Share

Rodrigues: ’n groen, drywende paradys

Ek is siek. Trouens, ek is ernstig siek. Dit lyk of ­ek aan die gevreesde Stendhal-sindroom ly, dus weet ek nie hoeveel tyd ek het voordat ek hierdie aarde vaarwel toeroep nie, skryf  Jo Kromberg.

Stendhal-sindroom (soos almal natuurlik weet) veroorsaak hartkloppings, duiseligheid, verwarring en selfs hallusinasies wanneer ’n mens blootgestel word aan besonder mooi kuns of ’n groot hoeveelheid kuns op een slag. Die term kan ook gebruik word om ’n soortgelyke reaksie te beskryf wanneer ’n mens gekonfronteer word met oorweldigende skoonheid in die natuur, volgens my betroubare kenner, Wikipedia.

In my geval is dit nie die niksvermoedende afkoms op ’n versameling Gauguins in iemand se huis in Pretoria wat my toestand veroorsaak nie. Nee, dit is die eiland Rodrigues.

Ek word wakker gemaak deur die sagte, gemoduleerde Franse stem van die lugwaardin op hierdie vroeg­oggendvlug van Air Mauritius terwyl ons die eilandjie ­­se aanloopbaan nader. Ek raak bewus van die eerste simptome van Stendhal toe ek afkyk. Terwyl ons deur die ligte wolke neerdaal, openbaar die eiland homself soos ’n drywende, groen planeet, met sy omliggende koraalrif teer omhels deur sy eie atmosfeer – die helderblou kleur van ’n blonde kind se oë.

Jean-Paul (JP) van Rodrigues Toerisme groet my soos ’n lank verlore vriend op die piepklein lughawe naby die hoofstad, Port Mathurin, en ons vertrek in sy 4x4 na my tuiste vir ’n week, die Mourouk Ebony Hotel.

Met onverbloemde verwondering verlustig ek my aan my omgewing terwyl ons ry. Rodrigues is ’n bergagtige eiland, ryklik geseën met ’n magdom tropiese flora, wonderlike strande – wit en swart aangesien die eiland ook sluimerend vulkanies is – en koraalriwwe wat dit heeltemal omring.

Die rustige tempo van die lewe hier is duidelik terwyl ons verby verskeie plaaslike inwoners te voet of op hul bromponies ry. Almal waai vir mekaar. Hulle blyk voortdurend te glimlag. Vreemd, het ek aanvanklik gedink – totdat ek hulle beter leer ken en verstaan het waarom daar geen rede vir ellende hier is nie.

Ons is op pad na Mourouk, ’n kusdorpie op die ­suidoostelike deel van die eiland en die tuiste van ’n Kreoolse styl hotel, reguit uit jou drome.

Die Mourouk Ebony Hotel sit knus teen ’n heuwelagtige landskap en kyk uit op ’n groot, turkoois strandmeer wat skerp kontrasteer met die dieper blou van die see wat ’n menigte onbewoonde eilandjies huisves. Waaiers beweeg lui hoog bo in die dak van die ontvangs en sitkamer. Ná ’n hartlike verwelkoming word ek na my kamer vergesel. Afgesien van tien losstaande huisies is daar 30 hotelkamers. Alle kamers is toegerus met lugversorging en dakwaaiers, en suite-badkamers met ’n stort, en ’n minikroeg.

Van jou private terras af het jy ’n ononderbroke uitsig op die see. Die hotel is ’n paradys vir gesinne, met aktiwiteite soos boogskiet, kajak, duik, snorkel, strandvlugbal, tennis, vlieërs en seiljagvaart, sowel as binne-aktiwiteite soos biljart en ’n televisiekamer. Die kamertariewe is verbasend bekostigbaar per nag per persoon wat deel op ’n aandete-, bed- en ontbytbasis (insluitend ’n glas wyn by aandete).

Maar nou is ek eers op pad om die wonderlike seeskilpaaie van Rodrigues te gaan ontdek.

Die sustereiland Mauritius was vroeër oortrek met digte, inheemse woude en het gewemel van dier- en ­voëlsoorte, waarvan baie heeltemal uitgesterf het. Terwyl ek tussen die reuse-skilpaaie in die François Leguat Giant Turtle and Cave Reserve stap, voel ek of ek teruggaan in tyd en Rodrigues ervaar soos wat dit meer as 300 jaar gelede moes gewees het, voordat dit verwoes is deur die mens se teenwoordigheid.

Ek is betower deur hul hoofnatuurbewaarder, Orel, se passie en vasberadenheid om hierdie pragtige omgewing weer tot sy reg te laat kom. “Daar was honderdduisende skilpaaie hier, dit was soos plaveisel van skilpaaie!” sê hy. Maar die ontdekkers van Rodrigues het hulle geëet – almal van hulle.

Die hoofaantrekkingskrag hier is nou die reuse-skilpad wat as die Aldabra-spesie bekend staan, geneties die naaste aan die lank uitgestorwe skilpaaie wat hier gewoon het. Babaskilpaaie word hier uitgebroei en getoë en die Mauritius Wildlife Foundation se personeel is ook besig om uitheemse plante uit te roei en te vervang deur inheemse spesies.

Op pad terug na die hotel vertel JP my ’n bietjie oor die geskiedenis van hierdie verstommende eiland. Dit het tussen 1,3 en 1,5 miljoen jaar gelede ontstaan uit vulkaniese aktiwiteit en die eiland – 18 km lank, 8 km breed – is die kleinste van die Maskareense eilandgroep. Dis so 560 km oos van Mauritius en die getal inwoners hier is na raming ongeveer 38 000. Die taal is oorwegend Kreoolse Frans.

Rodrigues kry sy naam van sy “amptelike” ontdekker, die Portugese ontdekkingsreisiger Diego Rodriguez.

Die eerste setlaars wat in 1691 hier voet aan wal gesit het, was sewe Franse Hugenote gelei deur François Leguat – hy van die skilpaaie. Die Britte het in 1809 besit van die eiland geneem.

Die gety kom in terwyl ons terugry en mettertyd word ’n sagte groen-blou tapyt delikaat oor die swart vulkaniese sand gelê. 

Ná ’n middagslapie word ek gewek deur strelende, tropiese kitaarklanke. Dit is skemer. Ek stap uit op my balkon en die sagte, vogtige, geurige naglug omvou my terwyl die laaste lig oor die kalm see verdwyn.

Dié aand word ons getrakteer op ’n uitstekende buffetete, vergesel van tradisionele musiek en dans.

Die volgende oggend vertrek ons na een van die naburige onbewoonde eilandjies. Ons verken die eiland, geniet ’n braai, swem in die jenewer-helder water en verlustig ons heeldag in die luilekker eilandlewe.

Die volgende dag neem Sandrine van Rodrigues Toerisme my per boot na Ile aux Cocos, ’n voëlheiligdom. Die wit en grys wolke speel op die water, afwisselend saam met die blou lug wat tussendeur dramatiese verskynings maak. Die glansende oppervlak van die see verander van kleur tussen dié van gesmelte kwik en toermalyn. Die blou-blou water is kristalhelder, soos ­Ernest Hemingway se gedagtes op ’n seldsame nugter dag.

Ons gids Annabelle vertel ons daar is 45 000 voëls op die eiland, bestaande uit verskeie spesies, en nie almal is ’n bron van vreugde vir die toeriste nie – wanneer jy niksvermoedend te na aan hul neste kom, doen hulle amper ’n Hitchcock op jou!

Ek bestee die volgende oggend meegevoer deur die wonderlike aantreklikhede, klanke, kleure en geure van die weeklikse Saterdagmark in Port Mathurin. Jy kan enigiets hier koop – van materiaal, klere en plaaslike kuns tot die varsste vis en ander vars produkte, insluitend die wêreldberoemde Rodrigues-heuning.

Met middagete het ons ’n lieflike uitsig oor die water by Marmite des Iles, waar ek die beste knoffelrige garnale eet wat ek nog ooit in my lewe gehad het.

Daardie aand word ons bederf met ’n tradisionele sang-en-danskonsert by ’n nabygeleë klub.

Lulu, die klein maar sjarmante en skreeusnaakse eienaar van die klub, stel my op die verhoog op my naam voor aan al die gaste of ek een of ander beroemde glanspersoon is en ek verstik amper aan my heerlike émincé van beesvleis. Die volgende dag slaap ek lekker laat en dan is dit middagete by die pragtige en uitsonderlike restaurant Le Tropique.

Die geure en smake uit ’n tipiese kombuis is fantasties: ’n cono (skulpvis)-slaai, tradisionele koringsop, gestoomde krap met Oosterse speserye, seekatkerrie op ’n bed van koring, vark gaargemaak in heuning, gekookte ham met fyn kruie, cabri sauteur (boerbok ) met plaaslike speserye of hoender met gemmer en borrie. En vir nagereg, ’n papajasorbet, ’n snytjie klapper-en-heuninggebak of selfs ’n tradisionele koringpoeding.

Lekker!

Op my laaste dag in hierdie wonderlike plek seil ons aan boord van die Ariel, ’n katamaran waarvan die kaptein en eienaar ’n kêrel genaamd Marlon is, na nog een van die onbewoonde eilandjies. Hy en sy familie het meer as drie jaar gelede van Kaapstad hierheen getrek. “Ek het nog nooit terug- gekyk nie,” sê hy met ’n breë glimlag.

Ná ’n dag van son, piekniek en baljaar sien ek op teen my naderende vertrek. Ek wil die horlosie gryp en tyd tot stilstand dwing. Die volgende dag, terwyl ek op die lughawe wag om terug te gaan na stres, besoedeling, oorverdowende tegnologie en algemene chaos, is daar ’n fluisterstem in my kop wat al hoe harder word. Hy sê:  “Nog nie, nog nie...

Rodrigues is joie de vivre.

Gaan kyk gerus hoe dit gedoen word.

) Jo Kromberg was die gas van Rodrigues-toerisme en het met die vergunning van Air Mauritius via Mauritius na Rodrigues gevlieg. Baie dankie aan Jean-Paul, Sandrine, Moilien, Lulu en al die ander wonderlike mense wat hierdie reis een van die hoogtepunte van my loopbaan gemaak het.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
52% - 273 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
48% - 251 votes
Vote
Rand - Dollar
19.24
-0.2%
Rand - Pound
23.86
-0.7%
Rand - Euro
20.53
-0.4%
Rand - Aus dollar
12.41
-0.3%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
916.30
-1.6%
Palladium
1,002.50
-1.3%
Gold
2,302.27
-1.1%
Silver
26.95
-0.9%
Brent Crude
87.00
-0.3%
Top 40
67,762
+0.4%
All Share
73,709
+0.2%
Resource 10
59,132
-3.0%
Industrial 25
102,584
+1.5%
Financial 15
15,820
+1.3%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE