Share

Heuwelstad teen die kaai

Maak gereed om jou heeltemal aan dié stad oor te gee. Van die vreemde karakters wat die stegies se mure beverf tot by dié in statige huise op die hoogste heuwels (die einste Knob Hill, oftewel “Snob Hill”, wat die kabelkar in Tony Bennett se liedjie uitklim). Hoog of laag, daar
wag ’n rykdom in elke buurt. Samarie Smith deel agt San Francisco-hoogtepunte.

I left my heart in San Francisco
High on a hill, it calls to me
To where little cable cars climb
halfway to the stars
The morning fog may chill the air,
I don’t care
My love waits there in San Francisco
Above the blue and windy sea
When I come home to you, San Francisco
Our golden sun will shine for me – Tony Bennett

Min het verander sedert hierdie liedjie in die 1950’s geskryf is. Dis ’n stad wat jou hart met die eerste besoek verower, asof die slierte mis wat smiddae oor die Golden Gate-brug uitsak, soos lang vingers om jou hart vou om jou hier te hou.

1. Toer met hoogtepunte

Daar is iets van alles in San Francisco en dis ’n plek wat jy gemaklik op jou eie kan verken. Maar net om jou te oriënteer, is ’n halfdagtoer glad nie ’n slegte plan nie. Kies ’n toer wat vername plekke insluit soos die Mission Dolores-distrik, die Golden Gate-brug en ’n uitkykpunt soos Twin Peaks. Busse word nie meer toegelaat om verby die Painted Ladies – Alamo Square se ses kleurvolle Viktoriaanse huisies – te ry nie. Daarvoor het jy ’n taxi nodig.

En so hoor jy al die stories. Volgens die Indiane het die gode elke heuwel met die klap van hul hande neergelê. Coit Tower bo-op Telegraph Hill was weer ’n geskenk van Lillian Coit – ’n sosiale vlinder wat in haar tyd bekend was daarvoor dat sy saam met die manne sigare rook en tot laatnag duur konjak drink. Sy het dikwels soos ’n man aangetrek om aan die weeklikse pokerspel deel te neem.
Om die stad in jou eie pas te verken, kry ’n City Pass en bespaar so ’n hele paar dollar.

2. Kabelkarre en krom strate

Noudat die steiltes ’n werklikheid is, móét jy met een van die historiese kabelkarretjies teen ’n bult op ry. Dit is in 1873 ontwerp om die steil stad te tem en word tot vandag toe met ’n ondergrondse kabel getrek. Een straat wat jy darem moet stap, is Lombardstraat – die skeefste straat ter wêreld met pragtige huise en die beste uitsig.

3. Slow-food-kultuur

Dis ook maar goed ’n mens kry genoeg oefening teen die bulte uit, want die stad is ’n smulpaap se droom. Behalwe die Slow-food-beweging wat sy wortels hier het, word daar al hoe meer gefokus op die plaas-na-tafel-tendens. Talle restaurante bedien trots slegs plaaslike en seisoenale produkte. Wees vroeg op die kaai by Fisherman’s Wharf waar die reuk van vars krap in die lug hang; koop ’n stukkie geskiedenis saam met ’n pakkie Ghirardelli-sjokolade wat al vir meer as 100 jaar hier gemaak word; en loer in by die Boudin-bakkery vir vars seesop in ’n uitgeholde suurdeegbrood. Die Ferry-gebou het ’n wonderlike organiese mark met ’n ekstra-groot mark op Saterdae.

4. Alcatraz

Fliekvlooie en The Rock-aanhangers sal dalk graag met hul voete op Alcatraz wil staan, maar ’n wandeling oor die Golden Gate-brug bied ’n goeie uitsig oor hierdie voormalige maksimumsekuriteittronk. Dis nou waar misdadigers soos Al Capone en Machine Gun Kelly gevange gehou is voordat dit in 1963 toegemaak is. Alcatraz is baie nader aan die kus as wat ons eie Robbeneiland aan Kaapstad lê, maar die water is koud genoeg om ’n mens vinnig hipertermie te laat ontwikkel. Om ontsnapping nog moeiliker te maak, het die gevangenes vuurwarm storte gekry.

5. Rykmanskuiers tot blommekinders

Saucelito is ’n ware rykmanskusdorp met ’n Middellandsesee-atmosfeer aan die noordelike punt van die Golden Gate-brug. As seekos jou ding is en jy op een dag daardie syserpie, breërandhoed en ontwerpersonbril wil uitruk, is dit die plek wat jy met ’n veerbootrit kan bereik.
Vir dié wat eerder die blommekind in hom/haar wil wakker maak, moet Height Ashbury op jou lys wees. Dis waar die hippie-era in die 1960’s lewe gekry het en sangers soos The Grateful Dead en Janis Joplin gewoon het.


Foto's: Samarie Smith

6. Ontdek te voet

As jy die vorige aand die kalorieë ingeryg het, is San Francisco die ideale drafstad. Vroegoggend word die kaai warm gedraf en as ’n mens tot by Pier 39 loop, kan jy ook die seeleeu-kolonie besoek of by die akwarium inloer. Maar die hoogtepunt vir ’n aktiewe dag bly die Golden Gate-park en die Japanse teetuin met die sierlike landskapontwerpe, koi-poele en teehuise. En as die koopgier jou tref, suiker jy af Union Square toe waar al die bekende modehuise en handelsname jou kredietgeskiedenis gaan verrinneweer. Ek het gehou by ’n Victoria Secret-bederf en ure se winkelvensterinkopies.

7. Wynstreke

Kalifornië het bekendheid verwerf vir sy wynkultuur. Die wynlande is sowat 50 km buite die stad en kan per motor of trein bereik word. Napa is die meer gesofistikeerde keuse waar die groter kelders met veral chardonnay en cabernet sauvignon pronk.

Hier kry jy ook bekroonde restaurante soos The French Laundry, waar mense spook om ’n tafel bespreek te kry.

Sonoma is die nederiger weergawe van die wynkultuur waar kleiner kelders met spe­siale pinot noir naam maak.

8. Muir-woude

Weer net anderkant die Golden Gate-brug wag hierdie groen oase met bome so groot dat ’n mens plat op jou rug moet lê om die enormiteit daarvan in te neem.

Daar is bustoere tot hier, maar die beste is om ’n motor te huur en die kronkelpad tot daar self aan te pak. Dís nou waar ’n mens stilte vind tussen die ou, ou rooihoutbome.

*  Vir meer inligting, besoek www.trafalgar.com of skakel 011 280 8400.


Die bekende Golden Gate-brug.

stad se goue wortels

San Francisco was ’n klein gehuggie voordat die nuus van goud deur die wêreld getrek het.Maar met die Goue Stormloop in 1848 het ’n dorp van sowat 800 letterlik oornag met sowat 20 000 mense gegroei, elkeen in die hoop om sy stukkie fortuin te vind. Sommige delwers was gelukkig, maar die lang pad huis toe was ook met rowers besaai.

Een man wat sy goud verdien het sonder om een keer self daarvoor te grawe, was Levis Strauss. Soos die ander mans wat hul gesinne agtergelaat het, het hy ook die stroom gevolg. Strauss het opgelet hoe die delwers se broeke op hul knieë deurgewerk word. Eers het hy net klere reggemaak, totdat hy ’n materiaal ontwikkel het wat sterk genoeg was om die harde werk te deurstaan. Jeans.

Die kosmopolitiese hart

San Francisco was ook die hart van die Flower Power-generasie wat in die 1960’s in die Haight-Ashbury-distrik gegroei het, vandag steeds met alternatiewe winkels en mense.

Izu Interlandi, ’n ewige hippie uit dié tyd, werk nou as toergids saam met Trafalgar. Sy, met haar worshond, Benny, ken alles van die musiekera tot die politiek gemotiveerde kultuur wat hier ontstaan het en wys besoekers graag waar al die bekendes, soos Janis Joplin en The Greatful Dead, van 1966 tot 1968 gewoon het. Ook Hell’s Angel’s se huis sommer oorkant die straat!

“Yeah man, dit was die dae. As jy 25 jaar oud was, was jy oud!”

Die Goue Stormloop het ook unieke mikrokulture hier gevestig, soos Little Italy en Chinatown. Die Chinese bevolking het daardie tyd so gegroei dat Chinese immigrasie in 1882 vir 60 jaar verban is. Sommige mans het nooit weer hul familie gesien nie.

Ook die geboue is ’n eklektiese mengelmoes. Rooihout was goedkoop en maklik bekombaar, en die Viktoriaanse styl huise wat nou so gewild is, kon letterlik uit ’n katalogus bestel word. Nou sal so ’n huisie jou sowat $2 miljoen uit die sak jaag. En dan kry ’n mens die Tenderloin-distrik, bekend vir sy rits goedkoop hotelle en pornografiewinkels. Die stories loop dat die Tenderloin-distrik sy naam gekry het omdat die mense wat daar gewoon het so korrup was dat net hulle daagliks die beste vleis kon bekostig.

Uiteraard het al die kulture wat met die Goue Stormloop hier bymekaar gekom het, ook hul koskultuur saamgebring. Vandag kan jy omtrent die wêreld in San Francisco proe.

Kokke moes bontstaan om die instromende Franse, Duitsers, Mexikane, Russe, Armeniërs, Chinese, Grieke en Brasiliane gelukkig te hou. Die behoefte aan etes regdeur die dag het restaurante oral laat open waarvan sommige vandag nog bedryf word. Jy kry van ’n groot bak Dim Sum teen $5 in Chinatown en vars pasta in Little Italy tot Brasiliaanse vleisrestaurante en duur fynproewersrestaurante wat jou $200 uit die sak kan jaag.

San Francisco-kitsfeite
* Driekwart van die stad is in 1918 in ’n aardbewing vernietig met verwoestende brande wat nog meer skade aangerig het. Dit is gevolg deur ’n kleiner aardbewing in 1989 wat ’n groot deel van die snelweg in spitstyd beskadig het. Gelukkig was dit ook die dag van die Giants se wêreldreeks-toets en baie mense het die spitsverkeer misgeloop om die wedstryd te sien. Reservoirs is teen die heuwels gebou sodat dit met gravitasiekrag bly vloei sou die stad weer deur ’n aardbewing getref word.
* Die eerste gay-troulisensie is in 2004 hier uitgereik
* Carlos Santana het in die distrik Mission Dolores grootgeword.
* Rolprente soos Dirty Harry en Miss. Doubtfire is hier geskiet.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
48% - 1030 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
52% - 1094 votes
Vote
Rand - Dollar
19.21
-0.5%
Rand - Pound
23.95
-0.7%
Rand - Euro
20.56
-0.5%
Rand - Aus dollar
12.48
-0.7%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
912.40
-0.8%
Palladium
1,005.00
-2.1%
Gold
2,314.58
-0.3%
Silver
27.17
-0.5%
Brent Crude
88.42
+1.6%
Top 40
68,574
+0.8%
All Share
74,514
+0.7%
Resource 10
60,444
+1.4%
Industrial 25
104,013
+1.2%
Financial 15
15,837
-0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE