Drie vrae:
1. Word jy betaal om elke week nonsens te skryf?
2. Wat is jóú storie?
3. Is dit problematies as ’n mens ’n verstelling aan ’n swembadpomp verander sonder om die pomp eers af te sit?
Dr. Jani antwoord:
Wanneer die somer weer kom, en ek sit en tik in my undisclosed location, een soos dié van Wlad Poetin of Ed Snowden of ’n Amerikaanse skerpskutter iewers op ’n heuwel in Sirië – wanneer dít gebeur, voel ek asof dit altyd vakansie sou kon wees – soos in daardie boek van Albert Camus waar hulle net swem en olywe eet.
1. Ek word betaal. Maar dis ’n gesukkel om dan en wan kontak te maak met die media-moederskip, al spinnend in sy wentelbaan – soos John Glenn of Laika (arme hond) – doer ver.
Bel ek die ander oggend om te praat met iemand:
“Hy’s in ’n vergadering tot twaalfuur.”
“Ek sal weer bel.”
“Hy’s daarna in ’n vergadering tot halftwee.”
“En daarná? In ’n vergadering?”
“Net so, mevrou. Tot middel-Oktober.”
Seker besig om te koukus oor hoe om Facebook oor te vat of iets.
2. Ek is gebore in die Vrystaat en stel belang in oop eindes. Hou van Karel Schoeman se boeke, maar verstaan nie ’n woord daarvan nie. Het my eks-man in die vroeë 1980’s op die PUK ontmoet. Hy kon ’n rugbybal so mooi uit die lug pluk – en hy was nie eens in die agterlyn nie.
Twee Joolplase en verskeie sêrs later is ons getroud. Helaas – dit het nie gehou tot die vrylating van Mandela in 1990 nie.
Ons is kinderloos, maar deesdae nie meer te woedend vir mekaar nie. (Hy het hoeka netnou hier ingesuiker met tweedehandse boek-aankope: Susan Sontag se On Photography, The Road to Isandlwana en Death of an Idealist: In Search of Neil Aggett.
Hy wil net gou “die internet” kom “gebruik”.)
Ek vra: “Wat gebeur in die dorp?”
My eks-man sê: “ ’n Klant in die winkel het vir een van die verkoopsmense gesê: ‘I don’t want to power up my car, man. I just want to charge my phone.’”
3. Ek sal my swaer Gert moet vra – hy het ’n pHD in Swembaddens, maar ek vermoed alles gaan uitwerk, M’lady.
Die somer kom altyd weer.
Sterkte! En groetnis.