Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Puik leiers is oral behalwe in die kabinet

2012-08-12 00:40
Dit is nie baie moeilik om jou ’n beter leier voor te stel as pres. Jacob Zuma nie. Sy gebreke is so veelvuldig en die werkverrigting van sy regering so vrot dat selfs sy adjunk, Kgalema Motlanthe, na ’n statige presidensiële aanspraakmaker lyk as ’n mens hom met Zuma vergelyk.

Bekyk ’n mens Motlanthe egter van naderby, is ook hierdie keiser kaal. Benewens dat hy uit hoofde van sy amp aandadig is aan elke vergryp van die Zuma-kabinet, het hy laas week die verstommende opmerking gemaak dat ’n passiewe burgery net so ’n groot oorsaak van die Limpopo-handboekskandaal is as ’n onbeholpe staat. Om ander mense of die verlede vir ons land se pyne die skuld te gee is trouens ’n kenmerk van die Zuma-kabinet; dit is een van die redes dat Angie Motshekga nog minister van basiese onderwys is.

Ons politieke leiers is so vrot dat dit aan die misdadige grens.

Dis jammer, want ons land het wêreldklas-leierstalent. Hulle is in die lesingsale en rade van ons universiteite. Hulle is in ons howe en nie-regeringsorganisasies. Hulle verdien in sekere gevalle hul brood in die kantore van groot korporasies of selfs vakbonde. Party werk stil-stil binne die staatsmasjinerie.

“Stuur hulle Uniegebou toe! Red die nasie!” wil ’n mens roep. Droom net vir ’n oomblik oor ’n kabinet vol van die wêreldklaskundigheid wat ons wéét hier beskikbaar is – vroue en mans met integriteit, kundigheid en visie. Waarom bly hulle weg?

In die eerste plek is ons politiek so toksies dat die bestes van die bestes dit soos die pes vermy. Groot geeste wat nie in die eerste plek eiebelang of rykdom jag nie, mik liefs na die akademie; strategiese meesters wat vroeg wil aftree, maar ’n wrewel in partypolitiek het, mik eerder sakesektor toe.

Die ander rede is die manier waarop ons leiers verkies word. Ons dink dalk alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners kies in 2014 se algemene verkiesing ons leiers, maar solank die ANC se tamaai meerderheid in die parlement hou, is die verkiesing wat werklik saak maak die een binne die party.

In die ANC is dit onmoontlik om jou soos in die geval van die VSA openlik en vroegtydig as ’n presidentskandidaat verkiesbaar te stel. Eers in Oktober vanjaar sal voornemende kandidate binne die ANC hul name amptelik in die hoed kan gooi; in Amerika begin robuuste openbare debatte tussen kandidate binne en tussen partye soms meer as ’n jaar voor ’n verkiesing. Dit gee gewone mense en die media die kans om aanhoudend kandidate se standpunte te toets oor alles wat saak maak.

Die Bisantynse kiesstelsel binne die ANC en die feit dat ons nie ’n regstreeks verkose president het nie, maak dit egter haas onmoontlik vir die bestes van die bestes om dit tot heel bo te maak. Intussen is die jakkalse in beheer. ’n Mens se bede is daarom dat ons regte leiers dapper sal aanhou lei waar hulle ook al kan, al is dit buite die Uniegebou. Ons het julle nodig.
«Terug