nie ’n beroepspolisieman was wat Cele tot ’n val gebring het nie, maar eerder die gebreke in sy persoonlikheid wat hom gekelder het.

Cele hét immers ’n paar dinge reg gedoen – een daarvan is dat ernstige geweldsmisdaad in 2011 vir die eerste keer in ’n dekade aansienlik afgeneem het. Niemand vóór Cele kon dit vermag nie.

Phiyega moet weet Cele het misluk omdat hy gedoen het soos hy wou, omdat hy hom nie aan tesourie-regulasies en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gesteur het nie en belastingbetalers se geld bestee het asof dit sy eie is.

Cele het voorts misluk omdat hy ’n kultuur van begunstiging en partydigheid in die polisie gevestig het.

Ook het Cele tot ’n val gekom omdat hy hom aan niemand verantwoordbaar wou maak nie en omdat hy die raad van beroepspolisiebeamptes met dekades ondervinding in die wind geslaan het.

Phiyega moet dié lesse ter harte neem. Sy moet luister na haar topbestuurslede, maar steeds haar eie stempel afdruk op ’n polisiediens wat ’n bekwame leier dringend nodig het.

Sy moet weet daar sal dwarstrekkers wees wat haar gesag van dag een af sal probeer ondermyn. Sy sal haar ook moet staal teen erge kritiek en waarskynlik politieke druk.

Te oordeel na haar eerste kennismaking met die media Donderdagoggend op ’n mediakonferensie in Pretoria lyk dit of Phiyega die krisis in die polisie soos ’n sakebestuurder benader. Sy wil die vrot appels uitgooi, nuwe stelsels in werking stel om te verseker belastinggeld word verantwoordelik bestee en die personeelkorps agter haar verenig.

Die polisiediens is vir haar soos ’n maatskappy wie se handelsmerk – dit is moraal, geloofwaardigheid en vertroue – in ere herstel moet word.

’n Berg Everest staar Phiyega in die gesig: Sy moet 200 000 personeellede en ’n begroting van R62,4 miljard bestuur én terselfdertyd een van die gewelddadigste samelewings in die wêreld polisieer.

Suid-Afrikaners wil veilig voel en wees. Ons wil ’n polisiehoof hê met integriteit en wat respek afdwing.

Phiyega vra 12 maande voordat ons ’n oordeel vel. Kom ons gee haar ’n kans.
«Terug