Dit kan eenvoudig nie werk nie.
Jy kan nie ’n plaas in die helfte opsny, ’n stuk onbewerkte grond aan plaaswerkers gee en hulle aanpor om te boer nie.
Die feit dat jy vir jare lank ’n plaasarbeider was, beteken nie jy is ’n boer nie. Talle doen dié werk bloot omdat hulle geen ander keuse het nie.
Ook die bestaande grondhervormingsmodel ondermyn eiendomsregte en dus die kapitaalbasis van die landboubedryf.
Dít is waarom soveel hervormingsprojekte misluk.
En talle van die plaaswerkers wat dalk ’n kontantbetaling gaan kry omdat hulle verkies om nie te boer nie, gaan na dorpe en stede trek, werkloos wees en uiteindelik straks in plakkerskampe ’n heenkome moet soek.
Deurdagte grondhervorming is ’n dwingende noodsaaklikheid, maar solank eiendomsregte in gevaar gestel word, sal enige hervormingsproses misluk. Die gevolg sal wees dat die verbruiker meer moet betaal vir kos in winkels.
Die kool is die sous nie werd nie.
Rapport berig vandag hoe swart, wit en bruin landbouers, en ander met ’n belang by boer-dery, wys op die gevare van die plan. Maar ideologies gedrewe regerings bekommer hulle nie altyd oor praktiese uitwerkings nie.
Hoe logies teenstanders van die plan se argumente ook al is, help dit niks as jy nie terselfdertyd groot ekonomiese druk op die staat kan uitoefen nie.
Boere het dié vermoë. En die tyd het aangebreek vir hulle om aan die staat te sê “tot hier toe en nie verder nie”.