Rapport

Kronkelend tussen mere en heuwels

Deur: Daniëlla du Plooy 2012-06-09 13:53
Die Midlands Meander is (nog) nie een van die bekendste toeriste-aantreklikhede in die land nie – waar mense goed vertroud is met die Kaap, die Tuinroete en die Krugerwiltuin, is talle nog onseker waar die Middellande nou juis geleë is.

Dis ’n jammerte, maar diegene wat wél al hier kom uitspan het, weet die Middellande is ’n onontdekte juweel en keer dikwels terug. Met dorpies met name soos Nottingham Road, Balgowan en Howick is dit maklik om jou jas en mussie aan te trek en jou te verbeel jy’s op die Skotse platteland. Tog is hier genoeg plaaslike geur om die streek trots Suid-Afrikaans te maak.

Die Meander is geleë neffens die N3 op die stuk pad tussen Mooirivier en Howick.

Té veel toeriste ry dit heeltemal mis op pad na hul Durbanse seevakansie (die Meander is skaars ’n uur se ry van Pietermaritzburg) terwyl dit die moeite werd sou wees om dalk volgende keer sommer die hele week van see en sand te verruil vir dié streek se mere en heuwels. Elke seisoen hier bied ’n unieke en ander soort vakansie – en dit is net so lekker in die hartjie van die winter as in die somermaande.

As jy en die kleinspan boonop daarvan droom om sneeu te sien, wees hierdie winter op bystand om hierheen te vertrek, want dit is een gebied wat byna elke winter in ’n wit droomland omskep word.

Die Middellande is ewe geskik vir adrenalienvrate en vakansiegangers wat nie veel meer wil doen nie as terugsit met ’n boek, weglê aan lekker kos en die natuurskoon inneem.

Diegene wat reken ’n vakansie is nie ’n vakansie sonder dat bloed deur hul are bruis nie, sal meer as tevrede wees met ’n verskeidenheid opsies.

As jou kuite gereeld oefening moet kry, bring jou fiets saam en pak een van die vele bergpaaie aan wat deur die gebied kronkel.

Maar as jy ’n Stetson en perdesaal eerder as ’n fietssaal verkies, sal die Meander ook nie teleur stel nie.

Daar is alles van kort buiteritte vir diegene wat nie te tuis is op Poon se rug nie tot langer dagritte vir gesoute ruiters.

Die Middellande is voorts een van slegs vyf streke in die land waar jy ’n boomtoptoer kan doen – die uiters gewilde foefieslides waar jy soos ’n wafferse Tarzan of Jane tussen die bome rondswaai.

Die Karkloof Canopy Tour se omgewing sal dit die moeite werd maak, al hét jy al een van die ander probeer. As jy egter erge hoogtevrees het, is dit dalk nie die beste idee nie – van die toue is hoog bo die grond gespan en die langste glyslag is sowat 180 meter, en as jy eers spoed gevang het, swiep die bome báie vinnig verby.

Vir smulpape wat eerder kilojoules wil inneem as dit verbrand, is hier ook oorgenoeg om smaakkliere te prikkel.

By die Bierfassl in Nottingham Road sal die spyskaart jou laat dink jy is in Europa met disse eie aan Oostenryk en ’n verskeidenheid interessante biere – ook van dié wat plaaslik gebrou word.

Veral op koue wintersaande is dié kroeg en kuierplek met sy kaggel lekker warm en gesellig en jy kan weglê aan eisbein en sop.

Net ’n paar kilometer buite Nottingham Road is Swissland Cheese, bekend vir die bokkaas wat hulle hier maak en wat ook in baie van die omliggende restaurante gebruik word. Jy kan hier piekniek hou, van die kaas proe en as jy gelukkig is, sien hoe die bokke gemelk word.

’n Bekende onder toeriste is die Piggly Wiggly-sentrum. Hier is nie net heerlike kos nie, die kleinspan kan ook mini-gholf speel terwyl Ma inkopies doen.

Soos mens deur die Middellande ry, sien jy bykans elke plaas of plot is omskep in ’n vorm van verblyf.

Daar is dus geen tekort aan keuses wanneer jy moet kies waar jy jou kop gaan neerlê nie – inteendeel, dit is amper te moeilik om te besluit. Die beste is om die opsies op te weeg met jou behoeftes in gedagte.
As jy naby die aksie en adrenalien wil wees, sal dit wys wees om verblyf op ’n plaas of by ’n gastehuis te bespreek wat ook van dié aktiwiteite aanbied.

Verder kan jy kies tussen luukse verblyf waar jy nie self ’n vinger hoef te verroer nie – soos die Granny Mouse Country House & Spa – tot goedkoper B&B’s of knus en private selfsorghuisies.

Ons het een aand tuisgegaan in Beacon Vlei – ’n pragtige ou huis langs ’n meer en sentraal geleë in die Middellande. Dit is geleë ’n paar meter weg van die geskiedkundige Michaelhouse-skool (beslis ’n besoek werd) en die verskillende kamers kyk almal uit oor die meer waarin jy ook kan visvang. Gaste kan kies of hulle ook ontbyt hier wil eet.

Die Waterfall Cottage was vir twee aande ons rusplek. As jy werklik wil wegbreek, is dié kliphuisie in die Dargle-vallei net die plek vir jou.

Buiten die plaas Warsaw se ou plaashuis – waarop Waterfall Cottage geleë is – is jy afgesonder van die mensdom.

Die uitsig oor die vallei, natuurskoon en aande voor die kaggelvuur is die perfekte manier om jou kop skoon te maak.

Maak seker jy doen navorsing voor jy bespreek – die Midlands Meander se webblad het ’n baie oulike interaktiewe kaart wat presies wys waar jy oral kan tuisgaan. Daar is skakels na die verblyf met foto’s, inligting en pryse.

Goed om te weet

* Baie kunstenaars woon in die Meander en daar is ’n kunsroete waar jy alles van meubels en leergoedere en -skoene tot pottebakkersware kan koop.

* Gaan hou piekniek by die Karkloof-waterval – die water wat 105 m ver tuimel is indrukwekkend en geleë in ’n natuurlike woud.

* Vang vis in enige van die mere in die streek. Kunsvlieghengel is baie gewild hier.

* Speel ’n potjie gholf – jy kan kies tussen die Gowrie Farm-, Sakabula- en Boschhoek-gholfbaan.

* Pers plesier – as jy mal is oor die reuk van laventel moet jy ’n draai maak by The Lavender Co. Hier kan jy alles kry van laventel-olies tot rome en gegeurde lyfsout.

Meer Berigte in Rondrits

«Terug