Wat begin het as ’n idee om vir sy gesin ’n hotel op ysterwiele te bou wat oral sou kon ry waar daar treinspore in Suid-Afrika lê, is vandag nie net die luuksste passasierstreine in Afrika nie, maar ook die wêreld.
Rohan Vos, die skepper van Rovos Rail (RVR), het 26 jaar gelede ’n vriend gehelp om stoomtreine op veilings te koop toe sy verbeelding ’n ander koers inslaan. Wat as hy sy eie trein bou, met so drie vintage waens, en toestemming van die ou Suid-Afrikaanse Spoorweë (SAS) kry om hul spoorlyne te gebruik? Die toestemming is gegee, maar die buitensporige koste vir die gebruik van die spore het dié idee gekelder. Die SAS het voorgestel hy verkoop kaartjies op sy trein en Rohan het toe in alle erns begin om waens wat van die vroeë 20ste eeu dateer aan te koop en te restoureer.
Die eerste trein, met sy 13 gerestoureerde waens, het in 1989 een keer per maand tussen Pretoria en die Krugerwildtuin gependel. Vandag spog RVR met 95 waens en 16 lokomotiewe, waarvan sewe stoomtreine is, en reisigers kom van al die vastelande om ’n rit op die Pride of Africa mee te maak.
Toe ek skuins ná nege op ’n Vrydagoggend by RVR se private stasie by Capital Park in Pretoria aankom, sit die meeste van die 42 gaste wat die treintog van drie dae na Durban gaan meemaak reeds in die sitkamer en teug aan tee of vonkelwyn. Kelners in sjiek uniforms bedien keurige southappies en Engelse toebroodjies sonder korsies. Die lug is gevul met afwagting en geselsies op ’n klankbaan van sagte klassieke musiek.
Buiten die swierige tog na Durban, wag ’n wildrit in die Nambiti- private wildreservaat, ’n besoek aan die slagvelde in Estcourt se wêreld en ’n besoek aan Ardmore Caversham, ’n keramiek-ateljee in die Kwa-Zulu-Natalse Middellande.
Buite langs die perron blaas ’n pragtige ou lokomotief stoomwolke die lug in en knars ’n rukkie later vorentoe om plek te maak vir die meer moderne elektriese trein wat die 17 treinwaens op ons safari na Durban gaan trek. Omdat stoomenjins “so laas eeu” is, is daar maar min plekke in die land oor wat geriewe het vir water en steenkool om dié ysters aan die rol te hou.
Rovos Rail se slagspreuk is “Die weelderigste trein ter wêreld” en dít verwys na die trein se ruim suites. Die meeste van die waens huisves elk drie weelderige suites en sommige twee, wat volgens Rohan uitspattig is vergeleke met ander luukse treine soos die Oriental Express. Daarby stel die Franse cuisine, die premium-wynlys en die professionele diens van die personeel ’n internasionale standaard.
Die Bloutrein en die Oriental gebruik wel meer gevorderde tegniese toerusting, maar dit is iets waarmee RVR nie wíl meeding nie. Die sjarme van die Pride of Africa met sy houtwaens en Edwardiaanse detail is juis die
gevoel dat ’n mens jou meteens in ’n ander tyd bevind.
Daar is drie verblyfopsies: Die rojale koninklike suites van om en by 16m2; die luukse suites van sowat 11m2; en die Pullman-suites van sowat 7m2. Benewens die groter ruimte, is die badkamer die enigste verskil tussen die koninklike en luukse suites. Die koninklike suite spog met ’n groter badkamer wat ’n stort én ’n Victoriaanse bad insluit. In die res van die suites lyk die badkamers eenders, met ’n toilet, wasbak en stort.
In die Pullman-suites kan ’n mens kies of jy ’n dubbelbed of enkel-stapelbedjies wil hê. Wanneer jy ná ontbyt weer in jou suite kom, is die beddens omskep in ’n sofa.
Net ná tien bestyg ons Pride of Africa waar ons bagasie reeds in ons suites wag. Ek gaan tuis in die luukse suite Etosha. Innocentia, die personeellid wat vir ons wa verantwoordelik is, wys my al die geriewe in die suite.
Benewens lugversorging, ’n haardroër en ’n hele reeks ligverstellings, is daar ’n mini-kroeg, ’n skatkis van verskillende soorte tee, asook koffie en warmsjokolade, pakkies neute en nougat en aandenkings soos die RVR-reisboek Journeys en ’n badkamertassie met alles van seep en sneesdoekies tot Rennies en hoofpynpille.
Jy kan die staalstrukture voor die vensters laat sak en die vensters afskuif om die buitelug in te laat. Ek verkies die oop vensters bo die lugverkoeling, maar ek kan my indink dat ’n koel kompartement uiters gerieflik moet wees wanneer ’n mens die tog van 14 dae na Dar es Salaam in Tanzanië aandurf.
Die trein kom met ’n effense ruk uit die blokke en ons begin stadig om Pretoria seil. Dis nog een van die plesiere van die Pride of Africa: Dit ry nooit vinniger as 60?km/h nie. Danksy die groot vensters in al die waens, sommige nog versier met die ou Springbokkoppie van die SAS, is dit die stylvolste manier om Afrika se dramatiese landskappe te bewonder.
Dit is nie lank voordat die koperklok wat in die gange ghong middagete inlui nie. In die eetsaal glinster die son op die kristalglase en die silwerware. Alles dra die RVR-kenteken.
Aubrey, die kelner wat my bedien, skink ’n uitsoek- Suid-Afrikaanse wyn saam met elk van die vier gange wat vir middagete voorgesit word. Die kos is delikaat en uitsonderlik en ek geniet dit tydsaam: Vinkel gesmoor in saffraan, sitrussap, knoffel, lourierblare, olyfolie en asyn met gerookte salm bo-op; ’n quiche van bloukaas, ui en peer op spinasie en peerskywe; en umcimbi-kaas wat saam met spanspekkonfyt en pikante stukkies appel bedien word.
Die gesprekke tussen paartjies is gedemp. Hier is nie net Suid-Afrikaners nie, maar ook Britte, Amerikaners, Duitsers, Kanadese en Chinese.
Die agtergrond het intussen verander van die stadsgedruis na die geelbruin lande van die Hoëveld in die Suikerbosrand se wêreld.
Vanaand gaan ons Majuba oorsteek waar die Boere die Britte op 27 Februarie 1881 in die beslissende veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog verslaan het. Op 2 146m is dit die hoogste punt van ons reis.
Daar is twee sitkamers ingerig waar ’n mens op leersofas kan sit en gesels of die fassinerende koffietafelboeke oor koloniale safari’s in Afrika kan deurblaai. Die personeel staan deurentyd nader om versnaperinge of drankies aan te bied. Alles is by die kaartjieprys ingesluit, wat die hoofpynpille in die badtassie verklaar. Die heel agterste wa met sy gemaklike houtbanke en oop agterkant bied die beste uitsig op die omgewing.
Wat kleredrag betref, kan ’n mens deur die dag met ’n T-hemp en jeans wegkom, maar aandete is ’n formele okkasie. Mans moet ’n baadjie en das dra en vroue aandrokke of -pakke. Deur die walms van parfuum, haarsproei en lyfroom sit ek aan by my tafel waar kerslig met die vroue se juwele speel. Ek sterf ’n paar klein dode tydens die viergangmaal, wat ’n geurige rooi-ui-en-crème fraîche-tertjie en vars lynvis insluit. Die nasmaak in my mond is só heerlik dat ek nie kans sien om dit met dié van Keniaanse koffie te vervang nie.
Terug in my suite lyk my bed nou heelwat anders as deur die dag. Die deken is afgehaal en ’n spierwit duvet nooi my om te kom slaap. Die trein wieg my koesterend na droomland. Ek slaap voordat die trein by Elandslaagte intrek om die nag daar te vertoef.
Die drie uiteenlopende uitstappies van die Durban-safari is ’n besoek werd al reis jy nie met RVR nie. Ek vind die geskiedenispraatjie deur die raconteur Raymond Heron, die eienaar van Spionkop Lodge (op die ou
Nederlandse spelling) die opwindendste.
Raymond gaan haal die verhaal voor die groot trek van die Nguni-stamme na die suide van Afrika en laat die gebeure dramaties en in detail ontvou. Die Bonnie Ntshalintshali-museum by Fée Halsted se Ardmore-kunsateljee tussen Tweedie en Mooirivier is eweneens ’n belewenis.
Wanneer die trein langsaam deur die Vallei van ’n Duisend Heuwels kronkel, is dit tyd om te begin afskeid neem van nuwe vriende. Ná Cato Ridge se huisies teen die heuwels bereik ons Durban se gedruis en klim uit in ’n nuwe millennium.
Goed om te weet* Al die uitstappies, etes en drankies in die trein is ingesluit.
* Onthou sonbrandroom, ’n hoed en iets warms vir die uitstappies.
* RVR laat kinders toe in die trein, maar vra dat ouers die volwasse atmosfeer in die trein eerbiedig. Daar is geen kinderoppassers of aktiwiteite vir kinders op die Pride of Africa nie.
* Die nou gange van die trein is nie geskik vir mense in rolstoele nie.
* RVR bied verskeie reise aan wat wissel van ’n paar ure tot 14 dae. Die epiese Kaap-tot-Kaïro-tog, wat vlugte in ’n klein gehuurde vliegtuigie insluit, duur 28 dae. Besoek die webwerf www.rovos.com vir die hele reeks roete-opsies.
* Kort ritte soos ’n sirkelroete om Pretoria duur sowat drie uur en is ideaal vir ’n manjifieke middagete.