The Ultimate Braaimaster:
Donderdae om 20:30 op e.tv.
“I stayed a month in South Africa,” skryf P.J. O’Rourke in sy boek Holidays in Hell. “I travelled five thousand kilometres, talked to hundreds of people and came back with a two-word answer: they’re drunk.”
Ons weet natuurlik dis onwaar. Ons gryp nie na drank sodra ’n probleem opduik nie. So, wat doen Suid-Afrikaners dan rêrig as hul ekonomie in duie stort, die wêreld teen hulle draai, sosiale geweld handuit ruk en hul regering ’n verleentheid word? Hulle braai.
Die feit dat die ganse braaitradisie ontstaan het – en steeds wentel – om die feit dat ons mense ook ’n ietsie wil eet terwýl hulle drink, beteken nie daar is iets fundamenteels fout met die tradisie nie.
Suid-Afrikaners hou ook baie van ander buitelugaktiwiteite wat nie te veel moeite verg nie, soos om op lilo’s te lê met ’n skemerkelkie in die hand, inry toe te gaan met ’n carry-pack in die kattebak en rugby te kyk met ’n sak vol lemoene wat met brandewyn gedokter is.
Dit beteken ook nie ons steek by die res van die wêreld af as dit kom by binnenshuise aktiwiteite wat nie noodwendig om drank draai nie (hoewel dit soms wel ’n rol kan speel). Ons hou daarvan om braaiwors in die kombuis voor te berei vir die middag se sosiale verrigtinge met ’n vinnige knertsie hardehout. Ons hou graag met ’n glasie rooiwyn omhoog deur die sitkamervenster toesig oor die tuinhulp en ons hou baie van TV kyk met ’n yskoue vodka en limonade byderhand.
Omdat braai en TV kyk so ’n ontsettend belangrike rol in ons lewe speel en omdat die TV-spyskaart deesdae grootliks bestaan uit getatoeëerde mense wat op mekaar skreeu en kookprogramme soos MasterChef, was dit seker onafwendbaar dat iemand een en een sou bymekaarsit. Die gevolg is The Ultimate Braaimaster.
So opgewonde was die vervaardigers dat hulle eerste met die idee vorendag gekom het en soveel vertroue het die netwerk-bestuurders in die vervaardigers gehad dat almal egter vergeet het dat daar ’n baie basiese verskil is tussen self braai en braai KYK. Selfs toegewyde braaiers sal erken ’n braaiery is bra vervelig as jy nie self daar is met ’n dop in die hand nie.
(Nie-Suid-Afrikaners kan gerus daarop let dat die dop nodig is om die verveling uit ’n braai te haal en nie omdat ons aan die inhoud van ons glase verslaaf is nie.)
Die oplossing vir die innoverende TV-vervaardigers was om hulle te wend tot ander gewilde programformules – soos The Amazing Race.
Deur die ouens teen mekaar te laat braai, ’n kompetisie te maak daarvan met deadline en al, word die aandag briljant afgelei van die nugter realiteit dat ’n braai eintlik maar altyd net ’n braai bly – ’n feit wat ’n paar aspersies langs die boerewors en tjops nooit sal verander nie. Selfs al wissel die agtergrond van Tsitsikamma tot Hermanus en probeer die aanbieder – die selfaangestelde buitebraai-celeb en algemene altyd-in-die-Kodak-oomblik-ou, Justin Bonello – ook hoe hard om ons anders te laat glo.
Baie van die spanning in die program hang dus af van of TV-gehore die vervaardigers kan betrap dat hulle meer van ’n braai probeer maak as wat dit eintlik is. In een program beskryf ’n beoordelaar slinks Monkey Gland-sous as ’n classic en praat gedurig van chateaubriand pleks van ’n gewone sirloin, terwyl Carl Orff se Carmina Burana op die agtergrond dawer. “Today,” sê ’n ander een, “is all about the texture of the sauces.”
Daar is ook die gewone realiteitsprogram-strawwe soos om van die Bloukrans-brug af te bungi-wip terwyl die vervaardigers besef die duiwel is in die detail: klein goedjies soos Afrikaanse onderskrifte vir nie-rooitaliges en om beoordelaars sorgvuldig te kies – mense wat geset genoeg is om as geloofwaardige vleiseters voor te kom.
Elemente van Comedy Central word ook ingeweef, hoewel nie altyd ordentlik deurgevoer nie. Hulle draai byvoorbeeld weg net voordat ’n jong dame klaarblyklik ’n lepel room in die een ou se loodgietersgleuf wil druk.
Alles baie classy en klassiek en daarop gemik om ons ons braaikenne omhoog te laat hou. Met of sonder ’n chateaubriandy-en-Coke.