Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Medaljes groei nie aan bome

2012-08-05 00:39
Blye trane het gevloei en histeriese krete het in voorkamers en in kantore opgeklink toe ons sportmanne in die eerste ses dae van die Olimpiese Spele drie goue medaljes oes.

Presies 20 jaar nadat ons as ’n demokrasie in Barcelona ons hertoetrede tot die Spele gemaak het, laat spat ons swemmers rekords en skiet ons roeiers soos uit die niet verby die verontwaardigde Britte en raap die goue medaljes op.

Jitte, dit voel goed.

Doodgewone mense wat dit nie eens in warm weer naby water waag nie bars van trots toe die Durbaniet Chad le Clos die hel los swem en die grootste Olimpiese kampioen van alle tye, Amerika se Michael Phelps, rakelings klop.

En tog: klop is klop.

Prof. Karel Botha van die Noordwes-Universiteit meen dit voel so goed, want sportprestasies lol met ons koppe – ons breine stel meer serotonien vry wanneer Chad of die Proteas of die Springbokke presteer. Asof dit ons eie prestasie is.

Dit voel veral goed omdat dit meriete alleen is wat by die Spele tel, en tog kan ons met die heel bestes meeding. Dis ’n tydelike opkikkering wat ook wondere doen vir die sosiale kohesie waaroor ons graag op berade praat.

Maar hoe maak ons seker dat ons vanjaar se medaljetelling in 2016 in Rio de Janeiro en weer by die Spele in 2020 ewenaar – of klop? Suid-Afrika se vrot prestasie in 2008 in Beijing hou gedeeltelik die antwoord in.

In die vier jaar sedert Beijing is sowat R80 miljoen belê in die koestering en ontwikkeling van ons uiteindelike Olimpiese span van 125 deelnemers.

Groot helde soos Cameron van der Burgh sê self Saskok, ons Olimpiese komitee, het mooi na hom gekyk. Borge stel hom in staat om enige swemgala deel van sy program te maak. Maar 90% van ons Olimpiese deelnemers is nie so gelukkig nie.

Dit is inderdaad ’n pluimpie vir ons sportadministrateurs, sportwetenskaplikes en afrigters dat al ons medaljewenners sover plaaslik afgerig is. Ook deelnemers se ouers, wat lang ure langs baddens en bane op hul telge wag, verdien eer. Meer geld en die toewyding van dosyne mense agter die skerms het vrugte afwerp.

Maar ons besteding aan sportontwikkeling skiet steeds ver tekort, soos wat die sportwetenskaplike Ross Tucker verlede week in Rapport gesê het. Brittanje het die afgelope vier jaar soveel aan pluimbal bestee as wat Suid-Afrika se ganse Olimpiese span by Saskok gekry het; in die vier jaar voor Beijing het die Britte meer as R300 miljoen op roei uitgegee (dit maak natuurlik ons eie medalje soveel meer indrukwekkend).

Toegegee: ons is armer as Brittanje. Daar is ander, dwingende prioriteite. Maar standaarde in die sportwêreld kruip mee­doënloos boontoe. As ons wil verseker dat die jong Chad oor vier, agt en twaalf jaar vir Suid-Afrika medaljes losswem eerder as vir ’n ryk, woestynryke oliestaat, sal ons van skooldae af al hoe meer in loopbane soos syne moet belê.

Sy oorwinnings is tog ons almal s’n.
«Terug