Beskerm dit ons eiendom of ons spraakvryheid na behore? Word daar genoeg gedoen om te verseker dat die regering aanspreeklik gehou kan word vir sy mislukkings in behuising, onderwys en gesond-heidsorg? Word die publiek voldoende beskerm teen misdadigers – en misdadigers teen die polisie?
Ons onderonsies oor hoe sekere aspekte van die Grondwet geïnterpreteer moet word, is gewoonlik ’n weerspieëling van uiteenlopende idees oor presies hoe ’n goeie samelewing behoort te lyk, en watter rol die staat moet speel in die skepping van so ’n samelewing. Die uitdaging lê natuurlik daarin dat die onderliggende sienings van wat ’n goeie samelewing behels, dramaties kan verskil.
Selfs wanneer sulke sienings min verskil, kan verskillende soorte regte steeds bots. My reg op vryheid van spraak, byvoorbeeld, en jou reg om nie beswadder te word nie... Baie van dié kwessies bly dalk vir altyd onopgelos en onoplosbaar. Hulle staan met wortels diep in goed bewaakte filosofiese en politieke verpligtinge, om nie eens te praat van die strydende belange en passies van die betrokke partye nie.
By sulke geleenthede is dit oorweldigend waarskynlik dat die regter wat ’n saak aanhoor – nes ek en jy – ’n standpunt gaan inneem wat minder gegrond is op argumente van albei kante en meer deur ’n oorkoepelende beginsel bepaal word. Daardie beginsel word dan die lens waardeur botsende belange gesien word. En tot hier toe is dit ’n ou bekende – en verslete – debat.
Maar nou, in sy nuwe boek, Justice: A Personal Account, stel regter Edwin Cameron van die konstitusionele hof ’n betreklik anderse en moontlik diepgaande beginsel voor waarmee grondwetlike geskille besleg kan word.
Die boek is deels memoires, deels ’n geskiedkundige rekord van die wetstoepassing van die konstitusionele hof. Wat voorop staan, is die gevoel van wat dit is wat Cameron se verhouding met die Grondwet inkleur: Die belofte wat dit inhou – eksplisiet én onuitgesproke – is dat dit gebruik kan word om dié (baie) dinge reg te maak wat daartoe kan lei dat mense minderwaardig en vernederd kan voel.
Deur sy ervarings van sielsdiepe beskaming – hetsy weens die armoede van sy kindertyd en sy ouers se alkoholisme, die ontwaking van sy seksualiteit en, later, toe hy MIV opgedoen het – bied hy ’n visioen van ’n grondwetlike bestel wat deernisvol en verwelkomend is, een wat dit die plig maak van elkeen in die samelewing om so goedhartig te wees as wat moontlik is.
Dit is so dat ’n neiging om te fouteer aan die kant van goedhartigheid nie sommer die grondslag van openbare beleid sal vorm nie. Maar jy kan slegter besluite neem as om goedhartigheid te gebruik in die oplossing van taai grondwetlike vraagstukke.