Ons land se hoofprobleem is myns insiens dat daar ’n vertrouensbreuk tussen die regering en die burgery is, omdat die regering nie meer sy deel van die “sosiale kontrak” nakom nie. Dis die “kontrak” waardeur die burgers aan die regering toestemming gee om oor hulle te regeer; hul belasting te verhaal, en aan die owerheid onderdanig te wees. Hierdie kontrak is allermins ’n eensydige blanko tjek. Die regering moet sy deel van die kontrak nakom deur die land goed te regeer; ons belasting verantwoordelik aan te wend; en sy kernfunksies, soos veiligheid, doeltreffend te verrig.
Verval
Die swak regering waaronder ons gebuk gaan, lei egter tot groeiende teleurstelling en oplaaiende woede onder talle burgers. Hoewel die land nog ver van totale staatsverval is, beleef mense daagliks die verval van dorpe, skole, hospitale, staatsdepartemente en selfs provinsies.
Dít lei tot ontnugtering en woede, en dit lyk soms of almal kwaad is: Swart mense is kwaad oor swak dienslewering; wit mense voel die regering regeer die land téén hulle die grond in en dít op hul belastingkoste; sakelui ervaar dat die regering dit ál moeiliker vir hulle maak om besighede te bedryf wat werk skep en belasting betaal; en landsburgers van alle rasse word ál kwater dat die regering hulle nie teen geweldsmisdaad beskerm nie. Boonop glo ál meer armes en werkloses dat die regering en die “rykes” die skuld moet kry vir hul ellende.
Die gevaar bestaan dat die leierskrisis waarin die land verkeer, daartoe kan lei dat ons ’n nasie van verontregtes en gegriefdes word en dat die verdelingslyne van ras en welvaart kan verdiep tot feitlik onoorbrugbare klowe.
Daar is vyf groepe reaksies op hierdie vertrouenskrisis:
* Die onttrekkers: Hierdie mense het nie meer vertroue in die staat nie en leef soos geprivatiseerde burgers wat net na hul eie belange omsien.
* Die landverlaters: Hierdie groep sluit hoofsaaklik die hoogs geskooldes in, wat die land broodnodig het.
* Die opstandiges: Hulle kom ál meer in opstand teen swak dienslewering.
* Die oorlewers: Hulle dryf net saam met die stroom en probeer oorleef.
* Die opbouers: Hulle is lief vir die land en al hou hulle nie van die regering nie, reageer hulle opbouend deur iets aan die probleme te probeer doen.
Belasting
Die oplossing is nie om nog ’n belasting in te stel nie. Die middelklas se netto belasting is reeds die hoogste ter wêreld. Tans betaal 5,7% van die ekonomies aktiewe bevolking 80% van alle persoonlike inkomstebelasting. Die staatsbegroting beloop jaarliks reeds meer as ’n miljoen-miljoen rand. Ons grootste probleem is nie dat die staat te min geld het nie, maar dat soveel geld in die eerste plek uit die hande van burgers geneem word, en dan boonop swak bestee en bestuur word.
Die pad na ’n oplossing is om eerstens die wedersydse vertroue te herstel deur ’n nasionale dialoog wat op skikkings oor knelpunte uitloop.
Die internasionale ervaring wys dat tussengroepvertroue in multi-etniese samelewings nie vanselfsprekend aanvaar kan word nie, maar altyd as werk onder hande gesien moet word. Dit is dus noodsaaklik dat die nasionale vertroue gereeld hernuwe moet word, omdat vertroue met verloop van tyd begin taan, met polarisasie as gevolg.
Daar is egter twee voorwaardes vir so ’n dialoog om te slaag: Die eerste is dat dit nie net in ’n doellose gepraat ontaard nie, maar moet uitloop op ’n ooreenkoms oor knelpunte wat byvoorbeeld die vorm van ’n “pakt” of “opvolgskikking” kan aanneem.
Die tweede voorwaarde is dat die regering nie nasionale versoening moet probeer verskraal tot inlywing by die meerderheid nie.
Wedersydse erkenning en respek is noodsaaklik sodat geen groep soos tweedeklasburgers hoef te voel wat net belasting vir ander se probleme moet betaal, terwyl dié groep se eie belange misken word nie.
Dis noodsaaklik om krisisse soos werkloosheid en swak onderwys op te los, wat veral swart mense so teister. Dis egter net so belangrik om die vraagstukke wat ander groepe knel, soos die groeiende aantal rassewette en die toenemende radikalisering van regeringsbeleid op te los.
Die ANC oorvereenvoudig die probleme in die land as die gevolge van apartheid. Suid-Afrika word geteister deur al dieselfde knellende vraagstukke wat in alle Afrikalande ervaar word, en om net die verlede en ’n bepaalde minderheid te blameer, gaan niks oplos nie. Die oplossing is om eerder te werk aan ’n beter toekoms waarin daar plek vir almal is; waar mense mekaar vertrou; en waar almal deel voel van die land en wil saamwerk om dit ’n beter plek te maak.
Flip Buys is die uitvoerende hoof van Solidariteit.