Rapport

Pres. Zuma, ons hou jou dop in 2013

2012-12-22 23:56
Meningspeilings wys enersyds stedelike Suid-Afrikaners het min aptyt vir pres. Jacob Zuma. Andersyds het dit aan die vooraand van Mangaung getoon adj.pres. Kgalema Motlanthe is gewilder onder gewone mense as sy charismatiese baas. Gauteng, die Wes-Kaap en Limpopo is maar drie van die provinsies waar die ANC self óf erg verdeeld is oor Zuma se tweede termyn as leier van die party óf openlik daarteen gekant is.

Onder sy vyande kan Zuma boonop deesdae invloedryke strydrosse soos Tokyo Sexwale en Mathews Phosa tel.

Binne en buite die ANC sal sy kritici sê Zuma was onbeholpe ná die bloedbad by Marikana en ontwykend nadat Rapport en City Press onthul het byna R250 miljoen uit die staatskas is aan sy private woning by Nkandla bestee. Hy was kleinserig oor Brett Murray se skildery The Spear, hy teer op aalmoese, soos Mail & Guardian voorverlede week berig het, en aan sterk morele leierskap is daar ’n klaag­like gebrek.

Maar dié Zuma van wie se gebreke so baie van ons so bewus is, staan die sterkste nog. Sy oorwinning by Mangaung was oorweldigend en die ANC se topstrukture is van sy vyande gesuiwer. In kern-kabinetposte, waaronder justisie, polisie, intelligensie en verdediging, het hy getroue bondgenote wat almal herkies is in posisies in die nasionale uitvoerende komitee. Op openbare verhoë die afgelope week het hy van selfvertroue gestraal. Hy is die man van die oomblik.

Daarom moet ons radars aangeskakel wees, ons oë kyk soos dié van valke, ons ore gespits bly vir die onafwendbare verdere vergrype van ’n moreel mank president met ’n magsbasis wat amper onaantasbaar lyk.

In die maande wat kom gaan aanklaers opnuut oorweeg of Zuma vervolg moet word weens sy rol in die wapen­skandaal. Die Demokratiese Alliansie gaan Zuma se eie regsverteenwoordiger probeer dwing om, soos wat die howe beveel het, bandopnames te oorhandig op grond waarvan aanklagte teen Zuma indertyd laat vaar is.

Dit kan daartoe lei dat die “onaantasbare” president, daardie vasbyter, daardie charismatiese Zoeloe-patriarg, daardie liefling van nagenoeg 75% van ANC-afgevaardigdes by Mangaung, sy onskuld in ’n hof moet bewys. Hou dié proses fyn dop, want ons president se veglus is herstel, en om hom is lojale kaders wat tot die einde vir hom sal veg.

Meer Berigte in Opinie

«Terug