Suid-Afrikaners is al so gewoond aan geweld tydens protesoptogte dat dit eintlik vreemd opval as dit vreedsaam verloop.
Alle regdenkendes stem egter saam dat gewelddadige optogte wat dikwels met ’n geplunder, vernielsug en die beskadiging van eiendom gepaardgaan vakbonde so in oneer bring dat die publiek dit verfoei. Die protesaksie word dan openbare boewery en breë simpatie vir die saak is tot niet. Dus is Woensdag se hofuitspraak dat vakbonde geldelik verantwoordelik gehou sal kan word vir die skade wat by hul byeenkomste of in protesoptogte aangerig word uitstekende nuus.
Dit laat die weg oop vir die munisipaliteit van Kaapstad, wat die aansoek gebring het, om die vakbond vir munisipale werkers Samwu te dagvaar vir die skade wat sy betogers verlede jaar tydens ’n optog onder sy vaandel aangerig het.
Die konstitusionele hof se uitspraak is, soos tereg die afgelope week opgemerk is, ’n “kragtige uitspraak wat ’n oorwinning is vir die reg en orde”. Die hof het beslis die onus berus op organiseerders van protesoptogte om te alle tye redelike stappe te doen om skade aan eiendom te voorkom. Hulle sal slegs gevrywaar word as die skade onvoorsien was.
Te veel kere in die verlede het optogte verval in chaos en eiendom soos geboue en motors is beskadig terwyl die belhamels ongeskonde daarvan afkom en die vakbonde hul skouers optrek. Hierdie uitspraak plaas dus die mag terug in die hande van die gewone man en vrou. Ongedissiplineerde vakbondlede sal nou pa moet staan vir hul afbrekende gedrag.
Dit is nie dat vakbonde die reg ontsê word om te staak nie.
Dit bly steeds hul grondwetlike reg. Maar as jy nie vreedsaam kan betoog nie, bly weg uit die strate.
Die tyd is verby dat onskuldige mense ly weens vakbonde en hul onwettige optrede!