See, natuurlik die Berg, natuurskoon so ver die lekkerbekkige oog kan sien, ’n pikturalestet HAT ode aan die welvaart. Seker, ja seker, moet elke stad sy mooi kant vir die wêreld kan uitstal, tog?
En as ’n mens die politieke smouse moet glo, werk álles, wragtig alles, in dié land duskant die Tonnel beter as in die wêreld aan die gatkant van die Groot T.
Nogal vir almal ook.
So, wie het vergeet om ook vir hom die bemarker se glansbrosjure in die hand te stop? Of die hol verkiesingsbeloftes en drome van stof aan sy ma te verkwansel?
Hom het ek al ’n keer of wat teen die pad onder ’n brug sien sit, voorverlede Sondag weer, dié seunskind. ’n Jaar of 12, skat ek hom. Halfpad onderweg huis toe het ek dié keer uit die taxi geklim.
Wat sou sy storie wees?
Hy praat nie met vreemde mense nie, het hy gemaan.
Later: Hy wag op sy ma, sy kom nou-nou. Gaan jou ma op 7 Mei stem? het ek gevra. Hy’t sy skouers opgehaal. Het sy ma ’n ID? Hy’t op die rugsak onder sy arm geklop. Sy ma se pampiere, en syne.
Waar woon hulle? Hy’t sy arm in ’n wye boog geswaai. Orals. En nêrens. Dis mooi hier, het hy gesê, die baie bome, en dis veiliger so in die oopte. Hulle het ’n huis gehad, iewers anderkant die N2 waar die huise soos ou mans skouer aan skouer al sugtende teen mekaar aanleun.
As een huis brand, brand die hele lot af. En dan het die mense nóg meer niks as die niks wat hulle gehad het.
Little boxes on the flatlands, little boxes made of ticky-tacky...
“Saam vat ons Suid-Afrika vorentoe” en “Saam vir verandering” gil dit van die lamppale aan die oorkant van die pad.
Onder dié plakkate een waarop ene biskop Kalkop sy verlossingsboodskap aan die wêreld verkondig.
O geloof, o geloof wat so baie moet dra...
Julle is ver van die huis, het ek vir die kleine swerwer gesê. Nee, het hy geantwoord, hulle woon nou hier. Sy arm het weer ’n wye boog gemaak. Sy ma sê dit sal môre beter raak. Die hoop in sy stem het my hart laat kramp.
Gaan weg, het ek later in die week vir die stemwerwers van die strydende partye hier gesê. Praatjies vul geen gaatjies, tog?
Ek het hom nie weer gesien nie, daai seunskind. Dalk swerf hy nog die strate vol, op soek na ’n beter lewe. Of dalk is hy en sy ma terug na hul Kaap in die diepste skaduwee van die Berg.
Daai Kaap, wat meestal kwalik raakgesien word.