Share

Die stad wat nooit slaap nie

Die woorde van Frank Sinatra se gewilde liedjie New York, New York draal weke lank in my kop. En ek vang myself elke nou en dan met die woorde I’m gonna wake up in the city that never sleeps op die puntjie van my tong. Dis vir my onwerklik om te dink dat ek vyf glansryke dae in die Groot Appel gaan deurbring.

Met my aankoms word die reisplan met aktiwiteite uiteengesit en ek kan nie wag om die talle museums, Times Square en die 9/11 Memorial X om maar ’n paar te noem X van nader te leer ken nie.

Na ’n verfrissende stort besluit ek om Times Square te gaan groet. Ons hotel is ’n hanetree van dié gewilde plein. Times Square is ’n groot handelsplein in Manhattan en strek vanaf Broadway en Seventh Avenue, tussen West 42 en West 47-strate.

Times Square is ’n prutpot van kulture waar mense van regoor die wêreld bymekaar kom. Dit is dan ook die middelpunt van die Broadway-teaterdistrik en een van die wêreld se besigste voetgangerkruisings. Die plein is een van die mees besoekte toeriste-aantreklikhede in die wêreld en word jaarliks deur 39 miljoen mense besoek.

Times Square was voorheen bekend as Longacre Square en is in April 1904 herdoop aangesien dit die New York Times se hoofkantoor in die Times-gebou (wat One Time Square genoem word) huisves. Dit is dan ook waar die groot ligbal op Oujaarsaand laat sak word.

’n Plegtige en eerbiedige gevoel groet ons by die 9/11 Memorial. Dit is onbeskryflik X ’n plek van matelose hartseer wat uitgestyg het tot ’n plek van herinneringe, hoop en vergifnis.

Die National September 11 Memorial & Museum is ’n huldeblyk van herinneringe en vereer die byna 3 000 mense wat tydens die terreuraanvalle op 11 September 2001 in die World Trade Center, die Pentagon en op United Airlines 93 gesterf het. Die name van ses mense wat in Februarie 1993 gesterf het na ’n bomaanval by die World Trade Center, is ook in herinnering gebring.

Die Memorial se waterpoele is elk byna ’n akker in grootte en ek voel klein in die grootsheid wat die dramatiese verlies uitbeeld. Die poele is geleë in die voetspore waar die Twin Towers eers gestaan het en die water tuimel in die skagte van die torings se fondasies af. Die name van elke persoon wat gesterf het in die aanvalle is in brons op die rand van die poele uitgegraveer. En dit spreek van ’n kragtige herinnering aan die grootste
lewensverlies deur ’n buitelandse aanval op Amerikaanse bodem, asook die grootste verlies aan reddingspersoneel.

By die Suidpoel lê ’n enkele rooi roos en ek wonder wie het vandag aan ’n geliefde kom totsiens sê. Ek stap ’n entjie verder en kom by die museum tot stilstand. Die museum vertel die storie van 9/11. Die oorblyfsels is ’n skakel tot die gebeure van 9/11, terwyl die intieme stories van verlies, deernis en herstel sentraal is tot die verhaal van die aanvalle en die nadraai daarvan.

Met die wegstap van die Memorial dink ek by myself dat daar baie dinge van die Yanks gesê kan word, maar een ding is seker: wanneer hulle iets doen, doen hulle dit ordentlik en die 9/11 Memorial is sekerlik een daarvan.

Met die terugtog na Manhattan vaar ons verby Lady Liberty. Die indrukwekkende Statue of Liberty word gesien as La liberté éclairant le monde of in Afrikaans, “Vryheid verlig die wêreld”. Die kolossale neo-klassieke beeldhouwerk op Liberty-eiland in die New York-hawe is deur Frédéric Bartholdi ontwerp en is op ­28 Okt 1886 ingewy. Die standbeeld, ’n geskenk van Frankryk aan die VSA, is van ’n geklede vroulike figuur, Libertas, die
Romeinse godin van vryheid. In haar hand het sy ’n fakkel en dra ’n Tabula ansata (’n steen as wetsherin­nering) wat dui op die Amerikaanse Verklaring van Onafhanklikheid wat in 1776 onderteken is.

’n Gebreekte ketting lê op haar voete. Die standbeeld het ’n simbool van vryheid geword.

En, word ons meegedeel, as Lady Liberty vandag in lewende lywe voor ons gestaan het, het sy ’n rokgrootte nommer 16 gedra X ’n mooi vrou met ’n voller figuur.

Indien jy beplan om New York te besoek, is die Museum of Natural History eenvoudig ’n moet. Met Central Park wat aan die oorkant van die museum begin, kan jy rustig deur die tuine tot by die museum stap.

Die Museum of Natural History is sinoniem met rykdom aan kennis en dit is Amerika se erfenis en aansien. Die museum gee ’n baie noukeurige blik van die wêreld se ontstaan tot vandag en die versameling word deurlopend bygewerk.

Die museum is dan ook ’n gunsteling plek vir baie studente, senior burgers en die samelewing in die algemeen. Een ding is seker, almal sal ’n besoek aan die museum geniet.

Die besoekers sal met ontsag gevul word wanneer hulle die majestueuse dinosourus-geraamtes in oënskou neem. Die museum het ’n totaal van 45 sale asook die Rose Center for Earth and Space.

En net verder in die pad af is die Metropolitan Mu-seum of Art (MET). Met my aankoms staan ’n groepie musikante en musiek maak. Die atmosfeer is gelaai met kuns. Die werke wat in die MET te siene is, weerspieël die omvang van wêreldkuns en die uitstallings bied ’n groot verskeidenheid vir kunsliefhebbers. My voorliefde vir die moderne en kontemporêre skilders neem my na die tweede vloer.

Een van die vele skilders wat deel uitmaak van die uitstalling is Claude Monet. Monet was ’n belangrike figuur in die Impressionisme-beweging, wat Franse skilderkuns in die tweede helfte van die negentiende eeu verander het. Ek maak ook ’n draai by Pablo Picasso, Henri Matisse en Vincent van Gogh se skilderye.

’n Wandeling deur Central Park op ’n sonnige herfsdag laat die romantikus in my wakker word. Met ’n massiewe pretzel verken ek ’n gedeelte van die park wat sowat 843 akkers (341 ha) beslaan. Dit spog met ’n hele paar mere, teaters, ’n ysskaatsbaan, fonteine, tennisbane, bofbalvelde, speelgronde en ook die Central Park-dieretuin.

Die park is ’n oase en dis veral oor ’n naweek wanneer die New Yorkers piekniek in die park kom hou.

New York is ’n stad vol verrassings, argitektuur, ’n diep geskiedenis en ’n polsslag wat jou hart warm sal laat klop. Daar’s die Empire State Building, Little Italy, China Town, Top of the Rock en te veel restaurante - om maar ’n paar te noem.

En dit is dan ook onmoontlik om oor alles in een artikel te skryf. So kyk oor ’n paar weke gerus uit vir my volgende storie aangaande die res van my avontuur.

En ek groet vir eers met Sinatra se woorde - I’m longing to stay.

goed om te weet

* New York is die stad van fooitjies. Maak jou dus gereed om ten minste 15% in restaurante as ’n diensfooitjie te betaal. En onthou, jou taxi-bestuurder mag jou dalk verontwaardig aankyk as jy nie ’n ietsie
ekstra vir hom gee nie.
* New York kan nogal ’n wisselvallende weerpatroon in die herfs hê, so maak seker dat jy iets warms inpak.
* Gemaklike stapskoene is ’n moet, want New York word meestal te voet verken.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
40% - 199 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
60% - 304 votes
Vote
Rand - Dollar
19.04
-0.7%
Rand - Pound
24.02
-0.5%
Rand - Euro
20.53
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.36
-0.1%
Rand - Yen
0.13
-0.7%
Platinum
900.15
+0.4%
Palladium
1,000.00
-0.2%
Gold
2,212.54
+0.8%
Silver
24.59
-0.2%
Brent Crude
86.09
-0.2%
Top 40
68,094
+0.6%
All Share
74,290
+0.5%
Resource 10
56,964
+2.3%
Industrial 25
103,585
+0.3%
Financial 15
16,463
-0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE