Share

Tintswalo: 'n Stukkie hemel tussen die wild

Om langs die vlieënier van ’n private Blackhawk Air-vliegtuig te sit, is nie almal beskore nie, maar vandag het ek daardie geleentheid. Met die Toerisme Indaba in Durban, vlieg ons van Lanseria, Johannesburg, na Durban om nog vier mense, onder andere Ernest en Gaye Corbett, eienaars van die Tintswalo-groep, op te laai en van daar vlieg ons na Hoedspruit, skryf Corlet Grobler.



Vanaf Hoedspruit neem dit sowat ’n uur tot by die Tintswalo Safari Lodge. Vir die volgende twee nagte is hierdie vyfster-lodge, geleë in die Manyeleti-private wildreservaat, my tuiste. Dié reservaat van 27 000 ha vorm deel van die groter Krugerwildtuin aan die oostekant, die Timbavati-reservaat in die noorde en die Sabi Sands-reservaat in die suide.

Die hoofgebou is smaakvol gemeubileer en die dekor is fyn beplan en wek ’n gunstige indruk. Ek wonder of die suites dit enigsins sal kan oortref.

Daar is ses suites en een president-suite, almal vernoem na ontdekkingsreisigers uit die 19de eeu. Van die Baker-suite tot die Kingsley-, Livingstone-, Burton-, Speke-, Stanley- en Baines-president-suite is elkeen uniek gemeubileer volgens sy naam. Die vyfster-suites is op die oewer van die seisoenale Nwaswitsontso-rivier geleë.

Ek gaan tuis in die Speke-suite en toe die groot handgekerfde houtdeur voor my oopgly, begroet outentieke dekor my. John Hanning Speke, ’n ware heer, was een van die reisigers wat op soek was na die oorsprong van die Nyl. Sy suite bied gemak en is uiters privaat en ruim, om nie eers te praat van die pragtige houtmeubels en dekor nie. Die stort se groot glasdeur maak na buite oop en ’n houtdek lei na die plonspoel. Die blou water van die plonspoel lyk baie aanloklik, maar dit is effens koelerig en ’n middagwildrit wag.

In die hoofgebou kreun ’n groot houttafel onder al die eetgoed. Peuselhappies, soet en sout, staan die hele tafel vol.



Darren, my gids, wag by die voordeur. Die wildrit lewer ’n paar interessante diere op. ’n Olifantbul maak sy verskyning uit digte bosse en loop rustig langs die voertuig en smul aan die gras. Dan gewaar ons ’n hele klomp aasvoëls in ’n droë boom. Ons vat ’n klein kronkelpaadjie in die rigting van die boom, net om sowat agt leeus aan ’n buffelkarkas te sien smul.

Die maanhaar lê eenkant, dik gevreet en het homself natuurlik weer eerste by die buffet gehelp. Wyfies en welpies is steeds besig om te vreet en dit is ’n gegrom en tande wys om die beste plek met die sagste vleisies uit te soek.

Skemerkelkies in die Bosveld met ’n groot oranje son wat in die weste sak, is altyd die heel lekkerste, want ’n perfekte dag in Afrika kom tot ’n einde en maak plek vir die nagdiere om hul verskyning te maak.

By die lodge staan die kospotte en prut in die boma. Vanaand eet ek myself trommeldik, dink ek toe ek die beesstertpotjie gewaar. Maar daar is net te veel om van te kies, ’n ietsie van alles kan mos nie skade doen nie. Die kos is baie lekker en ek voel soos die leeumannetjie van vroeër.

Laatnag stap ek met die houtdek langs na my suite. Naggeluide vul die koel lug. Vergenoegd klim ek in die ekstra groot bed, maar spring met ’n boog uit die bed en amper dwarsdeur die muskietnet. Daar is iets harigs in my bed. Met bonsende hart en ekstra stadig waag ek dit deur die muskietnet. Lig die beddegoed versigtig dakwaarts en ek moes seker geweet het dit is net ’n warmwatersak wat daar skuil, maar ’n mens kan nie te versigtig wees nie, probeer ek myself kalmeer.

Vir die oggendwildrit en beman met ’n kombers vaar ons die wildernis in. Sebras, rooibokke, vlakvarke en olifante word gewaar. Om die volgende draai staan ’n gedekte tafel in die middel van die bos met pannekoek gevul met piesang en donker sjokolade wat saam met ’n heerlike warm sjokoladedrankie en ’n sopie Amarula bedien word om die effense oggendkoue te verjaag.



Terug by die lodge is dit tyd vir ontbyt. Daarna bestee ek tyd saam met die eienaars, Ernest en Gaye Corbett. Die egpaar vertel my van al hul avonture oor die jare, asook hoe die lodge tot stand gekom het. My suite se bed lyk aanloklik, maar dan gaan lê ek buite langs die plons-poel op een van die sonstoele. Pragtige voëlsang vul die lug. Ek hoor ’n sagte geritsel in die blare, draai my kop effens boswaarts en sien ’n bosbokooi wat vlak langs die dek kom inloer. Ek lê doodstil en ná ’n rukkie stap sy rustig verby en verdwyn in die bosse, net so vinnig as wat sy verskyn het.

Vanmiddag is daar net twee jong leeumannetjies by die buffelkarkas. Hulle speel en rol soos kinders oor die gras. Die een spring op die ander se rug en dan val hy weer met ’n harde slag op die grond en gee sy broer ’n klap met sy yslike poot.

Met skemerkelkies vanaand onder ’n groot ou boom staan ek en gesels met Erick, ons spoorsnyer.

Meteens hoor ons ’n geritsel agter ons in die bosse, en ons draai gelyktydig om. Tot ons verbasing staan ’n jong hiëna vlak agter ons. “Hy kom soek seker ’n bier of brandewyn en Coke,” spot Erick.

Net voor die lodge kry ons ’n groot verrassing. ’n Luiperdmannetjie stap luilekker in die pad en ná ’n rukkie gaan lê hy langs die pad en raak aan die slaap. Die kameras op die voertuig werk oortyd, en met goeie rede, want dit is mos nie aldag dat ’n mens hierdie besondere kat gewaar nie.

Natuurlik is die luiperd en ongenooide gas by die skemerkelkies vanaand se hoogtepunte om te bespreek tydens aandete. Aandete word in die lodge se spoggerige eetkamer bedien.

By Speke wag daar ’n heerlike skuimbad. Roosblare lê op die bed, die vloer en in die bad. Ek wonder of Speke dalk vroeër hier was. Sou dit nie wonderlik gewees het om hom te ontmoet en ’n paar van sy staaltjies te hoor nie.

My tyd loop vinnig uit by Tintswalo Safari Lodge en kort voor lank is dit terug Johannesburg toe met die private vliegtuig. Ek dink die ontdekkingsreisigers sou in hul noppies gewees het met hierdie pragtige lodge. Natuurlik sal mnr. Speke my altyd bybly.


"Tog net nie nóg 'n toeris nie..." Foto's: Corlet Grobler

Tintswalo at Waterfall


Pragtige uitsig by "Tintswalo at Waterfall",  noord van Johannesburg.


Dit is Vrydagmiddag en ek en my niggie Adelle Müller is op pad na Tintswalo at Waterfall, ’n eksklusiewe vyfster-boetiekhotel in die hartjie van Kyalami, noord van Johannesburg.

Luuksheid is aan die orde van die dag en ek kan nie glo ons is slegs ’n klipgooi van die besige stadslewe nie. Die hotel is ontwerp as ’n tipiese skuur, met dik klipgepantserde mure, groot oop ruimtes en swaar geboute timmerhout-dakkappe.

Die hotel het 16 luukse kamers wat uitkyk oor die oorspronklike poloveld, dam en die mooi Magaliesberge. Elke suite se dekor is gegrond op die kleure en kenmerke van spesifieke perderasse, onder meer Clydesdale, Lipizzaner, mustang (Amerikaanse wildeperd), palomino (goudkleurige perderas), Arabier en Shetlandse ponie, om maar net ’n paar te noem.

Die Basuto-kamer, ons tuiste, is smaakvol gemeubileer met twee enkelbeddens soos vooraf versoek. Toe ek die badkamer se groot houtdeure ooptrek, begroet ’n uiters ruim badkamer my. ’n Dubbele wasbak, aparte toilet en ekstra groot instapstort. Die verhitte handdoekrelings is beslis ’n trekpleister, veral noudat die luggie ’n effense knyp in het.

Adelle staan reeds op die balkon en neem foto’s van die pragtige uitsig. Ek maak myself tuis op een van die gemaklike leerrusbanke. Hier kan ek sommer heeltyd sit. Met skemer in aantog raak die liggies meer en meer. Die uitsig raak nou net mooier.

Aandete en ontbyt word in die restaurant bedien en die kos is met moeite voorberei. Voorwaar ’n heerlike ontspanne manier om die naweek mee te begin.

goed om teweet

*  Tintswalo Safari is in ’n malariagebied geleë en voorsorg moet getref word.
*  Die lodge is ongeveer vyf uur se ry van Johannesburg.
*  Daaglikse vlugte na Tin­tswalo se eie landingstrook of na Hoedspruit of Nelspruit is beskikbaar.
*  Gratis Wi-Fi is in die hoofgebou se sitkamer beskikbaar.
*  Daar is ’n spa wat vir ’n lekker bederf sal sorg.
*  Tintswalo Waterfall spog met ’n spa, ’n biblioteek en volledige gim.
*  Die hotelkamers het onder meer gratis Wi-Fi, ondervloerverhitting, ’n mini-kroeg en ’n televisiestel.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
65% - 492 votes
No! It's time to move on ...
35% - 264 votes
Vote
Rand - Dollar
19.01
+1.1%
Rand - Pound
23.79
+0.7%
Rand - Euro
20.40
+0.8%
Rand - Aus dollar
12.40
+0.7%
Rand - Yen
0.12
+1.2%
Platinum
925.50
+1.5%
Palladium
989.50
-1.5%
Gold
2,331.85
+0.7%
Silver
27.41
+0.9%
Brent Crude
88.02
-0.5%
Top 40
68,437
-0.2%
All Share
74,329
-0.3%
Resource 10
62,119
+2.7%
Industrial 25
102,531
-1.5%
Financial 15
15,802
-0.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE