Share

Praag: Prag en praal met 'n pils in die hand

Die soveelste bier word op ons groep se tafel in die legendariese U Fleku neergeplak en onder ’n luide “na zdraví” word menige dors geles. Om die klipperige strate van Praag se een beeldskone kronkelstegie ná die ander te navigeer was nogal uitputtend. Veral vir dié met ’n gretige wysvinger wat paraat op die kameraknoppie gehou is. Dit voel amper of dié stad oor duisende jare heen geskiedkundige gebeure en argitektuur soos ’n spons opgesuig het. Dit drup van elke hoek, skeur en draai, skryf Celinda Groenewald.

Die stad se bedrywige naglewe rumoer en raas buite en daar is bykans geen beter uitspanplek vir moeë voete as die U Fleku-brouery, wat sedert 1499 probeer om die Tsjegge se bykans onstuitbare dors te les nie.

Die bevolking van ongeveer 10 miljoen mense drink na bewering die meeste bier per persoon ter wêreld en is veral gaande oor hul pilsner. Ons word spottenderwys gemaan om op ons hoede vir die polisie te wees.

Die grap is: Indien ’n asemtoets wys jy het te min bier ingeneem, word jy summier na die kroeg teruggestuur. “Na zdraví!”

Daarom is dit ook nie moeilik om ou, unieke taphuise in die hoofstad van die Tsjeggiese Republiek op te spoor nie.

Insight Vacations het ons toergroep juis met drankies by die Strahov-kloosterbrouery, net ’n klipgooi van die Praagkasteel, in die stad verwelkom.

Daar het talle reisigers vinnig geleer om katvoet vir die bittersoet, maar aromatiese kruiegeur van Becherovka-likeur te loop.

Te veel van dié likeur sal van ’n besoek aan die nabygeleë Peklo-kelderrestaurant met sy steil trappies ’n ietwat gevaarlike uitstappie maak.

Nie dat ek kan sien hoe enigiemand sonder ’n blikkeel meer as ’n paar milliliter in hul keel kan afstuur nie.

Hoewel ’n mens spreekwoordelik ter helle neerdaal, aangesien die naam Peklo “hel” beteken, sal dié ondergrondse wynkelder van klip en steen wat van die 12de eeu dateer, dadelik jou hart steel met die heerlike kos, voortreflike diens en kerslig wat teen die mure dans.

Die Tsjegge bedien graag ’n smullekker, murgsagte vleisbredie, oftewel ghoelasj, met groot porsies kluitjies daarby. Beslis nie dieetvriendelik nie, maar tog te lekker!

Vanwaar die naam Peklo? Oorspronklik is die wingerde bo die kelder die “Ráj”, oftewel paradys, gedoop. Die logiese afleiding was dus dat alles daaronder ’n hellevuur moet wees.

In dié stad van duisend toringspitse en sy interessante agtergrond word ’n mens as’t ware in tyd teruggeneem.

Met ons besoek vroeër die dag aan die 1 000 jaar oue Praag-kasteel het die Gotiese St. Vitus-katedraal soos ’n bergspits voor ons opgedoem.

Met groot loodglasoë kyk dié Rooms-Katolieke katedraal al vir eeue met gekleurde lense oor die ou dorp van Praag uit. Diep in sy binneste lê die grafkelders van menige Boheemse koning en Heilige Romeinse keiser.

Die hedendaagse Gotiese katedraal is op 21 November 1344 gevestig toe Praag se biskop na ’n aartsbiskop verhewe is.

’n Mens raak skoon verlore in die enorme reënboogweerkaatsings van die katedraal se art nouveau-loodglasvensters, wat “lewe” aan verskeie Bybelse verhale in die sonlig gee.

Op besige toeristetye kan dit nogal in ’n elmbooggeveg ontaard om die beste kamerablik op dié vensters te kry.

Hoewel slegs ’n handvol van Praag se bevolking nog ’n geloof beoefen, het die katedraal steeds gereelde dienstye.

Dit sal dae neem om die kompleks se kerke, tuine, stegies en koninklike wonings te besoek.

Die Praag-kasteel word in Guinness World Records as die grootste antieke kasteel ter wêreld gelys, amper so groot soos sewe rugbyvelde, en is tans die amptelike woning en kantore van die president, Milos Zeman.

Dalk ’n gewaagde woning met sy hoë vensters waar leiers in 1618 uit daardie einste vensters gegooi is in die stryd om heerskappy tussen die Protestante en Rooms-Katolieke.

Wanneer ’n mens na die ongelooflike uitsig oor die ou stad kyk met sy menigte toring­spirale wat kiertsregop oor die stad waghou, is daar baie moontlikhede vir sulke dramatiese dade.

Die Tsjeggiese Republiek het boonop meer as 2 000 kastele, torings en murasies en staan slegs terug vir lande soos België en Frankryk. Dit laat iemand met ’n romantiese voorkeur vir ou legendes en stories, soos ek, skoon in verwondering swymel.

Die stad se oudste en mees ikoniese brug is die sandsteen-Karelbrug, wat die ou dorp met die Malá Strana verbind. Dit is ’n ongelooflike ervaring om op jou tyd oor die brug te wandel met die 30 steenfigure van heiliges en ander karakters wat sonder twyfel ook na die kabbelende water van die Vltava-rivier (in die Weste bekend as die Moldau) luister.



Die bekendste standbeeld op die brug is van St. Johannes van Nepomuk met sy blink gevryfde voetstuk. Dit bring glo geluk om daaraan te vryf. Vinnig het ek ook oor die man se bronsvoet gaan vee – ’n mens weet nooit...

Hou net die horlosie fyn dop wanneer jy tyd op dié brug verwyl. Ek het so lekker na ’n impromptu jazz-vertoning geluister dat ek moes hardloop om op die uur in die ou stadsplein te wees.

Hier toring die gemeganiseerde, astronomiese klok uit oor Praag se ou stadsvierkant, wat van die tiende eeu dateer. Op die uur speel ’n klein toneelspel in die kloktoring af, met ’n geraamte wat ’n klokkie lui om jou te herinner dat nog ’n uur van jou lewe verby is. Die heiliges doen hul ronde voordat ’n haan die begin van ’n nuwe lewensuur aankondig.

Vir ’n paar krone kan ’n mens met die kloktoring op en die mengelmoes van argitektuur asook die ewig veranderende rolverdeling van straatkunstenaars, dansers, verkopers en plaaslike inwoners doer onder dophou.

Maar met die afkomslag is daar geen tyd vir stilstaan nie en is ons na die 13de-eeuse Joodse buurt geneem.

Hier kan ’n gids van groot waarde wees en het Insight Vacations se toeroperateurs gesorg dat een van die beste plaaslike gidse ons begelei.

Die Joodse museum bestaan uit ses monumente wat teen mekaar in Josefov staan: die Maiselsinagoge, die Pinkassinagoge, die Spaanse sinagoge, die Klaussinagoge, die seremoniële saal en die ou Joodse begraafplaas.

’n Mens kan ook ’n besoek aan die Ou-Nuwe sinagoge, wat steeds dienstye het, bring.

Hoe hartverskeurend ironies dat die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog beheer oor Praag se Joodse museum geneem het om kunswerke van geplunderde sinagoges te bewaar sodat hulle ’n museum van ’n “uitgestorwe ras” kon skep. Dié aaklige besef tref ’n mens soos ’n vuishou wanneer jy die Pinkassinagoge betree.

Ná die oorlog is dit in ’n gedenkmuseum omgeskep vir die 77 297 Tsjeggiese slagoffers van die Nazi-terreur.

Foto’s word verbied, maar elke muur wat in sy geheel met die name, geboorte- en verdwyningsdatums, asook die wonings van die slagoffers, gegrafeer is, skep ’n blywende indruk.

Dit voel soos ’n verligting om buite te kan asem skep, maar net agter dié sinagoge is die ingang van die ou Joodse begraafplaas geleë, die oudste van sy soort in Europa. Hoewel dit reeds van die 15de eeu dateer, hang die gevoel van rou steeds swaar in die lug.

Dit lyk byna of reën en mos oor die jare lang traanvlekke op die sowat 12 000 verbrokkelende grafstene gelaat het. Want onder die saamgebondelde stene lê glo sowat 100 000 vergete grafte. Ruimte was beperk en die enigste oplossing was glo om Jode in lae te begrawe.

Merkers wys belangrike grafte uit, terwyl ander graverings soos ’n paar hande dalk op die persoon se beroep as ’n pianis dui.

Voëltjies kwetter in die bome en iewers in die verte speel musiek.

Dié stad se geskiedenis sit in elke klip en steen.

Ons kon ons skoene uitskop by ons blyplek in die Palace-hotel. Geleë in die middel van die stad, op die grens van die ou en nuwe dele, spog dit met die ideale ligging om die stad te kan verken, asook met luukse kamers, heerlike etes en onverbeterlike diens.

Dit is net die plek om ’n mens se moeë lyf in ’n diep borrelbad te laat rus en die kamera se batterye te herlaai.

Want môre wag nog ’n dag van geskiedkundige juwele, bier en kastele van gister.


Spits torings en rooi dakke so ver as die oog kan sien in Praag.


Straatmusikante vermaak toeriste graag met die lieflikste musiek.

goed om te weet

* Praag se sakkerollers het heel behendige, lang vingers. Dit is nie nodig om paranoïes te wees nie, maar wees op jou hoede. Hou jou paspoort en ander belangrike dokumente liefs in die hotel se kluis en kontant, selfone en kameras goed aan jou lyf versteek.

* Besoek jy Praag saam met jou liefling? In die Malá Strana-distrik, op ’n klein voetgangersbrug wat oor ’n sytak van die Vltava-rivier en langs ’n waterwiel lê, word honderde hangslotte aan die brugreling vasgemaak om minnaars se ewige liefde te simboliseer.

* Absint is wettig en baie sterk, maar sal jou nie laat hallusineer nie.

* ’n Besoek aan een van die Boheemse kristalwinkels is beslis die moeite werd. Dié kunstenaars is wyd bekend om hul behendige glasblaas-tegnieke en ’n mens kan selfs ’n demonstrasie bywoon voordat jy ’n soewenier koop.

* Praag is bekend om sy pragtige geboue. Hou jou oë oop vir Romaanse, Barok-, Gotiese en art nouveau-style.

* Die stad bestaan uit tien verskillende distrikte wat weer uit woongebiede soos Stare Mesto (Ou dorp) en Malá Strana (Kleiner dorp) bestaan. Maak gerus gebruik van die drie tremspore om in die stad rond te reis.

* Die Tsjeggiese Koruna, oftewel kroon, is die Tsjeggiese Republiek se amptelike geldeenheid. Euro’s word hier en daar aanvaar, maar dit is baie beter om in krone te betaal. Dit is beter om geld sommer by ’n kitsbank te trek wat oral in dié stad beskikbaar is. Die plaaslike buitelandsevalutakantore bied in die algemeen swak wisselkoerse en adverteer dikwels misleidende inligting.

* Besoek insightvacations.com/za vir meer inligting oor hul Easy Pace-toer in Praag, Wene en Boedapest.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 940 votes
No! It's time to move on ...
33% - 457 votes
Vote
Rand - Dollar
18.82
+1.1%
Rand - Pound
23.51
+1.2%
Rand - Euro
20.14
+1.3%
Rand - Aus dollar
12.30
+0.8%
Rand - Yen
0.12
+2.4%
Platinum
921.60
-0.4%
Palladium
962.50
-2.8%
Gold
2,338.16
+0.3%
Silver
27.27
-0.6%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE